Kosmiese drumpel na môre.
Oktober is die tiende maand van die jaar. Vir die meeste mense is dit bloot nog ’n syfer op die kalender, nog ’n tree nader aan die einde van die jaar. Vir my het die syfer 10 hierdie maand egter ’n groter betekenis.
Wanneer ’n ek in die aand na die sterrehemel kyk, word my eie probleme klein. Daar bo is ’n nimmereindigende uitdyende heelal wat miljoene en miljarde kilometers van ons af lê. Sterre word gebore, brand vir onbepaalde tydperke en sterf. Planete beweeg in hulle bane. Sterrestelsels vorm en verander. Niks staan werklik stil nie.
Die mens se begrip van die heelal het ’n geskiedenis van voltooiing en ’n nuwe begin.
Ons probeer die hemel in getalle vasvang. Ons meet afstande, bereken wentelbane, bepaal massas en tel sterre. Ons deel tyd op in dae, maande en jare. Ons soek patrone omdat orde vir ons betekenis gee.
En dan kom Oktober: die tiende.
Tien het iets van ’n grens. Dit sluit ’n reeks af, soos die tiende tree wat ’n mens oor ’n drumpel neem. Maar in die ruimte bestaan daar geen finale punt waar alles eenvoudig ophou nie. ’n Ster se einde is die grondstof vir nuwe sterre. Materie wat in ’n ster gevorm is, word deel van ’n ander planeet. Die einde van een kosmiese proses is die begin van ’n ander.
Dít laat my aan my eie lewe dink.
Daar is sekere dinge wat ek graag wil voltooi, maar ek is geneig om daaraan vas te hou omdat ek bang is vir wat daarna op my wag. ’n Besluit kan op die einde van die dag die verkeerde besluit wees. ’n Nuwe begin vereis dat ’n mens die bekende agterlaat.
Die sterre leer my iets anders. ’n Ster hou nie sy lig terug omdat sy lewe eendag sal eindig nie. Hy brand terwyl hy kan. Sy einde vernietig nie sy betekenis nie. Dit word die begin van iets nuuts.
Tien is daarom tussen die sterre in die groot heelal nie die einde van ’n reis nie, maar wel die vertrekpunt van die volgende baan.
Een reeks eindig, maar ’n nuwe reeks begin en tussen die twee lê die oomblik waarin ek moet besluit om voort te beweeg.
Tien moet dalk nie as die laaste getal vertolk word nie maar eerder as ’n kosmiese drumpel na môre …
——————————-oooOooo——————————–
©Pieter Mostert
[woordtelling – 389]
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.