Jongste aktiwiteit:

Amanda Meyer De Meillon
vir

Amanda Meyer De Meillon

Lees meer oor Amanda Meyer De Meillon

BRONSKLAS

Februarie 2019 projek

2.Verspeelde tyd

Korrel vir korrel verlore stryd
sypel die uurglas se sand
in ‘n wedloop teen tyd.

Verlore sekondes;
verspilde seesand
gly soos satyn
deur die vingers van my hand.

Vader tyd strompel voort;
sonder omkyk of keer
begin jou sandkasteelglasie
se sypel maar weer.

Amanda Meywer De Meillon

Mei 2019 projek

3.Tong in die kies kardoes

Klein pakkies
Aandete, verpak en voorberei
Reg vir smul
Die dae wat ons mammie
Ook ‘n bietjie rus wil gun
Eet ons maar
Sonder kla, kardoeskos saam met pa.

Amanda De Meillon

Augustus 2019 – Wilde wind projek

3.Wilde Weste Wind

Wanneer die weste se winterwind
speel-speel aan jou rokspant pluk
kom loer hy kamtig parmantig
onder jou soomlyn in,
‘n hand op jou hoed
terwyl weste wind
giggel en lag,
plesierig, prettig
sy aandag verskuif;
katjie kierang van die baan
dans hy oral met jou saam
terwyl jy rieldans
om rok en hoed te red
waai weste wind warrelend weg
om
sy
volgende
slagoffer
te
gaan terg.

Amanda

Oktober 2019 – Kleur projek

1.Towerland lentedans

Suutjies murmer feetjies
liefdesliedjies langs die stroom,
die kleine handjies fladder
vlugtig deur my droom.

Ek ruik die kleur van perske bloeisels
wanneer hulle staffies saggies swaai,
die spookasem geur klingel
as hul rokkies vrolik draai.

Lente strooi sy mengelmoes
van draairoomys kleure
en donswatte bolletjies
in speserygeweekte geure.

Amanda Meyer de Meillon

Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek

2.Laaste dans met Pa

Jou silwergrys hare kinkel skewelyn om jou ore
jou wingerstok vingers
vou saggies om myne
in ‘n laaste dans.

Pappa; jou oë vind myne en saggies,
amper onhoorbaar begin jy neurie.
Ek is weer kleindogtertjie klein,
my oë vasgevang in joune
in ‘n “make believe” wals.
Kleine voetjies op joune,
rondomtalie ons,
draai en swaai ons terug na die verlede.

Pappa; saggies neurie ek die wysie
van toekatyd se walse op die ou houtvloer.
Dans, dans asof niemand rondom ons bestaan nie,
dans ons laaste dans, totdat die sagte vlerksimbaal
jou na jou hemelhuis kom haal.

Jou silwergrys hare kartel om die draaibaan van my vinger,
pappa, hierdie laaste dans is joune.

Amanda Meyer De Meillon

SILWERKLAS

Februarie 2020 – Limeriek projek

1.Sannie Verwey

klein Sannie Verwey van oom Joep
hoor glad nie toe mamma haar roep
verstringel sy Jannie se hare
haar vingers vol moerbeibos blare
nou wieg sy die kind op die stoep

Amanda Meyer De Meillon

2.Delwer uit Bloem

daar was eendag ‘n delwer uit Bloem
wat graag elke meisie wou soen
hy misgis hom met Let
beland in die bed
nou moet hy maar tuiswerkies doen

Amanda Meyer De Meillon

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

1.Droomland

saggies trap klaasvakie
oor die vensterraam se rand
om sy heupe swaai ‘n sakkie
vol goue droomland sand
tik-tak tik-tak
steun oom horlosie op die rak
klaasvakie steek sy hand
diep binne in sy sak
grootoog lê die kleinding
onder sagte dons en gaap
goue droomland sand
gaan hom baie gou laat slaap
maanlig gooi haar strale
strelend oor die kind
‘n wiegeliedjie neurie
in die suising van die wind

Amanda Meyer De meillon

September 2020 – Liefdesprojek

2.My land, my lewe, my liefde

Ek ruik die rooi in die grond van my vaderland
terwyl die son oor die veld en die horison brand
en kwagga en wildebeest stof opskop in die Namib
luister ek na die grys kwêvoël se gesanik
en oor die kranse en klowe
word ‘n nuwe dagbreek belowe

Amanda Meyer De Meillon

September 2021 – Positiwiteisprojek

1.Somerbelofte

ek sien die spookasemgeur van perskepuntjies
hulle koppies opdraai in volle blom,
voel die warm sang van nuwe vrug
wat die somerson verwelkom

fynvlerk bloeiknop balarinas baljaar in die wind
ek hoor die witvlekvlerkies van ‘n blommekind,
ek ruik die roesbruin kleur van ou kromhout
proe die heuning in kleure van geel en goud

