Dolosse
Ons is arm. Wragtig arm. Van die armste mense wat ek ken. Behalwe miskien Ester-hulle en die Mans-gesin. Die Manse is ‘n groot gesin en die dominee gaan laai nou en dan kospakkies by hulle huis af. Hulle moet armer wees as ons want ons kry nooit kospakkies nie. Ons het ook nie kospakkies nodig nie, want ons het altyd genoeg kos. Ek weet nie hoe Ma dit regkry om met R64,00 ‘n maand vir my en Boetie te sorg nie. Seker maar genade (soos sy altyd self sê).
Ma kook bredies met lang souse en ek en Boetie is nie vol fiemies nie. Die gesogste bredie, is die skaapvoorbeentjies met uie en klein aartappeltjies. Ons praat sommer van die dolosse. As Ma hierdie gereg voorberei het, sit ons elkeen met ‘n natlappie aan tafel. Ma het nog nie behoorlik amen gesê nie, dan val ons weg. Eet eers die rys met die lekker sous, gebluste aartappels en sagte vleisies wat afgekook het. Dan word die lymerige beentjies versigtig met fyn vingertjies opgetel, die vleis en lymerigheid afgesuig en murg uitgesuig. Dit is net die geluide van smakkende lippe en suigende monde wat die kombuis vul. Geen ander mens kan hierdie kos saam met ons eet nie: hy sal hom skaam aan die oordaad en oorgawe aan die vreugde van eet. Koningskos, hierdie dolosse.