Amanda Meyer De Meillon
Augustus 2019 – Wilde wind projek
Oupa se borrelwind blaps
Rayne is ons kleindogter. Die klein japsnoet begin nou oulik woordjies vorm. Vergeefs of sy wil oupa sê. Ons probeer alles. Sy is soos ‘n steeks donkie. Roep die honde, jaag hulle uit, vra vir kos, alles behalwe oupa. Dit is ons naweek met kleinding en Ouma en Oupa besluit om die kleintjies na die bokkiepark te neem. Almal weet, as jy bokkiepark toe gaan pak jy ‘n piekniek mandjie. Kombersies word oopgegooi en allerhande lekkernye verskyn. Die kinders baljaar op al wat ‘n klim en klouterraam is. Rayne blêr en moo vir ‘n vale. Sy geniet die diere en probeer almal naboots. Elke denkbare geluid kom uit die babbelbekkie uit, alles behalwe oupa.
Die lekker eetgoed en son is altyd ‘n resep vir moeilikheid. Veral op ons ouderdom. Jou maag speel nie meer so lekker saam nie. Enige geringe verandering in die biologiese struktuur van kosblik versnapperinge veroorsaak ‘n seismiese reaksie in jou ingewande. So dan ook die geval van ons bokkiepark uitstappie. Oupa lê lekker weg aan al die klein bolletjies vleisgoed, slaai en vingerhappies. Oupa kan maar. Hy het ‘n aptyt soos ‘n sirkus olifant. Hy staan 6 voet 4 in sy nommer 14 skoen. Dit neem ‘n stewige vraggie vesnapperings om sy maag te vul. Gelukkig het ouma oorgenoeg peuselhappies gemaak. Ons kuier heerlik onder die groot ou eikeboom.
Laatmiddag kla oupa van ‘n ongemaklike gevoelte op sy nersderm. Hy blaas klein borretjies opgeboude gas agter sy vuis. Vinnig pak ons alles terug in die mandjie. Waar is ‘n Rennie wanneer jy hom nodig kry? Die borretjies word harder en groter. Ons pak haastig alles in die bakkie. Rayne word stewig in haar karstoeltjie vasgemaak. Die ou koppie knik-knik van moegheid. Oupa sit die bakkie in tru-rat. Bwaaaaaaaarp.. borrel daar ‘n monster van ‘n buskruitwind uit oupa se binnegoed. Rayne se koppie ruk orent. “OUPA” gil sy en dan skatterlag sy van lekkerte. Oupa se borrelwind blaps word goed beloon.
Amanda Meyer De Meillon
Februarie 2020 – Limeriek projek
3.Mev Dominee en die ekstra kollekte
Prim en propper’ dit was nou onse Mevrou Dominee. Sy was ‘n statige dame. So duskant dertig en koringblond van haar. “Kom, kom sit hier by oupa se voete lat ek julle nou vertel van die konsternasie met die kollekte.”
Ons skuif almal vinnig nader. Oupa se stories het ons almal laatnag wakker gehou. Of dit weleens die waarheid was sou niemand ooit weet nie. Dat dit jou ore laat spits het was ‘n feit soos turksvydoring.
Haar naam was Hester Henning Heyns. Mevrou Dominee Hester Henning Heyns. Enigste dogter van Meraai en Kerneels Henning van die bo dorp. Hulle was gesiene mense. Elke sondag in die kerk. Voorste banke. Heel voor sodat hulle GESIEN kon word. Hulle dogter was dan amelewe die predikantsvrou. Alles het klopdisseboom geloop totdat dik Daan sy opwagting op die dorp gemaak het.
Dik Daan het ‘n nuwe onderneming op die dorp kom open. Hy het geld rondgestrooi asof dit konfetti was. Gou was die vriendskap tussen die Hennings en Dik Daan die grootste skindernuus op die dorp. Die voorste kerkbanke was nou menige Sondae oop wanneer die Hennings in hul awesigheid geskitter het. Dominee sak net verlee sy kop en preek asof Moses van ouds met ‘n rottang agter hom staan. Mev Dominee vermy onnodige gesprekke en verdwyn na Kerk vinnig in die rigting van die pastorie.
Daan se onderneming was baie verdag. Die vensters was met koerantpapier bedek en daar was ‘n allemintige slot aan die buite hek. ‘n Vuil kennisgewingbord was aan die hek vas gedraad. ‘Trespassers will be prosecuted’ . Die feit dat daar ‘n bul van ‘n rotweiler op die erf geloop het, het ook heelwat mense hardop agter hulle hande laat wonder. Saterdae het die groot ou hek se slot afgekom. Tafels vol tweedehandse goedere het die wêreld vol gestaan. Dik Daan het in sy diep stem die goedere opgeveil. Almal het die veiling kom bywoon, deels om te probeer om deur die koerantbeplakte vensters te loer en deels omdat hulle ‘n winskoop loop soek het.
Die gemeente was nie groot nie maar tog was die offergawes elke Sondag oorvloedig. Dominee het weldra begin agterkom dat die gemeente stadig maar seker besig was om te krimp. So ook die kollektegelde. Dit was juis die ouer garde van die gemeenskap wat nou Sondae in hulle afwesigheid geskitter het. Mevrou Dominee het haar voet neergesit. Tot hier toe en nie verder nie. Sy kon die vraende oë van die gemeente nie langer miskyk nie. Toe Dominee een Sondag nog stil stil na die preekstoel mik staan sy gereed. Sy vlieg voor Dominee in en betree die preekstoel.
“Gemeente vandag is ek nie Mevrou Dominee nie. Vandag is ek net Hester Henning. Soos julle opgemerk het raak ons ledetal al hoe kleiner. Vandag gaan ons by die duiwel haal wat hy van ons steel. Wie volg my?”
Sy laat ook nie op haar wag nie, en met ‘n “kom Hennerik” gryp sy Dominee se hand. Die gemeente strompel ewige nuuskierig in gelid agter Hester aan. Pad af reguit na dik Daan se veiling. Die slot is af en die Rotweiler eenkant op ketting. Hester gooi die hek oop en die gemeente volg gewillig, nuuskierig om te sien wat binne die gebou aan die gang is. Dan stoot sy die groot ou staaldeur oop, net toe Merraai “BINGO” skreeu. Die gemeente vorm ‘n skans. Hester, Hennerik en die twee diakens stormloop vir dik Daan en voor iemand weer kan sê “Bingo”, word al die onwettige dobbelgeld in die kollekte sakkies leeggemaak. Dik Daan vlug by die agterdeur uit met die skuldige gemeentelede kort op sy hakke.
Daaropvolgende Sondag is die kerk stampvol. Dominee preek uit sy hart uit oor vergrype aan wêreldse plesierighede. ‘n Hele paar gemeentelede sit kop onderstebo. Mevrou Dominee se gesig vlek net vir ‘n sekonde rooi maar dan stok sy weer haar rug regop. Niemand weet van die ekstra kollekte sakkie wat nou opgevou onder die skoendose in die stoorkamer lê nie. Hester Henning moes vergoed word vir haar edele daad verlede Sondag. Mevrou Dominee sou mos nooit as te nimmer so ‘n skandelike optog kon rëel nie.
Amanda Meyer De Meillon
April 2021 – Oordenkingsprojek
1.Paasfees oordenkinge – haas VS Paas
Kyk, wragtag skrik ek nie die paashaas nie. Ek verafsku hom. Klein wollerige hasies, konyntjies of springhase het ek nie probleme mee nie. Nee, daardie Haas-Das-mens-haas met die groot blou oë; daardie haas bring die lelik in my uit.
April maand is vakansie maand. Almal weet dit. Rondom Pase word verlof dae skelm ingedruk. Pappa en mamma probeer die naweek so lank as moontlik uitrek. Rangskik net mooi en jy het ‘n hele twee weke van tuisbly sonder om jou verlof regtig ‘n knou te gee. Bly net uit die winkels uit met jou kinders. Haas baniere vul die gange. Paaseiers met stukkende boepies lê die rakke vol. Oral is kermende kindertjies met bruin gesmeerde bekkies. Kwylende mondjies en taai handjies besmeer elke trollie. Ek gril tot in my tone.
Nugter alleen weet waar die konneksie tussen haas en Paas lê. Die kruis was op ‘n heuwel. Miskien was dit Watership Down en nie Golgota nie. Wie sal weet? So stil stil bekruip die onheilige jou. Gebruik ons kinders om sy onheiligheid in die mensdom te saai. Die saad sal groei daar waar dit op goeie grond val. My grond is te klipperig vir sy sjokolade saad. Dit lê en smelt in die lig van bo. My kruis dra ek elke jaar. Gevonnis tot opstoker. Wie wil nou ‘n kind se liefde vir die menshaas so wreed veroordeel. Dis mos onskuldige pret.
Selfs in ons kerke wurm die duiwelskind hom in. Hasies en eiers word oral uitgestal.
“Taaaaa, vat vir jou ‘n ou eiertjie my kind.”
Onskuldig, nes die ou hasie. Hierdie jaar gooi ek die persoon wat durf waag om vir my ‘n eier aan te bied op goeie Vrydag. Ek pooitjie daai haas binne in ‘n rolstoel in. Geen Pastoor of kerklid sal my verander nie. Ek woon kerk by vir die sielevoeding. Elke jaar wens ek, bid ek, dat ek genoeg moed bymekaar kan skraap. Soos Yeshua die sweep te kan gryp en daai haas met sy mandjie eiers terug in sy gat te jaag. Wyk satan! Die heuwel het nie haasgate nie!
Amanda De Meillon
Augustus 2021 – As die blare val projek
1.Kringloop
Hand aan hand stap ons deur die aftree-oord se strate. Die son smelt in herfskleure oor die bruin tëeldakke van die tweelinghuisies. Huis Herfsblaar. Genade, kon hulle nie eerder Huis Lentebloeisel, of Groen Koringaar gebruik nie. Herfsblaar. Vaal, dof en nutteloos. Ek swaai ritmies Lafras se hand. Dat ons twee nou so op die vooraand van ons winter nog mekaar se vingers kan vind.
“Lafras, dink jy die Here het aspris die kleure van die herfsblare uitgekies? Ek meen nou, kyk na Lente, sy spog met pienk baba kleure. Sagte poeiergeel en wit blommetjies versier die bome. Dan kom die somer met sy helder rooi, groen, oranje – wispelturig, as jy my vra. Soos ‘n lawwe tiener wie se kleurprisma rondomtalie draai en nuwe kleure voortbring. Dan kry jy ons. Die herfsblare. Ons hare verdof. Ons oë verdof. Ons gehoor is nie meer wat dit was nie. So asof ons vervaal voor die winter ons finaal laat uitdor.”
Lafras druk my hand. Hy glimlag en tel ‘n koperbruin blaar op vanaf die teer.
“Liefste Lenie. Jy weet, ons kan nie vir altyd jonk bly nie. Lente dans met haar sagte kleure omdat sy nog versigtig is. Onskuldig en onkundig. Somer bring hoop en lewe. Sy dans baldadig en vrolik want sy is vry. Sy ondersoek alles. Dan kry jy ons. Ons wals en waai waar die wind ook al gaan. Ons los die uitspattige helder kleure agter. Ons het die ryk volkleur van klatergoud. Ons is allermins dof en kleurloos. Die Here het ons die mooiste van al die kleure gegee. Ougoud, oker en wynrooi. Weet jy Lenie, God is ons genadig. My sig verdof sodat ek nie die plooie op my gesig raaksien nie. My gehoor is nie meer so skerp nie en daarom hoor ek nie die lelik in ander se woorde nie. My hare is silwer want dit is die kroon van wysheid. Nee Leen, ons is nie vaal nie, ons is perfek. Winter bring weer die hoop op Lente en dan is ons kringloop voltooi.”
Ons het in stilte verder geloop. Ek vang ‘n traan met my snesie. Oor my skouer warrel die eerste herfsblaar grond toe. Ons sing ‘n laaste Psalm terwyl die kis stadig in die donker gat afsak
Amanda De Meillon
Oktober 2021 – Akrostiese projek
2.Werfkotiljons (*ook gespel werfkotteljons)
Oktobermaand. Die mooiste, mooiste maand. Leipoldt het nie in Alberton gebly nie. My grasbesem lyk asof dit deur die weerlig getref is. Ek vee elke dag die agterstoep om te keer vir die gras en blare wat kinderlik in die wind baljaar. Stof lê duimdik oor elke vensterbank gespoeg. Dit is asof die wind my tart. Hy woerts en warts deur my wasgoed. Ruk hier en daar ‘n kledingstuk af en drapeer dit ‘n entjie vêrder oor ‘n roosbos. Nie dat daar juis ‘n bos oor is nie. Daarvoor het die hael gesorg. Oktober wind en hael dit hier by ons. Die blare en blomme wat nie deur die wind verwaai word nie, word deur die hael flenters geslaan. Saad wat vol hoop boontoe beur word summier in hulle groeiproses gestop. Die wat dit wel oorleef, groei teen slakkepas, koes-koes in die wind. Groenpuntvruggies vorm ‘n blaremat onder elke boom. Hier en daar klou ‘n piepklein vruggie verbete aan ‘n tak, voos geslaan deur die hael. Ja Leipoldt, vir jou was dit miskien die mooiste, mooiste maand, maar hier waar ek (onwillig) tussen die hark en grasbesem werfkotiljons, wonder ek waar presies in Afrika jy jou op daardie digoomblik bevind het. Dit was defnitief nie in Alberton nie.
Amanda
Maart 2022 – OOP projek
3.Die oop arms van ‘n Moeder (409 woorde)
Oop. Genugtig. Moet hierdie opdrag nou aan my hartskamer kom ruk. Ek sit in ‘n yskoue gang. Bloedvlekke skreeu vanaf die mure. Die stank vanaf die klein hokkie in die hoek vertel jou dat die dood hier sekelstaan. Binnekort sal die masjiene eentonig lank en uitgerek biep. Bloedbelope oë staar intens na jou, asof jy die laaste maal in ‘n doodsel is. Staatshospitaal. Die lot van almal wat mediesloos of onder die broodlyn lewe. Dit is hier waar ek vlugtig na my opdragte loer. Ek sit alleen in die wagkamer.
Net een oproep.
“Mamma daar is fout”.
Die klein ‘I 10’ se voete het behoorlik op die teerpad geklap. Die afstand tussen Alberton en Randfontein is in ‘n rekordtyd afgelê. Ek moes my trane sluk en haar rukkende skouers teen my vasdruk. Die simpatieke kyk in die suster se oë het deur my siel gebrand. Twaalf weke wat sy die klein wonderwerkie kon koester. Twaalf weke wat nou druppel vir druppel uit haar liggaam skeur. Die baarmoeder het nooit behoorlik gesluit nie. Die spelonk wat snoesig en warm ‘n lewe moes koester, was oop. Oop en leeg soos haar hart.
“Mevrou moet huis toe gaan”.
Die kreukelvingers rus op my skouer.
“Niemand mag saam met haar saal toe gaan nie. Sy sal ok wees. Ons sal mooi na haar kyk”.
Dit is met ‘n swaar hart wat ek die pad huis toe aandurf. Wat sou dit tog help om in die parkeerarea te bly sit. Ons kommunikeer per loopfoon totdat sy uiteindelik moeg en uitgeput haarself aan die slaap huil. Dan eers sluit ek my oë in stil gebed vir my stukkende alleenkind in ‘n donker onsimpatieke hospitaalsaal.
Vroegoggend swaai ek die motor se neus in die rigting van die hospitaal. Ek vind ‘n oop parkering so na as moontlik aan die hospitaal se ingang. Ek is gelukkig om ‘n oop sitplek naby ongevalle te kry. Die wag skud sy kop.
“Mevrou gaan lank wag. Die dokters doen eers na tien saalrondte”.
Ek haal my loopfoon uit en kyk weer na die opdrag. So ‘n klein woordjie met soveel betekenis. Al sit ek ook heeldag hier, ek is hier vir haar. Die loopfoon se skerm flits.
“Dit is verby mamma, wag asseblief vir my by die ingang”.
Ek sien haar hangskouer figuurtjie van ver af. Ek hou my arms oop. Sy smelt teen my bors vas. Rou snikke skeur deur haar lyf. Sy is weer kleindogtertjie klein.
“Dankie mamma”.
Amanda De Meillon
April 2022 – En toe… projek
1.Stille waters
Die wilger se takke hang laag oor die rivier. Rippelwatersirkels vorm en klok wyd voor dit stil saam met die vloei verdwyn.Ek sluit my oë.
Jou klokkielag sny helder deur die oggendmis. Modderspore vorm waar ons aan die kant van die wal paddavissies met ‘n net probeer skep. Gillend hardloop jy wal op wanneer die knypers van ‘n koddige klein krappie om jou toontjies vou. Jou net vergete in die moddegras van die rivier.
Hand aan hand stap ons na die hoekkafee. Die bytplek vergete. Paddavissies swem rond en rond in die glasbottel wat nou veilig in jou rugsak lê. Jy glimlag op na my en ek vee ‘n roomys streep oor die ronding van jou neus. Jou oë skitter soos blink diamante in die oggendson.
Ek los jou hand. Jou wit rok maak fyn sleepgeluidjies op die rooi tapyt. Jy word vrou. Ek voel die ritme van die wals terwyl jy een-twee-drie oor die dansbaan gly. Jou klokkielag weer vol paddavisplesier. Die klein dogtertjie is nou volwaardig vrou.
Ek leun terug teen die ou Wilger se stam. Die son kwas rooi teen die horison. Ek vee oor die krom van my wang. ‘n Klamigheid klou aan die sakdoek se punt. Dit ruik na Charlie en Musk. Jou gunsteling. Met ‘n kreun lig ek myself teen die Wilger op. Die been is weer seer vandag. Jy wou nog een keer draairoomys by die hoekkafee kom haal. Die lig was rooi. Die drywer dronk.
Toe wapper die klein sakdoekie in die wind. ‘n Baken aan die wit kruis wat eensaam langs die teerpad staan.
Amanda De Meillon
September 2022 – Snelheidsprojek
3.Spoed: Die moordenaar op ons paaie? 347 Woorde
Ons nader weer die mal seisoen. Almal moet mos see toe. Pa en ma neem hulle jaarlikse vakansie verlof omdat kleinboet, of sus, se groot skoolvakansie oor Desember val. Die motor is gepak en almal suiker see toe. Die gevreesde N3 snelweg verander oornag plek-plek in ‘n skrootwerf wanneer oormoeg en onverskillige motoriste die pad byster raak. Spoed? Nee, nie altyd nie.
Ek en manlief pak gereeld die langpad per motorfiets aan. Ons beweeg meesal in ‘n groep van ses of meer fietse. Spoed was nog nooit die grootste van ons probleme nie. Loopfone wel. As motorfietsryer moet jy vir almal om jou dink. Al jou sintuie word ingespan. Daarom neem ons soveel meer waar. Nege uit die tien keer word ongelukke veroorsaak as gevolg van ‘n loopfoon teen die oor of selfs ‘n bestuurder wat besig is om ‘n boodskap op die skerm te tik. Daar word selfs video oproepe geneem en die bestuurder klak en klik vir ‘n vale terwyl die verkeer voor hom tot stillstand kom. Soms met noodlottige gevolge.
Kinders wat in die motor speel en die bestuurder se aandag aftrek is ook een van die groot oorsake van ongelukke op ons paaie. Veral wanneer daadie bloedjies mekaar aan die hare beetkry. Daardie breukdeel van ‘n sekonde wat dit die ouer neem om die geveg tot orde te roep is al wat nodig is. Die bestuurder sien nie die skielike verandering in die vloei van die verkeer nie en ‘n gatslag is onafwendbaar.
*******
Hierdie meningstuk moes vandag klaar. My hart sit in my keel. Gisteraand oppad kerk toe gaan die ligte soos klokslag om sesuur af. Beurtkrag. Die blou en rooi ligte voor in die pad laat ons onmiddelik hoendervel. Die motorfiets se voorwiel is duidelik sigbaar onder die opgefrommelde staal wat eens die modderskerm van ‘n motor was. Op die sypaadjie sit ‘n jong meisie met haar kop op haar arms. Ons word weggewys. In die ry bid manlief hardop. Net nog ‘n wit kruis op ‘n straathoek. Die oorsaak van die jongman se dood? Beurtkrag! Pikdonker straathoeke en ‘n besope motorbestuurder!
Amanda De Meillon
Junie 2023 – Winter projek
3. ’n Wintervakansie is bloot net nie goed genoeg sonder sneeu nie (Regtig?)
‘n Wintervakansie is bloot net nie goed genoeg sonder sneeu nie.
Het jy al in die middel van die winter voor ‘n warm kaggelvuur gesit en droom. Jou voete knus toegevou in ‘n paar wolsokkies. ‘n Stomende koppie melkkoffie waarom jou ysige vingers vou. Sneeu? Regtig? Wie is nou mal genoeg om dan nog boonop te wens vir sneeu.
Afrika. Warm sonnige Afrika. Die land van woestyn en Kalaharisand. Hier waar die winterson warm deur jou kombuisventer kuier. Jou motor proes luid met die eerste draai van die sleutel. Jy bande trap vas en los ‘n fyn gilletjie wanneer hulle plesierig oor die teer glip. Nee wat, ons los die sneeu vir die niggies en nefies daar doer in Canada, Scotland en London. Vroeg oggend deel hulle foto’s van die nuwe motorbande – spesiaal geketting en gepanser sodat hulle ten minste, wanneer moontlik, by die werk kan uitkom. Skopgrawe kom te voorskyn, elke oggend moet die tuinpaadjie oopgeskoffel word. Die foto’s getuig van bittere koue. Mussies, handskoene en serpe, en moenie die diksool stewels vergeet nie. Tog verander die landskap in ‘n wonderwêreld. Tog word die tuine ‘n sprokiesparadys wanneer daar oornag ‘n wit wasem oor alles uitgeasem word. Wanneer die son vanaf die wit weerkaats en ‘n rooi-oranje gloed soos lawa oor die tuine spoel. Dan smelt die sneeu.
Taai vuil stroompies kartel in die strate. Die sneeu word ‘n vaalbruin kleur. Die temperatuur daal onder vriespunt en net die koue wind vertel ‘n storie van ‘n sprokie wat vir ‘n wyle was. Deur die nat grasvelde breek klein saadjies nuwe hoop. Die sneeu was tog nodig. Gou word die wit vervang met lowergroen. Die temperature klim stadig maar seker en lewe reik weer uit na die son.
Dankbaar sug ons hier in Suid Afrika. Ons wintervakansies het nou wel geen sneeu om in te speel en om sneeumanne in te bou nie. Ons het wel warm kaggelvure en ‘n glasie rooiwyn. Warm wintersonstrale en rooi horisonne. Ons bou sandkastele en ski op damwater. Die sneeu kan maar op ‘n ander se voorstoep val.
344 woorde
Amanda De Meillon
Julie 2023 – OOP projek
1.Respek vir twee wiele
Hippies. Takhare. Gamtoosvallei gommies. Ek hoor nog my pa se stem wanneer die ‘bikes’ verby die huis brul. Dan vryf hy oor sy yl hare en streel oor die letsel bo sy oor. Fietsketting. “Die bliksems het my vir dood agtergelaat”.
Ek swaai my been behendig oor die 1200R BMW. Die koue staal klim deur die denim en klou ysig teen my bobene. Hoendervleis lekkerte. “Pa vergewe my”. Die sleutel draai. Die kragtige enjin stotter tot ‘n lewe van sy eie. Pa se woorde verdwyn saam met die wind oor my skouers.
‘Bikers’ word onregverdiglik geoordeel nog voordat mense werklik in die siel van die motorfietsryer kon kyk. Oupa en pa het kleintyd al gewaarsku teen hierdie euwel van die samelewing. Wanneer jy betrokke raak by die motorfietsgemeenskap, besef jy eers hoeveel hierdie mense regtig vir ander doen. Byeenkomste word gesien as, skoorsoek, goed vir niks, suippartytjies. Tog wanneer jy bietjie dieper krap sal jy besef dat daar altyd ‘n fondsinsameling in die agtergrond skuil. Motorfietsryers is mense met klein hartjies en oop beursies.
Klubs staan saam om elke jaar komberse in te samel vir die minderbevoorregtes. Daar is ook die jaarlikse ‘toyrun’ waar duisende teddiebere en speelgoed ingesamel word. Die speelgoed word onder verskeie instansies verdeel en ook onder kinders in minder gegoede gebiede. Alhoewel al die verskeie klubs saamstaan, het elkeen sy eie stel reëls en regulasies.
Klublede word uitgeken aan die kenteken op sy rug. Wanneer jy daardie teken op jou rug dra, verteenwoordig jy die klub. Lede wat hulself skuldig maak aan wangedrag in die openbaar, sal deur die President van daardie motorsfietsklub aangespreek word. Elke klub bestaan uit ‘n Nationale President, President, Visie President, Tesourier, Kapelaan en dan ook die Padkaptein. Die padkaptein is verantwoordelik vir die padveiligheid van die lede op die pad. Wanneer jy dus ‘n groep ryers teëkom, wees paraat en moet glad nie tussen lede inbeweeg nie. Hulle beweeg altyd in formasie en die padkaptein, wat altyd agter ry, sorg dat die pad skoon is sodat die ryers voor hom veilig in bane inbeweeg. By ‘n interseksie sal die padkaptein in die middel van die interseksie inbeweeg en die voertuie beheer totdat al die lede veilig oor die pad beweeg het. Motoriste is soms bitter ongeduldig en druk tussen die lede in. Dit kan noodlottige gevolge hê. Motoriste hoef slegs net aan ‘n voor of agterwiel van ‘n ryer te raak om die fiets buite beheer te laat tol.
Motoriste, stukke metaal of hout en slaggate is van die grootste gevare op die pad. Motoriste wat op hulle selfone klets terwyl hulle bestuur en van baan verander sonder om op te let, het al menige motorfietsryer se dood veroorsaak. Stukke hout en metaal of selfs plastiek en slaggate op die oop pad kan ernstige ongelukke veroorsaak wanneer dit onder ‘n voorwiel van ‘n motorfiets beland. Wanneer jy as motoris dus ‘n ryer teëkom, wees bedag en ekstra paraat. Jy kan dalk net ‘n lewe red.
Die pad fluit onder die BMW se wiele. Ek bid terwyl ons ry. Mag die hand van ons Vader oor elkeen wees. Veilig ry.
518 woorde
Amanda de Meillon
MAART 2024 – OOP PROJEK
3.Die dood van ’n kind
530 woorde
Sy was so bitter klein Here. Die mensie hier aan my bors vasgedruk. Hoekom Here? Die vrae worstel deur my kop. Wat het ek verkeerd gedoen? Waarom sy? Dan stoot hulle die tweeling per abuis my kamer in. Dit skreeu binne my. So onregverdig Here! Hoe kon U! Net die jaar tevore my kleine Jeannie na U huis gestuur; nou klein Carla. Here, hoe onregverdig is U nie? Hier gee U vir haar twee volmaakte bondeltjies pienk. Myne lê toegedraai in groen hier teen my bors.
In daardie oomblik het ek verstaan. Salomo was wys. Ek wou opstaan. Hoe sou hulle weet as ek een van die tweeling net optel en loop? Here! Hoekom? Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek U gefaal? Ek voer ‘n tweestryd met God. Uiteindelik kom haal hulle die twee pienk bondeltjies. Die suster kyk simpatiek na my. Sy uiter iets wat soos “so jammer” klink maar ek luister nie, klou net krampagtig aan die stil lyfie teen my bors.
“Carla, mamma is so jammer.” Ek probeer onthou. Nee, ek het al my pilletjies getrou gedrink. Ek rook nie. Ek drink nie. Wat het ek verkeerd gedoen? Ek verstaan nie? Ek krimp ineen wanneer hulle jou klein lyfie uiteindelik kom haal. “Dokter, sê asseblief vir my wat het ek verkeerd gedoen?” Die rou snik wat uit my bors skeur laat my stem hees en krakerig klink. Hy vat my hand en druk dit sag. “Mevrou, ek is so jammer, glo my dit is beter so.”
Regverdig. Hoe kan enige iemand ‘n kind se dood regverdig? Daardie onskuldige eenvoud waarin hulle leef. Hulle lewe lê nog oop voor hulle. As ouers bou ons hierdie mooi toekomsdrome vir ons kinders. Sien ons hulle hand aan hand saam met die liefde van hulle lewe stap. Hunker ons na kleinkinders wat ons teen ons harte kan vasdruk. Droom jy van oud word saam met jou kind.
Jy blameer jouself. Jy blameer ander. Dan blameer jy God. Jy worstel met jouself. Dan kom die besef dat niks daardie lewe gaan terugbring nie. Jy vind berusting in jouself. Jy vind berusting by God. Daar is ‘n gesegde – jy val nie verder as jou knieë nie. In hierdie tye leer jy om te bid. Leer jy om ten volle op God te vertrou. Die lewe gaan aan. Vir die ouer staan dit vir ‘n wyle stil. Deur die jare kom berusting en aanvaarding. Die Here neem en die Here gee. Niemand kan ooit daardie leë plekkie regtig vul nie.
Die seer word meer draagbaar. Met die jare vergeet jy soms. Tog elke jaar steek jy ‘n kersie op. Jy wonder hoe die klein gesiggie nou sou lyk. Vir ‘n wyle hunker jy na ‘n warm lyfie hier teen jou hart. Seer? Wanneer iemand jou vra om daardie herrinnering op te roep. Seer? Dit skeur deur jou siel. Ink en traan vloei saam en vorm woorde op ‘n wit lyntjies papier. Nee, daardie seer kom jy nooit te bowe nie, jy onderdruk dit net vir jou eie selfbehoud.
Naskrif: Altwee my dogtertjies is gediagnoseer met hydrocephalus. Daarin kon ek aanvaarding kry; maar seer bly maar seer.
Amanda De Meillon