‘n nuwe seisoen wat stilweg ontvou
In kleurontploffing verdwyn wintergrou

Amanda De Meillon

Oktober 2021 – Akrostiese projek

3.Oktober trane

Onder die treurwilger bloei ’n roos
Kromsteel opgedraai na die son
Tranespikkels
Oggenddou
Blink soos diamant
Elke roosblaar
Roesrooi druppelnat

Amanda De Meillon

Desember 2021 – Metafoor projek

1.Winterspore

Winter se asem maak wit wasem teen my ruit
sy kromhoutvingers is koud en klam
wanneer dit om my hart kom sluit
sy jas se punt sleep saggies deur die boompies in my tuin
en laat dan tuimelend in kleurewonder
‘n helder blaremat verskyn
sy trane drup kristalwit op die bleekgroen van die gras
en los ‘n spierwit traanspoorsleepsel –
sy koue klou aan alles vas –
winter is ‘n stokou man wat sleepvoet stadig stap
met sy koue wintervoete
silwer spore in my tuin kom trap

Amanda De Meillon

Januarie 2022 – DRAMA projek

3.Lied vir Liza

aan Matroosberg se hang groei ‘n blom van vuur
tussen rotse en dorings en mos
vele Clovelly-vryers is daarheen gestuur
om ‘n blom uit die rots te verlos

die paadjie na bo was onmenslik
die ruiters het een-een gefaal
die vryers misluk in haar opdrag
om die blom uit sy skuilplek te haal

sing jou lied vir jou minnaar Liza
sing jou lied in die middernaguur –
in die donkernag het jou ydel en trots
jou liefde oor die afgrond gestuur

aan Matroosberg se hang groei ‘n blom van vuur
in die rotse tussen die dorings en mos
met haar wit gewaad in die middernaguur
dwaal haar gees in die haak-en-steek-bos

sy hande reik na die Disa
sy voete gly in die mos
hy hoor haar hartsverlange in haar treursang
die blom het sy lewe gekos

sing jou lied vir jou minnaar Liza
sing jou lied in die middernaguur –
in die donkernag het jou ydel en trots
hom na sy dood gestuur

*treursang = swanesang = finale optrede

Amanda De Meillon

Februarie 2022 – Liefdesprojek

1.Amor Agape

gevorm uit die braaksel van ’n psigopaat
in die buik van ‘n hoer
’n genoom
volmaakte chromosoom
verdeel en vermeerder
deur die liggaam uitgewerp
verwerp
soos opdrifsel in ‘n donker steeg
weggesmyt in ou koerantpapier…
tog, met arms wydgesper
taai rooi druppend onder doringkroon
skreeu U
vir jou sterf ek my kind
TETELESTAI –
Amor Agape

*Amor agape — God se Goddelike liefde. Die hoogste vorm van liefde

Amanda De Meillon

April 2022 – En toe… projek

1.Wit geskrik

Daar was eendag ‘n man van Phuket
En sy vroutjie die fraaie ou Het.
Met n skok sien ou Frans
Het is eintlik Hans
Toe hul skuins lê op die wittebroodbed

Amanda De Meillon

Junie 2022 – Winterlandskap projek

1.Liefde onbeskryflik groot

in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
haar wit gevlekte lyf
nakend in die holte
voetjies koud en styf
haar offer een van liefde
in die donker nag se klou
lippies wat eens rosig was
nou ‘n lewelose blou

in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
geen spoor was daar te vind
eggo stemme in die donker
in die suising van die wind
saggies neurie sy ‘n wysie
om haar boetie knus te hou
en in die donker sluit haar oë
terwyl die koue haar omvou

in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
slaap ‘n seuntjie onbewus
in die skuiling van ‘n miershoop
vind sy redder ewig rus

Amanda De Meillon

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

1.Uit die as

Sal ons ooit eendag kan verstaan waarom
die klein pionier na die brande blom
groen spatsel kleur wat verskyn in die as
soos ʼn Fenix wat uitreik na die son

Amanda De Meillon

Oktober 2022 – Liriese projek

2.Lente ontwaking

Winter kug ‘n laaste roesbruinblaar
en in die oostle bloos die lente,
haar boesem vlek roosrooi

Amanda De Meillon

Desember 2022 – Samesyn projek

3.Vlamme van vrees

ek sien jou laaste armswaai
deur die wasem van onthou
jou laaste klokkielag
nou net ‘n klank van rou
in die newels van die blou-blou lug
‘n vredesduif wat swenk in vlug
roet en rook – ‘n vlammesee
verskans die oggendson
die stilte skreeu verdowend
en eenkant op die grys beton
‘n halfverkoolde teddiebeer
die sagte dons van ‘n spierwit veer
‘n laaste samesyn
‘n avondmaal
vier klein kinderlyfies
deur die doodsengel kom haal

Amanda De Meillon

Februarie 2023 – BLOU Projek

2.semels in die seewier

vuurvliegies dans in die ligkrans van die maan
soet sluit see-akoorde by my hartklopritme aan
verlange splinter skerfies blink
as die lyfies in die lig rinkink

stil weergalm die blou van jou seer
in die roksoom wat oor die rotse sleep
en in die sug van die golwe
voel ek jou laaste smeekgebed

is jy werklik vry?
vry van die skuldklag
wat saam met die opdrifsel
in die korrelsand sleepspoor

jou liggaam wat wiegwals
in ‘n laaste serenadedans

*nuutskepping

sleepspoor – die sleepsel wat die golwe op die sand los
wiegwals – verwys na die ritme van die golwe wat heen en weer beweeg
see-akoorde – lied van die see

Amanda De Meillon

GOUE KLAS

Oktober 2023 – KORT projek

1.Verlange

my verlange kleingolf

in die rippelbreek van die meer

 

Amanda De Meillon

3.treurwilger

wilgertakke treur

oor my verlang

 

Amanda De Meillon

 

Desember 2023 – Veldslag projek

1.MacBeth

Donker naggeluide

drom om die kookpot saam,

terwyl die hoonlag van die hekse

jou saamsleep en laat glo

dat jy – Macbeth –

vir Duncan sal onttroon

 

terwyl jy handoormond die dood

van Banque en Duncan betreur

(jou vriende wat jy gewetenloos

na Hades stuur)

loop jou uurglas leeg

 

die kroon is nou verlore,

die kookpot draai,

in die kekkellag ruik jy

die rooi van eie bloed

wat die aarde dorstig voed

 

  • neologisme = handoormond = skynheilig skuldig

 

Amanda De Meillon

 

Januarie 2024 – OOP Projek

3.Jin en Jang

jare gelede is ons paadjie uitgelê –
joune en myne saam as een
hoe sou ons kon raai
dat die noodlot dan so sou draai

jin en jang verstrengel
(alleen tog een)
in Siamese-seestroom
tot stoeiende skuimsel
ritmies     heen en weer
heen en weer
boudswaaiend skommel en wieg

twee komposisies
saamgestelde materie
eenders tog anders
een tog twee
vinkel en koljander
elk lyk soos die ander
DNS-stringetjie
net ‘n ekstra klein spikkeltjie

heen en weer wals ons tesame
as een
maar tog elkeen alleen

 

amanda de Meillon

 

Februarie 2024 – Dolos projek

2.Keerwal teen die storm

Die hand het gedraai
en in ‘n oogwink was daar stormsee
wilde woeste water wat klotsend,
skuimend woede spoeg

op ‘n vuil verweerde boerbokvel
het jou talisman gestotter en gerol
… om en om en om
en voor jou eie voete tot stilstand gekom

heksemeester, jou bene is gekraak
die dolos van ons Meester
is ‘n keerwal wat oor hawe waak.

Amanda de Meillon

 

Mei 2024 – OOP projek

3.Herfs se laaste asem

herfs is gedoop in karmosyn – in bitter laatoeswyn
wanneer die son teen die berge lepellê,
met ‘n kus teen jou wang goeienag kom sê,
sleep die maan haar wolkkaros
oor vaal karoo en pienk kosmos

herfs is gedoop in karmosyn – in bitter laatoeswyn
wanneer haar laaste kopergeel snik
in stof en wind verstik,
gee sy oor aan die winter se grou,
verdor haar voetval in spierwit oggend dou

AmandaDMeilon

 

JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK

2.Openbaring 6 vers 6

gee vir my ’n rantsoen koring
vir die penning in my hand –
drie rantsoene gars, Here
ek het suiwer wyn gepars

wanneer die laaste seël
dan deur U geopen word
en die berge om ons val
reik my hande na U Here

want my oliekan is vol
my lampie staan gereed
en in die verte hoor ek
die armageddon kreet

Amanda DE MEILLON

 

JULIE 2024- OOP PROJEK

2.Verbode vrugte

 

duisend perde hoewe dawer teen die witvlek van my oor

ritmies en in metrum volg my pols hul spoor

vlindervlerk my vingers die kontoere van jou lyf

omkring hul elke detail in fynspoorsproei geskryf

seepskuimborrel sagte sleepsel

oor die krombuig van jou rug

verlustig ons tesame aan die verbode vrug

stomend warm wasem vorm druppels teen die muur

wanneer vingers inmekaarvleg in ons gesteelde uur

 

Amanda de Meillon

 

AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK

23.Waar was jy?

Waar was jy mamma

toe ek my eerste tree moes gee,

toe ek onseker en skaam die skool se stoep moes betree?

 

Waar was jy mamma

toe my voetjies sag soos vlindervlerke

oor die dansvloer Mozart-ritme gegly het

my oë soekend in die skare na ‘n afwesige jy?

 

Waar was jy mamma

toe ek in pure onskuld

my hart verloor het;

jou waarskuwing te laat gehoor het?

 

Waar was jy mamma

toe ek die kleine mensie teer

teen my hart kon druk

en deur onseker trane moes leer?

 

Waar was jy mamma?

 

Toe ek daardie laaste oproep kry –

wáár was ek mamma

toe jy so alleen

teen die donker moes stry?

 

Amanda dMeillon




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed