Leigh Olivier (Boekebessie)
Lees meer oor Leigh Olivier (Boekebessie)
Maart 2025 – OOP projek
2.Tyd
Dis die ding met Tyd.
Tyd vee net sy kwas aan mens af en loop aan asof niks gebeur het nie. Asof iemand nie dood is nie. Of nie verlore is en vir altyd weg is nie.
Tyd warrie nie.
Tyd het al mooi alles gesien. Alles. En Tyd ken al die stories, al die psalms en gesange, al die kluiteklap en wroeg en ween en waarsjywaarsjy. Tyd voel vere. Tyd kyk in die venster en by die deur en loop in die pad af met sy lang, bont jas en sy sak vol vergeet-en-vergaan oor sy rug en hy kyk nie terug nie, al skree jy ook hoe hard, gee terug.
Hy loop hier en hy loop daar en onder sy voete word die gras bruin, dan vaal dan stof dan weer groen. So val die blare in al die blarekleure soos sekondes minute ure jare van sy skouers af en hy loop en loop weg en weg en weg van jou in die dwarrel pad af. Ongehaas. Asof hy nie die grootse dief in die heelal is nie.
Fluit-fluit loop hy en hy los jou kiekies en jou onthougoed en jou glimlag en jou trouring en jou asbakkie en jou klere en jou yslike moerse donnerse leemte waar jy altyd was, en ek skree, “Tyd, Tyd, ek vloek jou, Tyd! Jy is ongeleë en ongeskik en ewiglik onwelkom, jou dief, Tyd, jou dief. Jou rower! Jou vraat vergryper aan andermansgoed.”
Tyd kyk nie eers om nie. Jou geskel waai oor Tyd soos die wind oor die sand seil en spoor en skulp- en seekastele weg vee. Hy loop net blindelings, blindelings befok om net weg te kom. Hy loop besete, en die trane loop saam met Tyd en Tyd se trane loop in die pad af teen die ruite af oor jou wange in jou badwater in.
Maar dan eendag, dan loop Tyd weer daar verby en kyk in jou venster in jou deur in waar jy sit soos ‘n kat in die son, opgekrul om die mooi blink glinstergloed wat Tyd daai keer ongesiens vir jou gelos het voor hy jou so bloedstollend besteel het. Die kiekies en kinders, die fluisters en soene en simpel gegiggel oor kleinigheidjies wat net julle sin was. Tyd kyk hoe drapeer jy die syserp van vergifnis en geliefdes om jou nek soos die mooiste halssnoer, kosbaar teen jou vel soos die lippe van jou liefling. Tyd knik so by homself sy kop en dink dit was goed wat ek gelos het, die mooigoed, onthougoed. Die saamleef en sag wees en die soet geluk en die kosbare herinneringe wat net Tyd jou kan gee en nooit kan steel nie.
Want genadelose Tyd, wat eintlik maar ‘n eensaam loper is, vat die lelik wat ons maak saam wanneer hy eerste kom en verwoesting saai, en los die mooi goed verdoesel onder die puinhoop in die kamers van jou huis en jou hart, en buite onder die bome soos helder paaseiers. Dan in die monde van mense en in die harte van dié wat liefhet en liefgehad het los Tyd woorde wat soos seeglasklippies uitspoel, die skerpgeit glad geskuur in die rotspoel van jou rou.
Eensklaps is daar môredou wat tinselblink in jou onthoukamers hang, en môrestond verf die nat gras tot glinster, en los ‘n koffiewasem kus teen jou wang. So in die onverwagse Eendag as jou krag weer uit die bitter puin ontaard, bid ek sal als ook weer so mooi wees vir jou.
Kopiereg Leigh Olivier 2025 Boekebessie