Aarde se vernietigende bestaan
Aarde se vernietigende bestaan
sy kreun en trane biggel stortend
oor haar wangplooie, in die dieptes
raas die valle en vloei dan weg
haar hartseer-oorsaak ongekend
in die melkweg se fluweel
waar sy, eens, uitverkore was en geseënd
oorloë het haar wees gelaat
dog haar slagvelde het genees
en littekens versag deur eeue reeds verby,
toe word ’n gaswolk neergewerp
en wis haar kinders uit, vermink,
selfs samurai stomstil verslaan
haar smartkrete oor eter-einders weerklink
millenniums deur het sy hout geskenk
aan ieder en elk wat daarom het gevra
haar spens was oorvol en die vrag kon sy dra,
maar die aanvalle van vandag
laat net kaal sleepsels agter hulle na
en haar dierekinders sterf uit
die voedselketting plek-plek gebroke
onherstelbaar uit haar hart gebuit
gewond, plek-plek reeds afgesterf
bloedklonte knars deur haar longe
as sy hortend, fluitend snak
na suurstof van ’n planeetlewe
deur haar kinders haar misgun,
hul verstop haar lugweë
met vullis; afval, olie vermoor
haar see-dieptes se koraaljuwele
en op land verpletter hulle haar hele bestaan!
©adéle
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 - Digkuns projek