Jongste aktiwiteit:

Jan en die inbrekers
vir

Jan en die inbrekers

Nou die ander dag kry ek ‘n boodskap van my goeie vriend Jan. Al wat dit lees is: “INBRAAK…ALS OK” Ek skrik my boeglam en sonder om te antwoord vlieg ek daar weg met die spoed van teinduisenddederduiwels en kom so met ‘n hop-skip-en-jump daar by Jan, skreeuende bande en baseball bat gereed. Hier gewaar ek Jan en twee polisiemanne wat doodluiters op die grasperk staan en gesels asof dit ‘n gewone Woensdag is. Ek kalmeer myself en stop so half ordentlik.

Ek spring (minder geweldadig as my ryery) daar uit en sluip vinnig om die vangwa nader. Binne die vangwa sien ek twee knape wat rustig lê en slaap, en ek begin sommer dadelik agterdogtig raak oor die hele situasie. Net toe ek nader staan aan die geselsery groet die polisie en hulle is daar weg.

“Dagsê Tjomma” groet Jan, sy vriendelike self, “Kom in, laat ons koffie maak en ‘n beskuitjie geniet” nooi hy, en stap sommer vooruit die huis binne.

Terwyl Jan die ketel volmaak en aanskakel haal ek solank twee koffiebekers uit en vra, “Vriend, jy laat my skrik, wat het gebeur?”

“Ag nee wat” sê Jan, “Nie veel wat ek nie self kon hanteer nie, maar dankie dat jy so vinnig gekom het. Jy weet, ek is so dankbaar dat ek op jou kan staatmaak. Daai karretjie het seker net so hier en daar grond gevat want jy het darem baie vinnig opgedaag” las hy by terwyl hy ‘n pakkie beskuit oopmaak en sommerso droog een begin peusel.

“Nee twak man, jy sou dieselfde vir my doen, maar dis nou tot daarna toe, hou op om so flippin nice te wees en vertel wat gebeur het” antwood ek half ongeduldig.

“Ja” sê Jan, so deur die kou en sluk. “Hier sit ek toe rustig, pla niemand nie, jy weet mos…hinderlaag lê, lê laag en hinder niemand. Ek sit hier en kyk ‘n her-uitsending van die Leeus teen die Crusders, seker ook ek maar weer lus het vir so bietjie huil”. Jan lag dat die trane loop en ek skud net my kop vir my vriend wat altyd die sonnige sy van ‘n saak sien.

Koffie en beskuit in die hande gaan sit ons toe in die sitkamertjie en Jan vertel verder.

“Mens, jy sal nie glo nie” sê hy.”Ek moes seker maar bietjie geslaap het, want toe ek wakker word is die Leeus wedstryd verby, en ja, hulle het weer verloor, en daar is iets anders aan die gang, en ek is so half deur die dinges van die dutwerk. Dis toe dat ek hoor daar’s ‘n gewerskaf hier in my binnekamer”

“Ja” sê ek, en neem nog ‘n beskuitjie voor Jan almal opeet. “Wat’s dit toe?”

“Man, eers dog ek dis weer ‘n kat. Jy weet die katte kom mos gedurig hier in en dan kan hulle nie uit nie. Die plek was mos eers ‘n garage so daar’s nie vensters nie, dan raak die katte verbibbereerd en begin sommer goed omdop. EK gaan toe in die gang af, maar ek hoor toe stemme en weet hier’s nou moleste van ‘n ander aard”

Met die druk Jan weer ‘n gedoopte beskuit in sy bmond en ek wag geduldig om die res van die storie te hoor terwyl ek die laaste paar slukkies koffie uit my beker drink.

“Ja” sê hy na hy gesluk het. “Ek gewaar toe twee knape wat al te rustig deur my CD’s blaai en na my wynversameling kyk. Nou, Tjom, jy ken my, ek’s nie geweldadig nie, maar moenie met my wyn en my musiek karring nie. Net daar strip my moer heeltemal en ek kry sommerso vanself so bietjie “force” in die onderlyf. Ek spring om en gooi my agterkanon in die deur, laat loop met ‘n nommer vyf, jy ken mos , en druk die deur toe”.

(Vir die wat nou nie weet nie kan ek net vinnig verduidelik wat ‘n nommer vyf dan nou is. Al Jan se winde word geklassifiseer op grond van klank en reuk. Kom ons staan daarby om te sê dat ‘n nommer vyf volpunte sal wees in beide katagorieë sowel as ‘n bonuspunt vir effektiewe vrylating in alle opsigte).

“Jy meen jy verskrik en vergas die bliksems sommerso in een beweging” sê-vra ek en begin lag.

“Ja man, so in een beweging. Hulle kan nie die deur oopdruk nie want ek sit teen die deur en bel solank die polisie. Die gekerm en genies het in ‘n gehoes en gesmeek ontaard, later ‘n geween en ‘n gekers van tande en toe het dit al hoe stil geraak”.

“Seker uitgepass jong. So hoe lank het die mag gevat voor hul aankoms?” vra ek.

“Ek ken mos van die ouens by die stasie en hulle was sommer vinnig hier. Toe ons oopmaak moes hulle ook maar sakdoeke voor die mond en neus hou, maar ons twee kalante lê toe altwee uitgepass op die vloer so al asof hulle deur iets baie erg oorkom is” sê Jan met so ‘n gemaak-onskuldige uitdrukking op sy gesig.

“Janee, my goed kom karring , hier in my plek, ek sal hulle met “chemical warefare” uithaal, hulle moet maar weet” sê hy selfvoldaan. “Nog ‘n vinnige koffie voor ons ry?” vra hy terwyl hy opstaan en amper die bekers laat val van die lag.

“Janee Jan, jy’s ‘n hele flippin army op jou eie” beaam ek sy storie soos ek agterna loop kombuis toe.

 

Grootvissie

Augustus 2017




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed