Jack se wildebees en n siek leeu
Die nag was besonder koud en ek het later nog komberse gaan haal in die bakkie en vir Jack wat in sy eie hut geslaap het ook gaan toegooi. Die nag geluide was besonder stil en die maan was helder met n suur suide windjie wat gewaai het. Ek het gewonder hoe dankbaar die boesmans langs my moes gewees het vir die komberse wat die weermag vir hulle gegee het. Hulle het altyd onder gebreide velle rondom die vuur geslaap, nou het hulle hutjies en komberse gehad. Ek kon hulle honde hoor op mekaar klim en kerm en stry onder mekaar en ek het na my mense verlang. Hulle was ver in die Karoo en ek in die vreemde land, ek het gewonder hoe dit daar gaan. Jeannie-hulle sou kom jag en ek sou my siel verruil om dit te kon meemaak, helaas moes dit sonder my plaas vind. Botswana het my besig gehou en so lank weg van die beskawing het gemaak dat n mens afgestomp word en glad nie met die wereld tred gehou het nie. Ek het myself probeer troos dat ek na die land gekom het om te jag en die mense was goed vir my.
Ek het nie weer geslaap nie en later die vuur groot gemaak en Jas het by my kom koffie drink en ons het gewag dat dit lig moes word. Die leeu het my gepla. n Leeu wat gekwes of siek was tussen die boesmans was n resep vir mensvretery. Ons het gespekuleer of dit ander leeus kon wees of dalk n gemsbokhoring of n slang. Ek het nie die mannetjie self gesien nie maar Luka het gese dat hy nie oud was nie maar baie kruppel en maer. Dit was al donker toe ons die swartwitpens se binnegoed by die water gaan gooi het maar daar was ook ander aasdiere en ons het nie leeus gehoor nie. Ek sou wel die spore by die water gaan soek as dit lig genoeg sou wees. Ons het van die vorige aand se potbrood geeet saam met die koffie want ek wou baie vroeg roer. Ek het geweet dat Jas maar moeilik sou saam gaan, leeus was nie vir hulle nie. Dit sou maar ek en Luka wees en Jack as hy kans gesien het. Jas het vir my warm water gemaak en ek het in die hutjie gaan was en skeer. Toe ek uitkom was dit lig en Luka reg en met die twee dubbels is ons na die water toe en Jack het saam met Luka spore gesoek terwyl ek agter n bos doenig was. Ek het nog na hulle spore gesoek toe n skoot klap en ek hoor hoe Luka vir Jack skree om weer te skiet en toe was dit stil.
Die leeu was nie verder as honderd meter van die binnegoed nie en het daar aan gevreet en moes hulle gehoor praat het en het probeer vlug toe Jack hom met die 375 plat skiet en hom nog n skoot moes gee. Ek het vir Jas geskree om die bakkie te bring want dit was nie verder as 200 meter van die kampie af nie en ons het die leeu met die droe boud gelaai. Dit was werklik n baie mooi leeu en ek het hom laat kuip by die kampie. In sy boud was n gifpyl wat al byna toegegroei was en die skag was afgebyt en die plat gekapte draad punt was diep in sy lyf. Sy boud was byna opgedroog en hy kon sy linker agterbeen nie gebruik nie. Hy moes baie lank die wond gehad het en ek het die boesmans gaan spreek en gemaak verstaan dat dit nie toegelaat word nie. Natuurlik was dit nie hulle nie, dit moes iemand anders gewees het. Ek het die pylpunt gehou vir die staat se verslag en besit dit vandag nog. Jack het n baie mooi leeu gehad waarop hy nie kon trots wees nie maar dit het hom baie min gekos en dit het beslis n ramp verhoed tussen die boesmans. Hy sou mense vreet soos hy swakker geword het. Die suidelike Chobe het ook hienas en hulle sou hom ook dalk dood maak. Alleen lopers het nie veel van n kans gehad nie en veral wyfies het net na hulle kleintjies gehad het swaar gekry want hulle het tot so veel as n maand op hul eie geswerf met die welpies. Hulle grootste vyande was nomadiese mannetjies en hienas en baie male sou n jong droe wyfie so n ou wyfie help om later weer by die trop aan te sluit.
Ons het gaan pak en ek wou reguit terug ry kamp toe want daar sou wildebeeste langs die pad wees. Die velle was op Luka se bakkie en toe dit begin warm word het my boesmans op die dakrak geklim. Ons het volstruise gesien van ver af en dit was ook op sy kwota en hy en Luka het nader gery en twee mooi mannetjies geskiet op n redelike afstand met die 8mm. Hulle moes omtrent n kilometer bekruip en dit was twee groot voels wat ek vir die kliniek sou gee. Kliente het altyd die goed se boude stukkend geskiet en dan was hulle eintlik waardeloos, ons het altyd hulle nekke by die lyf probeer raakskiet of dan kopskote. Ons moes nog n wildebees kry en die boesmans moes op die uitkyk wees. Daar was soos altyd baie soorte wild langs die pad maar ek het baie tyd gehad en wou n mooi bees laat skiet. Die vlaktes was eintlik besmet met wildebeeste en daar was baie honderde maar ons het die tyd gehad om n ordentlike een uit te soek. Ek het vir Jan Hugo op die radio geroep en hulle het vleis benodig vir die boesman kliniek. Dit kon enige vleis gewees het, dit moes net baie wees. Die maklikste was blouwildebeeste want zebras het moeilik geslag maar Selby het n groot kwota velle gehad wat moes vol gemaak word. Daar was ook baie rooihartebeeste wat ook redelik maklik was en die keuse was dus oop. Die nomadiese boesmans wat ons kom besoek het, het enige vleis geeet en selfs bobbejane was nie weggegooi nie. Baie het van sekere diere tipe van afgode gemaak wat hulle nie geeet het nie. Een spesifieke groep het nie krokodille geeet nie en dit was volgens Prof. Fritz ook die groep wat nog tot baie onlangs tekeninge gemaak het teen die rotste veral van krokodille. Die ander reptiele was vir hulle altyd n lekkerny en skilpaaie en pofadders was hoog op die lys, hulle was verbied om skilpaaie te eet maar het hulle min daar aan gesteur.
Ek wou net eers die bees laat skiet deur Jack en dan sou ek probeer om nog vleis vir die boesmans te skiet. Hulle het my gestop en daar was n groep blouwildebeeste wat gewei het en ek het vir Luka laat gaan, weer met my 9,3 dubbel en Jack is agterna en ons sou die jag weereens dophou van die bakkie af. Hy was n baie goeie jagleier en hy kon horings skat beter as my ander jagters en Jack het baie vertroue in hom gehad. Hy sou weereens die 375 neem want hy was baie vertroud met die geweer met die holpunt koeels. Luka het hom voorgeskryf soos hy dit al so vele male gedoen het en hulle het deur die lee omaramba geloop na die vloedvlakte waar daar baie wild op was. Ek en my boesmans het onder n boom gaan sit en daar was weermag rantsoen pakke en ek het dat hulle dit geniet en probeer bel met die foon maar kon nie verbinding kry nie. Ons het die jagters maar probeer volg en ek het later deur die Nikon vir Jack agter die stokke gesien sit en die die bok eers sien val en toe die dowwe skoot gehoor. Dit was nog een trofee minder en nou kon ek my vleisjag begin. Ons het die bok se pens uitgehaal en Jack was in vervoering oor die jagvermoe van Luka. Hy was werklik baie goed in sy werk en het dit ook baie ernstig opgeneem veral as hy n dubbel kon dra en hy kon werklik met n dubbel skiet. Waar ek vir so lank saam met Katwindi gejag het kon ek hom nou los met sy eie kliente en ek en Luka kon n span vorm. Nog steeds sou Katwindi my gunsteling wees by olifante omdat ons dit al so vele male saam gedoen het. Ek het vir Jack gese dat sy jag nou vir eers verby was want ek moes gaan honger mense kos gee en die 8mm geneem en hy sou moes saam ry. Dit sou maar grotendeels n bakkie jag wees. en dus meer n vleis skietery.
Ek het sit en wonder hoeveel vleis die mense werklik nodig gehad het en Jas het my gestop vir n hele trop hartebeeste en ek en hy is saam by die bakkie weg. Ek het altyd probeer om bulle maar nie trofee diere te skiet nie. Die troppie het na n lang bekruip weggedraf van my af op ietsie meer as n honderd meter, ons was jonk en fiks en het saam gedraf tot by n boom en ek het drie bullle agter die kop geskiet met die bekende dowwe klap geluid. Ek wou nog twee of meer zebras skiet want ek het ander werk ook gehad en ons het net die pense uitgehaal en verder gery. Ek het ook nie die grooste werksmag gehad by Nyati nie en alles se velle moes gehou word en ons sou moes slag vir n vale. Ook kon die ou Land Cruisers nie baie tonne dra in die sand wereld nie. Tog het ek die klompie zebras by n watergat gaan bekruip. Hulle is maar n nasie wat kan lekker baklei by die water. Daar was baie diere by die plek wat n groot gebied bedien het met water wat ek en Rob toe ons begin het by Selby die naam van Ystervark Laagte gegee het. Jy kon die water lekker bekruip as die wind suid was want hy was ruig aan die noorde kant tot baie naby die water en met n effense hoe grond van agter n baie groot miershoop met bosse rondom. Luka het weer die 9,3 dubbel gehad en ek die 8mm en Jack het kans gesien om saam te bekruip hoewel hy geweet het dat sy skietkans verby was. Nietmin het ek sy 375 laat reg kry vir wat ook al by die water sou wees. Meer trofee het meer geld beteken en het die konsessies net meer betalend gemaak. Ons het agter die miershoop gaan skuil en Luka het geloer deur die palms en gese dat daar baie soorte was maar daar was n groot bosvark beer doenig by n ou droe karkas. Dit was nie snaaks om hulle in die dag te kry nie, veral nader aan die Chobe het hulle in troppies geloop in die dag.
Daar was nie n bosvark op Jack se kwota nie en ons het vinnig n prys gemaak en hy kon dus die vark skiet. Luka het hom tot by n droe Mopanie stomp geneem en hy kon dooierus die vark op nie meer as sestig meter skiet nie. Ek het n zebra hings met die 8mm voor die kop geskiet wat baie naby was en ons het nou eers genoeg vleis gehad vir die kliniek. Die ander diere by die water het gevlug en ons het gelaai en gery na Nyati toe. Dit was werklik n baie groot vark en Jack het by my gesit voor in die bakkie en dit sou een van sy trotse trofees word. Hy sou nou eers moes n paar dae wag voor ons sou verder jag want ek was agter met die staat se werk. Ons het groot troppe olifante gekry op pad terug maar Jack sou moes saam met Katwindi gaan vir sy olifant, Selby wou my sien op Maun en ek sou by die Gwai konsessie van Ben Grobbelaar aan ry op pad soontoe
Ons het by Nyati gekom en Katwindi en die ander twee jagters het nie ver van Manwasi se huis af n baie mooi olifant geskiet en ek het vir Johan Adriaanse geroep om vir Jack te kom haal om sy kleiner spesies by hom te gaan skiet. Ek het bykans deur die nag gewerk om die administrasie weer op te datum te kry en ek en Luka sou die volgende more ry na Selby toe en die boesmans sou aan gaan met hulle opleiding by Xolile. Ek het eerklik uitgesien om net weer n paar dae ander mense en n ander omgewing te kon besoek, dit was altyd lekker by Selby met vreemde jagters wat gewoonlik al n paar maal by hom was. Hy het my vroeg die more geroep op die radio en gese dat ek direk na hom toe moes kom want hy wou gaan leeus skiet in die Savuti en sou die middag vertrek weg van Makuku af.
Daar was n groot groep boesmans by die boesmankamp wat nog nie voorheen by ons was nie en hier het ek gesien hoe hulle vleis in sout toe rol en dan droog op rakke. Hulle het ook baie vleis gerook om dit te laat langer hou. Luka het my vertel dat hulle dit in Rhodesie ook gedoen het en jy kon die sout net na maande afkrap en die vleis gaar maak. Ek het dit nooit geproe nie maar hy het gese dat die vleis nie verrot nie en vars bly. Die baie brommers en vliee het my aptyt so bietjie laat kwyn vir die soort van vleis bewaring.
Dit was nog skemer toe ek en Luka begin ry en ons het vir ons vleis in gepak en sou sommer langs die pad braai of rantsoen pakke eet.
14 Mei 1978.