Jongste aktiwiteit:

Die mensvreter leeu van Singalamwe
vir

Die mensvreter leeu van Singalamwe

Ek het my militere diens begin op 3 Januarie 1973 by 5 SAI op Ladysmith na ek n vier jaar graad kursus in drie jaar ingeprop het by die UOVS. My studente dae was moelik, ons was nie ryk mense nie, ek moes vakansies gaan werk en later ook na ure en ek moes sou gou as moontlik klaar maak om die studente uitgawes so laag as moontlik te hou. Ek moes vir my eie studies betaal en het nie die sorgvrye dae van ander studente geken nie. Ek wou nog n ekstra jaar gaan studeer maar het net nie fondse gehad nie en besluit om eers my weermag verplgtinge klaar te maak en dan verder te beplan.

Na die basiese opleiding is ek toe gekeur vir offisiers opleiding en het die kursus by die Gimnasuim by Heidelberg voltooi. Na my sou dit verder by Infanterie skool by Oudtshoorn aangebied word. Dit was n taai kusrsus en die kaf is van die koring geskei op die ou weermag manier. Valskerm bataljon was n relatiewe jong bataljon (gestig in 1961) wat nie dienspligtiges opgeroep het nie en eers na basiese opleiding die room by ander eenhede gaan afskep het. So het hy ook sy offsiere gewerf by die gimnasuim en die goedkeuring het n baie strawwe liggaamlike toets en natuurlik die akademie van die kursus ingesluit. Dan moes die offisier die spring opleiding deurgaan wat vir offsiere baie meer streng was as vir gewone troepe. Dit was n maand kursus en ons het dit by Upington gedoen en werklik klippe gekou.

So het ek as peleton bevelvoerder by die Bataljon geland. Diensplig het toe so pas verander van nege maande na n jaar. Ek het besluit op n paar dinge toe ek weermag toe is. Ek wou in n gevegs eenheid wees want vier mure was nie vir my nie. Ek wou leer oor wapens en oorlog en ek wou in die veld wees. Ek wou rang he sodat ek na myself kon omsien en nie onbeperk voorgese moes word nie. Ek het geweet dat na my weermag opleding ek weer opgeroep sou word en dan moes ek in n mate van n magsposisie wees. Nie altyd maklik in die weermag van destyds nie maar dit was moontlik. Die staat het gekom met n aanbod van n ekstra jaar militere diens waarvoor offisiere net soos Staandemag manne sou behandel word maar net diensplig salaris sou kry met dan n uitbetaling van R 3,500.00 na twee jaar. Dit sou my genoeg geld bied om nog n jaar te gaan studeer en Kmdt. Olckers die bevelvoerder het my en drie ander offisiere ingeroep en n aanbod gemaak. Hy sou ons op n Kompanie bevelvoerder kursus stuur by Danie Theronkrygskool Kimberley en dan n maand na Israel om by hulle valskerm manne te gaan leer en die volgende jaar sou n hele jaar grensdiens wees. Salarisse op die grens was hoer en ook sou sy offsiere meer betaal word en volle Staandemag voordele he. Dit het my gepas en ek het daarvoor gegaan met die inskrywing in my leer dat ek nie opgeroep sou word na die twee jaar nie en ook nie by die weermag sou aansluit nie.

Ons was n maand by die Israeliese weermag in die Sinai woestyn en die opleiding en die manier van hoe die mense die konstante konflik in hulle land hanteer het n blywende indruk op my gemaak. Die bevelvoerder was Yoni Netanyau, die man wat die sg. “Entebbe Raid” in Uganda gedoen het toe hulle n klomp gyselaars by Idi Amin loop haal het en hy ook die enigste een was wat sy lewe daar verloor het. Wat die grootste indruk op my gelaat het was die feit dat vrouens saam met die mans presies dieselfde opleiding en soldaat werk as manne gedoen het. Saam gespring en saam in die voorste linies geveg en geen onderskeid is ooit gemaak omdat hulle vrouens was nie. Hier het ek gesien wat werklik van n valskermsoldaat verwag word. Yoni was getroud met Israel, alles wat hy gedoen het was vir sy land en te alle tye was sy land eerste gestel, wonderlike soldaat met n wonderlike motivering agter hom. Hy was die bevelvoerder van n baie spesiale eenheid met sy dood en sy verlies moes hulle hard geslaan het. Hulle kursus is baie taaier as ons sin en Yoni was nie die maklikste bevelvoerder nie, hy het 300% verwag as hy 100% gevra het.

Einde September 1973 was ek terug in ons land en so fiks soos ek nog nooit in my lewe was nie. Tot die middel 1974 was die SA Polisie vir ons grense verantwoordelik maar ons weet almal dat daar van begin 73 al weermag manne veral in die Caprivi was. Ek is toe bevorder tot Kompanie bevelvoerder en Kmdt. Olckers het my soontoe gestuur om te gaan verken en basisse te gaan ondersoek want teen Januarie 74 moes die Bataljon n gevegs kompanie in die Oos Caprivi gehad het. Dit was die begin van my dae by Katima Mulilo en meer die hele oostelike gedeelte van die strook. Dit was die reaksie mag wat vanaf Katima tot by die destydse Babhatha verantwoordelik was vir enige skermmutselings met Swapo. Sy naam was 101 Spesiale Taak mag en dit was my eenheid. Die Verkennings manne of dan die “Reccies” was by Fort Doppies naby Kongola brug wat die grens tussen Oos en Wes Caprivi sou wees en al ons informasie het van Kmdt. Jan Breytenbach wat die bevelvoerder was gekom. Hy sou ook net die informasie gee wat hy wou afstaan. Einde Oktober was ek terug en het die planne aan die betrokke generaals voorgele, ons sou by drie basisse te alle tye wees. Kwando, wat in die Oos Caprivi was en teen die rivier met dieselfde naam gele het, op die Zambiese kaplyn wat ook die grens was. By Sifumna wat ook teen die rivier was maar wes van die rivier op die kaplyn wat dan die mees oostelike hoek van Angola sou wees. Dan sou n reserwe peleton by die lughawe van M’patcha wees wat te alle tye op kort kennis gewing moes optree. Die taakmag sou net ten noorde van die grens in Zambie of Angola optree en glad nie suid nie om konflik met eie magte te verhoed. Daar was verskeie ander weermag eenhede ook teenwoordig. Dit sou n volle taakmag wees met dokters en genie en mortiere en spoorsnyers ens. Daar is onmiddelik begin met die opleiding van die toegevoegde troepe en vir die spoorsnyers is daar n leier seksie gestuur om boesmans op te lei wat toe al reeds jare saam met die die SAPD gewerk het. Dit sou almal manne gewees het wat die Junie inname van 1973 was en dus 18 maande in die weermag sou wees wat dan einde 1974 sou klaar maak. Hulle sou R2,500.00 kry.

In Januarie 1974 sou die taakmag dan ontplooi word vanaf Bloemfontein en dit was die begin van die Bataljon se werksaamhede in die grens konflik. Peletons sou uit vier gevegs seksies betsaan en nie die gewone drie nie en hulle sou toegevoegde en opgeleide magte by hulle he. Patrollies sou uit twee seksies bestaan met n luitenant of sersant aan beheer gevolg deur twee korporaals en twee masjien geweer seksies met onder korporaals, spoorsnyers en radio manne en mediese manne. Dit was byna soos ek dit in Israel gesien het behalwe dat hulle met n volle kompanie gewerk het wat te lomp was in die bos van Afrika. Jammer dat ek die leser hiermee besig hou, dit is net so n klein agtergrond skets waar my grensdae begin het en ook my liefde vir Afrika.

Die gebiede was baie ongerep in die middel sewentigs en groot troppe wild het veral in suid oos Angola en op die Luiwa vloed vlaktes en Barotse land in Zambie voorgekom. Die Caprivi self het baie wild gehad en die boesmans van die deel was vir hulle hele bestaan van die natuur afhanklik. Daar was ander volkere ook soos die Basoebias en die Mafe wat geboer het, maar ons het maar meestal met die Masarwa en die Barakwena boesmans gewerk en baie was ook in ons diens. Hulle het glad nie geboer nie behalwe met honde en hoenders. Rob Kahts was my peleton bevelvoerder by die basis genoem Kwando teen die rivier. Baie na aan sy basis was n ou polisie basis met die naam van Singalamwe en die plek is in 1973 deur Swapo een nag met mortiere uitgeskiet met die verlies van vyf boesmans en twee lede van eie magte wat dan SAPD lede was. Die boesmans het naby weermag basisse kom woon uit vrees vir Swapo en ook omdat baie in ons diens was as spoorsnyers en ook in die kampe gewerk het. Dit was voor die stigting van die boesman eenheid by Omega. Alle spoorsnyers was net soos ons ook met R1’s gewapen en hy het met sy wapen huis toe gegaan en ook met hom vir sy gesin gejag om aan die lewe te kon bly. Dit het ons ook gemaak jag om die boesmans te help oorleef en ook as ons kort geraak het van kos wat maar nooit op tyd afgelaai was nie. Dit was teen die wet maar ons het dit noodgedwonge gedoen.

Rob se boesmans het by die ou basis Singalamwe gewoon wat baie naby sy basis was en een nag het n leeu n vrou daar kom haal en bykans heeltemal opgevreet. Dit was op n nag wat hulle dronk was en eers die volgende more die vangs ontdek het. Hy het my gekontak en die bevelvoerder van 13 Sub Area het ons opdrag gegee om die leeu te gaan dood maak en hy wou die vel he. Ons het met n Alouette gevlieg en gaan kyk of ons nie die leeu sommer met die ding uit die lug kon skiet nie maar dit was te ruig en ek en hy het besluit om die spoor te vat en te volg en dan die leeu so te probeer opspoor. Ons het twee manne saam geneem maar nie boesmans nie want n leeu het hulle baie respek voor gehad. Voor ek Caprivi toe is het ek baie huiswerk gedoen by manne wat al daar was en ek het geweet dat daar baie wild was en veral olifante. Op my eerste dag het ek van Katima af na Sibinda toe gery met n Land Rover en byna n wyfie raak gery wat n tsessebe oor die pad gesleep het. Ek het stil gehou en meteens was my bakkie omring met leeus en hulle was nie vriendelik nie en geensins bang vir my nie. Die Caprivi het groot leeus gehad en veral die wyfies was besonder groot en baie hoog op die been.

Saam met my en Rob was n manskap, Jordaan wat van Kombat in die ou SWA gekom het en die mense was boere en hy het al leeus geskiet en kon baie goed rigting hou, hy was ook n baie goeie skut en spoorsnyer. Dan was daar n korporaal Zondagh wat in die Kruger groot geword het en hy en sy pa het ook al leeus geskiet. Ek en Rob was die manne wat niks geweet het van leeus nie. Ons het gepak soos vir n patrollie en die spoor gevat wat baie vars was en reg noord gelei het in die rigting van die Zambiese kaplyn. Die Caprivi is sand wereld en spore is maklik om te lees en Rob het sy gebied goed geken. Dit was nie net die leeu wat n probleem was nie maar ook Swapo wat maar te bly sou wees om in net vier weermag manne te kon vas loop. Dan was daar ander weermag eenhede in wie se gebied ons kon in loop en dalk in hulle hinderlae vas loop.

Ons het kos en water en slaapsakke en n radio gehad wat ek maar gehoop het sou werk en dan soos gewoonlik 140 rondtes eerste lyn ammunisie. 560 Rondtes moes darem seker genoeg gewees het vir een leeu en die manne het ek geken as die waarop ons kon staat maak. Ons was fiks en jonk en het vinnig op die spoor gevorder wat parallel met die kaplyn geloop het en net soos so vele male daarna het die leeu geweet dat iemand hom nie ongestraf sou laat nie. Hy was ook haastig en het geloop tot by die eeste watergat en daar gedrink en glad nie gele nie en ons is verder op sy spoor en het die hele dag met tussenpose geloop maar dit het vir ons donker geword en ons het op die spoor geslaap. Deur die nag het ons leeus gehoor brul en ek het gewonder hoe ons sou maak as hy by ander sou aansluit. Ook het niemand nog die leeu gesien nie en die boesmans het maar gese dat dit n mannetjie se spoor was en ook die Jordaan man wat leeus geken het.

Wild was redelik volop langs die kaplyn en ons is die volgende more vroeg verder op die spoor en teen nege uur gekom waar die leeu die eerste maal geslaap het en sy plek gemerk het en ook gemis het. Die spore het nog steeds vars gelyk en ons is onverpoos voort tot ons teen namiddag by die kaplyn gekom het wat die grens tussen die Caprivi en Zambie was. Die leeu moes beslis van ons geweet het want by die kaplyn het hy reg noord gedraai en is oor die grens en ons is tot teen die aand op sy spoor maar ons kon hom nie inhaal nie. Volgens Rob se kaart moes ons byna dertig kilometer op sy spoor geloop het en die Jordaan man het gese dat hy sou moeg raak vir ons op sy spoor en later sou wou baklei. Ek moes hom glo want ek het werklik niks van die gedrag en die gewoontes van leeus geweet nie. Dit was net opmerklik dat die leeu aanhoudend geloop het en ek was bang dat ons later inheemse bevolking sou kry wat ons teenwoordigheid kon verklap aan Swapo. Daar was nie mense nie en ons het ook nie spore gekry van mak diere of mense nie en ons het aangehou en as ek later jare daaroor dink dan was ons eintlik simpel. Die leeu was nou in n ander land, nie dat hy dit geweet het of hom sou steur aan grense nie, maar hy was veertig kilometer van ons basis af.

Dit was teen middagete die derde dag wat ons op sy spoor was en volgens Rob se kaart was daar n watergat in Zambie wat standhoudend was en die spoor het soontoe gelei. Dit moes nog ses kilo’s van ons af gewees het en ons het begin wild kry soos ons nader aan die water gekom het. Baie mooi swartwitpense met lang horings en ook taamlik rooibokke en lechwes en soos altyd die tsessebes en koedoes wat met n geblaf voor ons sou wegvlieg en elkeen byna op sy spore laat omdraai. Water sou ook mense beteken en dit was my vrees. Die weste van Zambie was baie yl bevolk en ons het nie geweet van bevolking daar nie maar n standhoudende water ver van ander water af kon beteken dat daar mense kon wees. Ons het besluit om by die water om te draai en terug te gaan tot by die kaplyn en van daar n baken te soek en op die radio te roep vir die Alouette.

Volgens Jordaan was die spore baie warm en sou die leeu by die water wees of dan daar naby. Ons het besluit om meer versigtig te wees en het soos dit goeie soldate betaam sag geloop en op handseine staat gemaak. Watergate het gewoonlik n kaal gedeelte rondom soos dit deur die jare deur diere uitgetrap is en ek het al baie van hulle gesien wat n mens kon goed bekruip tot op die rand van die bome en sorgvuldig kon dophou. Dit was ons doel en ons is verder op die spore wat reguiit water toe gelei het. Daar was ook redelik olifantspore en ander soorte wild wat ek op daardie stadium nie kon lees nie. Soos ons nader gekom het, het die wild spore meer geword en ook het my senuwees meer geraak. Ek was nie bang vir die wilde diere nie, ons het tussen hulle patrollie geloop en baie nagte geslaap, hulle was nie my probleem nie. Ons het niks geweet van die plaaslike bevolking in Zambie nie en het nie eens n tolk gehad nie en sou die mense glad nie verstaan as ons sou mense opspoor nie.

Ek kon in die verte sien dat die bome meer groen was en dit moes die water gewees het, die vloedvlaktes van Zambie is baie gelyk en n mens kon ver sien. Dit was ook nie so ruig soos in die Caprivi nie en ek het probeer n militere plan beraam soos ek geloop het. Bome was groot en so tien of meer meter van mekaar af met die gras tussen in en nog steeds die grys sand wat nooit ophou nie. Steeds het ons geen teken van beskawing gesien nie en ek het myself probeer wysmaak dat as daar mense was moes ons tekens gesien het. Daar was verskriklik tsetse vliee wat ons nie in die Caprivi gehad het nie maar wat ek al langs die Luiana rivier teegekom het in Angola. Die leeuspore het reguit gelei na waar ons gedink het die water moes wees en ons het die ruie kol bome baie versigtig bekruip al op die spoor met n effense windjie in ons guns. Ons het op die rand van die bome gekom en voor ons het die gat gele wat nie wyer en langer as vyftig meter was nie. Daar het n klompie rooibokke gedrink maar ons kon duidelik sien dat hulle onrustig was. Hulle het na ons linkerkant toe gekyk en ons kon nkis sien nie. Die grond was hard getrap rondom die gat en die leeu moes daar gedrink het. Ek en Rob was verbaas dat hy so ver geloop het en nou in n ander land ver van die vangplek gewees het. Hy moes daar naby gewees het want die rooibokke kon nie verniet so onrustig gelyk het nie.

Daar was omtrent n sestig meter oop grond rondom die water waar byna niks gegroei het nie en n mens sou nie kon spoorsny daar nie weens die harde modder. Ek wou graag die leeu dood he en sou gou as moontlik weer oor die grens in die Caprivi kom, ek het nie kans gesien om met die manne op n leeujag in Zambie te slaap nie. Ons het sit en planne maak. As ek nou moes op die rooi mat verskyn oor iemand op n leeujag in n vreemde land seergekry het sou dit vir my laat in die aand geword het. Daarby het die bevelvoerder my mooi gemaak verstaan dat hy die vel wou he en ek nie sonder die vel by hom moes aankom nie. Ek sou op die spoor loop na die water toe en hulle sou op die rand en effens in die bome loop om die gat en hulle moes my te alle tye kon dek. Die leeu moes baie naby gewees het en iemand sou hom opjaag of sien. Hulle moes ook vir spore kyk in die sand en ek sou maar min sien op die harde modder.

Ek het oop en bloot na die water aangestap en gewonder of daar nie n Swapo hinderlaag gele was nie. Die spore het op die harde modder weggeraak en ek het maar noukeurig rond gekyk en toe gewaar ek sy stert wat swaai waar hy le en slaap oop en bloot anderkant die water op die rand van die bome in die skaduwee met sy rug na my toe en sy kop wat na my linkerkant toe wys. Ek het op my knie gaan sit en hom tussen die blaaie geskiet op veertig meter en sy rug afgeskiet en hy het net gele en knor en byt en met sy agtervoete probeer opstaan maar hy kon nie. Sy kop het heen en weer op die grond gestamp en hy kon nie opkom nie. Omdat ek die naaste was wou die ander manne nie skiet nie en ons wou ook so min as moontlik skote skiet en nie ons posisie weggee nie. Ek kon onmiddelik sien dat sy rug af was en hy nie sou kon storm nie en ons het n rukkie gewag en ek het nader gestap. Die bewegings het al flouer geword en hy het stil geword. Ek het sy oog met my geweer gaan druk maar daar was geen reaksie nie.Een enkele skoot met die R1 en hy was weg. Die skoot is deur sy rug en ook deur sy hart en op sy bors tussen sy voorbene uit.

Ek het die manne geroep en ons het hom gaan afslag en die skedel wou ek ook he en die in my slaapsak toegerol en dit was bykans drie uur toe ons die pad begin vat om so haastig as moontlik by die kaplyn te kom. Ek het vir Stoney ( Andre) Steenkamp geroep op die radio en hom ten einde laas gekry en my posisie verduidelik en hy sou met die Alouette kom en as ons nog nie by die kaplyn was nie moes ons n rookgranaat gooi as ons hom hoor. Hy het ons so vier kilometer in Zambiese gebied opgelaai en reguit Katima toe gevlieg. Dit was n baie groot leeu en die tweede grootste wat ek geskiet in het my lewe. In sy pens het ek stukkie van die boesman gekry en dit maar net daar gelos saam met die afgeslagte karkas en ons het teen bykans skemer op Katima aan gekom.

Die bevelvoerder was baie bly oor die vel en het dit iewers gaan bere en ek moes n verslag invul. Ek het hom gevra om dit tog maar te doen, ons was vuil en ek het geen skoon klere gehad nie en wou net stort want ons sou daar moes slaap omdat dit te laat was om terug te vlieg. My slaapsak het die ene bloed en leeu gestink en ek het die aand by n ander offisier gaan slaap by sy huis. My twee troepe het saam met my daar geslaap en Rob het weer by die ander valskerm manne verblyf gekry en ons kon darem iets te drinke en te ete kry by die ou menasie wat later afgebreek is om vir n nuwe plek te maak.

Jare daarna het ek by die bevelvoerder se huis gekom en sy vrou het my die vel gewys en vertel van die groot leeu wat haar man op die grens in groot lewens gevaar geskiet het. Ek het die skoot herken en ook die maanhare en niks gese nie. Hy was reeds oorlede. Sy het gese ek kan die vel eendag erf, ek wag nog steeds.

23 Augustus 1974




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed