Jongste aktiwiteit:

Waar siel en liggaam ontmoet

Daar is ‘n bekende gesegde wat lui: “Ek sukkel om liggaam en siel bymekaar te hou. ” Die eenvoudigste, maar een van die diepste lewenswyshede wat uit die Kalahari gekom het, is die ou Boesmangesegde; “Ek moes kort-kort op my hurke gaan sit, sodat my siel my liggaam kan inhaal.”
In net ’n paar woorde word ’n waarheid vasgevang waarmee die moderne mens daagliks worstel. Ons leef vinnig. Ons dink vinnig. Ons reis vinnig. Maar ons siele beweeg nie teen dieselfde pas as ons liggame nie.
Wanneer ’n Boesman hierdie woorde uitspreek, dink hy nie noodwendig aan moegheid nie. Hy praat van balans. Hy verstaan dat ’n mens nie net uit vlees en bloed bestaan nie. Daar is ook ’n innerlike mens wat tyd nodig het om alles wat die oë gesien, die ore gehoor en die hart beleef het, te verwerk. Daarom gaan sit hy soms in stilte op sy hurke – nie omdat sy bene moeg is nie, maar omdat sy siel nog op pad is.
Ek wonder dikwels of dít nie juis is wat ons in ons moderne tyd verloor het nie.
Ons jaag van afspraak tot afspraak. Ons telefone lui sonder ophou. E-posse wag vir antwoorde. Nuus stroom elke minuut in oor ons skerms. Selfs wanneer ons sogenaamd rus, bly ons oë vasgenael op ’n skerm wat nooit stil word nie. Ons liggaam is oral, maar ons gedagtes is nêrens. Ons leef, maar ons beleef nie meer nie. Ons kommunikeer ook nie meer nie.
Die ou Boesmans sou ons gejaagde lewenswyse waarskynlik nie verstaan het nie.
Vir hulle is die Kalahari nie ’n leë woestyn nie, maar ’n plek wat praat. Elke wind dra ‘n verhaal. Elke voëlroep het ’n spesifieke betekenis. Die spore van ’n gemsbok, die voetafdruk van ’n springbok of ’n jakkals. Die sirkel van ’n miskruier is nie bloot tekens in die sand nie. Dit is sinne in ’n boek wat gelees moet word.
Maar om daardie boek te lees, moet ’n mens eers stil word.
Dit is waarom stilte vir ’n Boesman nooit leeg is nie. Stilte is vol lewe. Wanneer ’n Boesman op sy hurke gaan sit, mors hy nie tyd nie. Hy vind tyd. Hy luister na die wind wat deur die grashalms fluister. Hy asem die reuk van droë sand in. Hy hoor sy eie asemhaling. En êrens tussen hemel en aarde sluit sy siel weer by sy liggaam aan.
Hoe anders is ons moderne wêreld vandag.
Ons meet sukses aan spoed. Hoe vinniger jy werk, hoe belangriker lyk jy. Hoe voller jou dagboek, hoe suksesvoller voel jy. Ons spog dat ons nie tyd het nie, asof besigheid ’n medalje geword het. Intussen raak ons al hoe vreemder vir onsself.
Miskien verklaar dít juis waarom soveel mense vandag moeg is sonder dat hulle fisies hard gewerk het. Hulle liggame funksioneer nog, maar hul siele sleep ver agter hulle aan. Hulle glimlag nog, maar die vreugde het stilweg verdwyn. Hulle bereik hul bestemmings, maar hulle onthou nie die reis nie.
Die Kalahari leer mens iets anders.
Daar is geen haastigheid in ‘n kameeldoringboom nie. Hy groei stadig – skaars sigbaar. Tog staan hy eeue later steeds waar hy sy wortels diep in die sand ingedruk het. Die duine jaag nie na mekaar nie. Hulle beweeg met die wind wanneer die tyd reg is. Selfs die son kom elke oggend op sonder om ooit te hardloop.
Net die mens dink hy moet altyd vinniger wees.
Daar is nog ’n betekenis in hierdie Boesmanwysheid. Om op jou hurke te gaan sit, plaas jou nader aan die aarde. Jy voel die sand onder jou voete. Jy raak bewus van jou kleinheid. Jy besef jy is nie die middelpunt van die skepping nie. Nederigheid begin dikwels wanneer ’n mens ophou om altyd bo alles te wil uitstyg en weer leer om naby die grond te leef.
Ek glo dit is waarom die Boesmans nooit die natuur probeer oorheers nie. Hulle weet hulle behoort aan en is deel van die natuur. Die wind is nie hul vyand nie. Die son is nie hul teenstander nie. Selfs droogte is nie bloot ’n vloek nie, maar deel van die ritme van die lewe.
Die Boesmans het nie die aarde probeer onderwerp nie. Hulle het haar gelees soos ’n oop boek, haar gerespekteer soos ’n moeder en in harmonie met haar geleef, nooit in vyandskap teenoor haar nie. Waar harmonie ophou, begin verdeeldheid. Waar die mens homself bo die natuur verhef, verdwyn die vrede tussen mens, dier en aarde.
Miskien het ons hierdie geheim vergeet.
Ons bou al hoe groter stede. Ons ontwerp slimmer masjiene. Kunsmatige Intelligensie beantwoord binne sekondes vrae waarvoor mense vroeër dae lank moes soek. Dit wil voorkom asof vrede al moeiliker gevind word. Hoe meer ons besit, hoe meer wil ons hê en hoe minder raak ons tevrede. Hoe meer ons weet, hoe minder verstaan ons soms onsself.
’n Boesman sal waarskynlik net glimlag en dan weer op sy hurke gaan sit. Hy sal sy hand deur die rooi sand laat gly en na die horison kyk waar die hittegolwe dans. Hy sal wag totdat sy asem rustig word. Sonder om een woord te sê, sal hy ons meer leer as wat baie boeke ooit kan doen, want ware wysheid lê nie altyd in gesproke woorde nie. Dit word geleef.
Ek dink elke mens behoort sy eie plek te hê waar hy van tyd tot tyd op sy hurke kan gaan sit. Vir sommige is dit in sy tuin. Vir ander die see, op ’n berg of ’n stil kerkgebou êrens. Vir my is dit dikwels die uitgestrekte Kalahari, waar die wind nog ou tale praat en die duine die geheue van eeue bewaar. Daar besef ek weer hoe klein ek is, hoe groot God is en hoe kosbaar elke oomblik van stilte werklik is.
Die ou Boesmangesegde: “Ek moes kort-kort op my hurke gaan sit, sodat my siel my liggaam kan inhaal.” is daarom veel meer as ’n mooi beeld. Dit is ’n uitnodiging. ’n Uitnodiging om stadiger te leef. Om die geraas af te skakel. Om weer te luister. Om asem te haal. Om te onthou dat ons nie masjiene is wat net moet presteer nie, maar mense met siele wat ook versorg moet word.
Miskien behoort ons almal vandag, al is dit net vir ‘n paar minute, op ons hurke te gaan sit.
Nie omdat ons liggame moeg is nie, maar omdat ons siele nog besig is om ons in te haal.
—————————–oooOooo——————————
Pieter Mostert [woordtelling = 1082]
Aanhaling:Ek moes kort-kort op my hurke gaan sit, sodat my siel my liggaam kan inhaal.” Uit my persoonlike veldnotas tydens gesprekke met Buks Appelblaar asook my Digbundels:
• Mostert, P. Die taal wat Kaalvoet Praat. 2020: Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edns) Bpk.
• Mostert, P. God die Digter. 2020 HartWood Digital Printing, Midrand, Gauteng.
• Mostert, P. Kalahari-spore. 2020 HartWood Digital Printing, Midrand, Gauteng.

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed