Jongste aktiwiteit:

Jan en die muise
vir

Jan en die muise

Nou die ander dag, ek verbeel my dit was net voor my Ma se verjaardag, bel ek my goeie vriend Jan. “Dagsê Tjomma” groet Jan ewe opgeruimd. “Dagsê my ou vriend” antwoord ek, en wag so ‘n oomblik, want Jan sukkel so bietjie met die feit dat hy nou aan die ses-en-veertig kant van vyf en veertig is, maar dis nou eers ‘n ander storie. “Gmmmfff!” was sy antwoord.

“Jan, sê my, hoe was die kuier by daai bruinkop nooi toe gewees?” vra ek sommer reguit op die man af, want ons is so met mekaar. “Nee wat Tjom, haar probleempie is sommer vinnig opgelos. Jy ken my mos, ek laat nie gras onder my voete groei nie” lag Jan en ek kan hoor hoe hy skud.

“Nou vertel…” moedig ek hom aan, en so vertel Jan my wat gebeur het.

Jan het die dame met die donkerbruin hare ontmoet in een of ander kos winkel, daar waar mens dinge kan proe, en die twee het toe so al proewend bevriend geraak. Eers was dit ‘n wedersydse ge-boodskappies en stem-notas en daarna het hulle gebel en fotos gestuur en dit was nie lank nie of Jan is genooi om te kom kuier. Nou mense, julle moet verstaan, Jan is ‘n baie opregte mens en kom uit ‘n baie goeie huis, hy slaap in die spaarkamer en hy sê my hulle het net gekook en gekuier en gesels, en ek glo my vriend, sonder twyfel.

Jan vertel my dat hy maar min geslaap het die eerste aand. Hy sê die dame bly iewers op ‘n plot buite ‘n dorp en daar’s muise en goeters in die dak. Die hele nag het hy gelê en luister hoe die ongediertes in die dak kriewel en karring, en nie ‘n oog toegemaak nie. Julle moet weet, Jan is vir min dinge in die lewe bang en hy is baie lief vir diere, maar vir muise en rotte het hy geen tyd nie en glo dat die enigste goeie rot ‘n dooie rot is, en dit sluit sommer ander kaagdiere ook in.

Hy reken hy het die oggend vroeg nog so gelê en luister na die knaagdingetjies toe kom hy op ‘n wonderlike “Janplan” af. So tussen roosterbrood en eiers stel hy toe voor dat hulle die middag braai, en Jan kán braai. (Hy sê altyd hy laaik braai kwaai want hy kán braai). Hy gee toe die dametjie net daar ‘n geldjie en stuur haar dorp toe vir die nodige vleise en wors asook drink- en slaaigoed en sommer ‘n pudding of twee, vir die spesiale dag.

Toe sy weg is kry my vriend ‘n leer in die garage en gewapen met ‘n flitslig bestyg hy die leer en klouter in die plafon. Jan reken die ogies het soos liggies op ‘n snelweg vir hom teruggeloer, maar hy was gereed vir hulle. Hy sê die gebraaide tamatie en uie by ontbyt was net genoeg, en toe hy so ‘n bietjie “force” toepas toe laat loop dit sommer mooi, sommerso in ‘n streep, masjiengeweerstyl. Vinnig is hy toe weer by die leer af en maak die plafon mooi toe en pak die leer weg.

Toe maak die man koffie en begin om ‘n vuur aan te pak en tafel te dek. Hy reken hy staan nog buite, so met die koffie in die een hand en die braaitang in die ander toe gewaar hy dit. ‘n Uittog van bybelse proporsies op ‘n ongedierte vlak. Volgens hom was daar ten minste twintig of dertig muise, ‘n geselskap rotte, ‘n bruin huisslangetjie, ‘n hele swetterjoel ander goggas en spinnekoppe, ‘n swerm vlêrmuise en twee uile. Die spul het sak en pak die huis ontruim en ander, meer welriekende heenkome, te gaan vind.

Toe die dame opdaag het Jan reeds die vuur aangesteek sodat die rook enige onaangename reuke kan verdoesel, maar sy het niks opgemerk nie. Hulle het heerlik gekuier, gedrink en gesels tot laat in die nag en Jan het daardie nag heerlik rustig geslaap. Hy sê hy en die nooi is nog vriende en gesels gereeld, en hy beplan om weer te gaan kuier.

Jan vertel, so in afsluiting, dat sy bekommerd is want sy het lanklaas die uilpaartjie gesien wat in haar dakkappe gewoon het. Jan sê hy het net gesimpatiseer en ontken dat hy enigiets van uile en hul inwoon-gewoontes weet, maar as hy teruggaan sal hy vir haar ‘n uilhuisie bou en iewers in ‘n boom opsit met die hoop dat hulle sal terugkeer. Hy is seker hulle sal verkies om maar die keer buite die huis onder hul eie dak woon.

© Grootvissie

Augustus 2017




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed