Caren Kearley
BRONSKLAS
JULIE 2017- Oop en nuwe projek
Eervolle vermelding
Om andersom te bid
2 Kor 5:1 – “Ons weet dat wanneer ons aardse woning wat maar net ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het.
Dis ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan.”
Hier waar ek sit en wonder
onder winter se nat wang;
as die aarde eendag nie meer vir jou draai
en die engele stil gebede om jou vleg
as tyd jou stoflik ontbeen
en jou asem moeg ophou wasem ̶
het jy geleef, gesweef en
jouself as een met alles beleef;
was jy hίér, in elke mooi oomblik se nou
of sit jy daar in die halfbleek strale
van jou eie ek en verwens
tydelike spasies wat om jou transmuteer
net omdat jy vergeet ’n ewige heerlikheid
van oneindige sekerheid sal eendag
soos ‘n hemel oor jou vou.
© 2017 Caren Kearley
Augustus 2017 – As die seisoene draai projek
2.Tussen seisoene
Terwyl ek die son se strale deur my hare trek,
treetjie-vir-treetjie deur die somers van my lewe stap
staar ek verdoold na dié vergete plek;
sy soene het my indertyd reeds ontsnap.
Winter het barbaars en hard geskop
met kil krete wat kleefkoggel
soms wou ek die vlaktes in galop,
maar die kosmos het geril en geroggel.
Nou is my hart na herfs hergiet
(in grys skakerings van niks vermom)
want geen seisoen is kwytgeskel van verdriet, en
selfs die koudste liefde smag na ‘n lengtevlam om te blom.
Caren Kearley
Oktober 2017 – Fees projek
3.Jolyt
As die lig van die volmaan oor my straal
wil ek my skoene uitskop, my hare losmaak
my hande hoog gooi, dans asof niks my traak
onder derduisende sterre wat saam my verdwaal.
want die lewensreis is ‘n Weense wals
al galm die simfonie soms so effe vals.
© 2017 Caren Kearley
November 2017 – Oop projek
2.Gebroke denker
Ek sit hier op ‘n rots,
starend na gebroke branderskuim
wensend dat ek ons wêreld reg kon dink
– sout versoet
donker verlig, of
vere vang voor dit val;
dalk met ‘n nuwe Einstein-teorie oor gebrokenheid
Murphy se wette kon herskryf
om perfeksie te vervolmaak.
Bitter blou van ons oseaan, hemel of lugruim
met sienende vingers om die stilkant
van duister vlaktes vou.
Bloed-abba-ende woorde
ademloos kon laat verbygaan.
Ek sit baie só
wonderend of jy weet
van die eerste gebod
geëts op die palm
van jou toegeklemde hand.
Caren Kearley
Eervolle vermelding
Die ongenooide gas
Ek kom sonder dat ek jou ken,
of jy my genooi het
om my ander wang ook te draai
– ritmies op die klank van “ in my lewe”
soos Mathys dit aflys, en ek
dans met my hoepelbeen
op jou voorstoep
want jou voordeurklokkie
het ‘n dowwe dong-dong deuntjie
wat die mis voor my oë weg rasper.
Nog voor jy die deur kon oopmaak,
om my ongenooid welkom te verklaar
moes ek my Josefskleed oor die stoepstoel hang,
want my stamboom het in ‘n vreemde woud ontkiem.
“Jóú klawers nog so vol klank.”
Al trap ek laag om hoog te mik
sal jou raaisels repeterend om my raaf
tot jy ook soos Pilatus jou hande was
die deur weer toeklap, en
wegstap,
© 2017 Caren Kearley
Vandag se wag
Jy’t geweet
ek wag;
oopbek soos Bainskloof se klowe
vir ‘n ster beligte nag.
“Toe lag jy net,
soos ‘n Langstraat slet.”
My twaalfde uur het gekom en stil-stil gegaan.
Klowe het hul howe gebowe, en jy
het letsels vol rowe;
vars bloed belowe.
Nou wag ek nie meer
want die seer het geleer
om God se genade te vereer.
© 2017 Caren Kearley
Eensaam
Wanneer die abstrakte afwesigheid
van jou frekwensie-draende
teenwoordigheid
soos bliksemstrale
deur my verlate kosmos eggo
om verduisterde vlaktes te verlig,
weet ek; nou dat jy weg is
is alles weer reg.
© Caren Kearley
Silwerklas
Maart 2018 – Digkuns projek
1.Die laaste klip
Sjuut, bly doodstil.
Kan jy dit ook hoor
geraamtes uit haar kas
soos Judas, Pilatus, Petrus en Brutus
wat uit al wat gat is bars –
korrel vir korrel veg sy
ses voet na bo.
Saam met blink gevryfde intensies
en ontrafelde verwagtinge
beur sy deur klippe en kluite
wat uit huise van glas
op haar neerdaal.
En vrywees word in weggooidroom
wat saam met sout teen haar wang afrol
terwyl hulle wat met skuimbekke;
geklee in wolwit skaapveljasse,
vloek, skel en hoonlag.
Sjuut, bly gou doodstil
miskien kan jy ook sien
hoe Sy naam in
haar handpalms bloei
voor jy nog ‘n klip optel.
© 2018 Caren Kearley
Mei 2018 – Moeders projek
2.Naelstringtaal
Vanaand sit ek mensalleen
terwyl my gedagtes herinneringe baar
moederliefde is ‘n kosbare ding
wat my hart in tale laat sing.
Waar is die dae toe ek nog knus
op haar skoot, my kon verluister
hoe Wolf vir Rooikappie fluister:
“Vat jy hierdie kortpad en ek die lange,
dan kyk ons wie is eerste daar.”
Ja, vanaand wonder ek oor die wolwe
wat sonder skerp tanne en witwoljasse
sommer net ons taal wil verontken
en wat ‘n wêreld vol kraaldiere
nou eintlik daaruit kan wen.
© 2018 Caren Kearley
September 2018 – Spyse vir die siel projek
2.Kos vir ‘n honger siel
Ek wil vir jou die somerson se skadu’s bring
my bakhand vol soene in jou hart saai
kaalvoet oor jou lyf dans en sing
en in die soet stiltes van jou siel baai.
Miskien kan ek tyd saam met jou versteen
of as alles donker raak, vir jou lig plant
dalk moet ek net ‘n bietjie van myself vir jou leen,
of jou wegvoer na my wêreld se hemelkant.
Ek wil nardusolie in jou voete vryf,
droomrefreine deur jou gedagtes laat sink,
Hooglied saam met jou herskryf
en in die skemer, sprokies saam met jou uitdink,
maar vanaand wil ek my ster in jou arms kom hang
en my vingers stralend streel oor jou siel se wang.
© 2018 Caren Kearley
November 2018
1.Soektog
Net omdat ek dié gedig skryf
beteken dit nie dat dit ék is, of my storie nie
ek skryf dit dalk vir ander uit ‘n ver plek
of vir jou,
want skryf is soos vlieg
oor blou oseane
en hoë berge
of sommer net deur stede
soos Parys, Los Angeles of Kaapstad
– dalk meer soos droom;
of soos lewe net vir nou
want skryf is nooit genoeg
as jy nie jou hart daarin sit nie
en my hart het ek êrens verloor.
© Caren Kearley
2.Wanneer dit reën in Parys
Wanneer skugter kaleidoskoop klanke
met sysagte sonstrale om hoop dans
reis ek so graag tussendeur gister en vandag
se nou spasies saam met tyd en sy gesange
tot in Parys en haar warm reën nagte
skuins voor oggend melodieë toesak
met tortels wat ‘n stad ontwaak
en my fyn geflenterde heimweë diep sug
spring ek saam met tyd
na daardie nag in Parys
toe ek jou gevind het
middernag druppels het ons ontvoer
tot waar my siel saam joune kon smelt
in ‘n oomblik van genade
kon ons mekaar belief
en vergeet van ‘n wêreld vol onrus
waar edelheid en onreg ongesiens om alles vaar
verby sig wat sedelik staar
daardie nag in Parys toe ek jou gewaar
en soms (soos nou) vang ek ‘n verbeeldingsvlug
saam met die mistieke boggelrug van Norte dam
terwyl verlange soos vlamme om my hart se punt brand
maar eendag wanneer dit weer reën
in Parys se strate
vind ek my dalk weer in jou arms.
© Caren Kearley
3.Riebeek-Wes
Ek het op die hoek van Hofstraat
gestaan en snaaks gekry vir myself;
ek is pad af,
ver van waar ek tuis voel
maar hier by Kasteelberg se voet
het ‘n ongekende ding my gegroet –
‘n salige vreedsaamheid
om die lyf van die mistige horison
sonder skaduwees, kronkelpaaie
en kwispelende gedagtes
– net wye vlaktes vas teen ‘n rots.
Ek het na binne gedraai
en grappies probeer soek
wat die waarheid kon wegsteek
toe sien ek ‘n kasteel,
Weswaarts
waar winde die weke en dae verbloem
en ek het gewens ek kon vlug
na ‘n grot, ‘n god of ‘n grens sonder einde
of dalk ‘n hemel, soos dié ene
waar die stiltes om jou
alles wat skeef is
reguit verf
met kwaste vol kleur en klank
soos die week waarin God
die aarde en alles om ons geskep het.
© 2018 Caren Kearley
Desember 2018 projek
1.Hand aan hand
Voor jou pad té nou raak
mag ek maar entweg saam met jou te stap
om jou hand styf vas te hou
tot by die laaste groot boom
tussen die hemel en jou hel
want my kop is nog vars en vroegsomer
lê saam met jou kaalgestroopte laatnag woorde
sekeldiep teen die horison van my naakte lyf
binne die buitelyne van jou kronkelpad
sien ek nog jou immergroen weivelde
en lilablou blomme wat bloei
teen die hange van jou berge
pretensieloos soos jy
jou stil winde swyg saam met die boeie om jou hart
maar ek wil graag saam met jou stap
net om jou naam vas te vers
teen die dikste stam
van laaste groot boom.
© 2018 Caren Kearley
2.Bitternag
Ondier, ondier my ding
die mislug skitter hemelhoog
die sekelmaan spook oor die berge
jy sit saam met Elia onder die besembos
en kla oor te veel van genoeg en te min van te veel
ek strek my hand na die nag en pluk die blinkste ster vir jou
met kleure en klanke geur ek die lig om jou in rooi, geel en oranje
duidelik sigbaar drup die diep donker jou leë glas halfvol
ek vat ‘n groot sluk, om jou weer op die been te kry
die bitter swart bloei deur vel en been na binne
sonder seer, sonder gedagtes en sonder jou
kaalgestroop deur ‘n nagemaakte nou
vang ek ‘n bietjie van jou nag
en dans tot die son
weer skyn.
© 2018 Caren Kearley
Maart 2019 projek
2.Binnevlug
Alleen by die huis
winter somer
eensaam in die donker gange
vol vrees wat nagklanke herstil
in die donker gange
waar alles verdwyn
in die donker gange
met diknag kloue
buite myself
(met bloed op my hande
en vuiste gebal)
stap ek na môre
stap ek verby gister
stap ek ver weg
deur velde vol daisies
wit gevlek
heilig
verby jou
binne myself
vol vrees wat nagklanke herstil
deur die donker gange
vlieg ek laag
ontdek ek myself
© 2019 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
Neologismes: diknag en herstil (weer stil maak)
Ries om die wêreld
Vir André
(deur Ingrid Jonker)
Olyf reise
bome water
jy met jou liggaam van varings
dromend in my arms digby die Seine
met jou liggaam
van wit gewels
met jou liggaam
van bitter son
in Barcelona
(agter die stiergevegte
die siëstas van jou oë
Reise van stilte
reise van mure
reise van marmer
koeplette van klein
hande
woorde
vergaan
maar jý
dromend in water varings en son
in my arms digby die Seine
gaan héén
bevrug die aarde
Julie 2019 projek – ‘n Reis in tyd
2.Retoriese Ruimtes
Buite die sfeer van my binnedenke
verstaan ek dat tyd relatief om alles hang
soos ek en jy en ons bestaan
en alles wat stelselmatig elke sekonde vergaan
alom die kern van veranderende winde
wat hulself eeuloos herhaal
selfs saam met my wens dat ons dieper kon wees
as net gedagtes, vel en been
veral as tonge goud spin in hul eie strale
soos daardie keer
toe jy ritmies om my ruimtes kon rank
verby my lyf en verstand
maar noudat dinge skielik dimensioneel dragtig raak
wonder ek weer oor tyd
en ons bestaan
se laaste sielsnaam.
3.Ek wens ek kon skryf soos ek droom
daar was ‘n draak in my droom
gisteraand na die dertiende uur
toe die nag sy donker begin oprol
hy het vuur oor my gespoeg
ek het in angs roerloos in my bed gelê
en gewens dat ek kon skryf soos ek droom
vreesvol, sielloos, geesvoos en bebroke
met ‘n malse honger wat waansinnig
soek na sinvolle sentimente
iewers tussen lewe en dood
ek het gewens dat ek myself in ‘n koma kon skryf
dat tyd kon stilstaan, soos dit soms in drome doen
en dat woorde ewig uit my kon bloei
dat ek minder sou droom oor oordeelsdae
en meer kon skryf oor dinge
wat diep in my ontwaak Kyk na my voorstel aangaande jou gedig:
‘n draak in my droom
gisteraand na die dertiende uur,
‘wyl die nag sy donker begin oprol
hy het vuur oor my gespoeg,
ek: in angs roerloos in my bed gelê
en gewens dat ek kon skryf soos ek droom –
vreesvol, sielloos, geesvoos en gebroke
met ‘n malse honger wat waansinnig
soek na sinvolle sentimente
iewers tussen lewe en dood
wens dat ek myself in ‘n koma kon skryf,
tyd stil kon staan, soos dit soms in drome doen;
dat ek minder sou droom oor oordeelsdae
en dat woorde ewig uit my kon bloei –
dat ek meer kon skryf oor dinge
wat diep in my ontwaak
Augustus 2019 – Wilde wind projek
2.Maanengel
Dis koud in ons kamer
die wind waai stil deur die huis
dis al Augustus in die Boland
en die skepping se stof
hang buite tussen Peperboomblare
en die oop ruimtes in my kop
ek is soms nog jy of ons
my gedagtes vertak verder
deur die donker gange van ons stil woning
versink ook in die immer-alleen
wat soos spoke om ons hang
verby die leerbanke en geelhout tafels
– so sonder om lewe hier raak te lees
jy draai terug en stap tot skuins voor gister
na die warm skadus van jou mensgrot
wat soos wolke aan jou skouers klou
ek staar na die groen maanmot
in die vensterbank voor my
hy dartel van bo na onder
– vas teen die glas-
en ek wonder
of sy maan
hom later
sal mis
© Caren Kearley
3.Opregtheid
Niks is meer soos gister nie
dink ek; met die maligheid van my eie saligheid
voor ek ontsnap na ‘n ongekende ewigheid
gee my dan eerder terug
aan alles wat ek gehad het
voor jý my pad kom teer het
met liedjies en lagstories
oor jou onverklaarbare liefde
wat Suidoosters kon opruk
of ligtorings leeg sou laat lyk
want ons is nou elkeen alleen
en ek sê weer
om asem te haal
maak soms opreg seer
© Caren Kearley
Maart 2020 – Triomfboog pojek
1.Haiku vir vandag
vleg tog my hare
of triomfboog my herfslyf
met jou hart en siel
© Mrt 2020, Caren Kearley
GOUE KLAS
April 2020 – Grendelprojek
1.Vasgepen
vasgepen op wit paper
tussen ylblou lyne
so wou ek jou ook vang
met klankgrendels in kort sinne
voor vroegskemer
haar pastelkleure oor jou kon verf
maar ek het nie geweet
of woorde die regte wapen was nie
om jou mee vas te pen
op wit papier
woord vir woord
in ‘n konvensionele vers
© April 2020 Caren Kearley
Mei 2020 – “Ek wens dat ek…” projek
3.Woestyngebed
Ek is ‘n wilde Kalahari kind
vaal verlate vlaktes verf my spore
dansend saam met sonbessies in die wind
gannas en brakbosse lag in my ore
en duskant vandag se skraal ure
soek ek jou nogsteeds soms in my drome
met dor hande; selfs in koue vure
tussen klip-koppies en kokerbome
en ek wens dat jy nou by my kon wees
soos ‘n woestynasem oor my kon blaas
sodat ek jou hart ‘n laaste keer kan lees
met die stilte van hierdie skor geraas
in dié horison se trillende hitte gloed
bid ek jóú mensgereed en myself vol moed
© Mei 2020 Caren Kearley
Junie 2020 – Vryheids projek
2.Ontsnapping
Ek lê in my armbuurt
saam met ryk mense
en ek hoor hoe baldadig
hulle in oorvloed lag en rondval
dronk gesuip aan hul eie ego’s
al wat ek wil doen is op die rug
van ‘n wilde perd spring
‒ verkieslik ‘n bloue met reënboog vlerke
en hierdie plek van lyding
agter my los sonder om my lyf te hou
hoe kan ek dit verduidelik
sonder om sekeres aanstoot te gee
dat vrywees ‘n binneding is wat swygend goël
godweet dis nie maklik om hierdie demone
met vreemde name in die gesig te staar nie
as hul maar my eie was sou dit seker
meer verklanklik wees om te verwerk
ek kla nie, nooit nie
dis nie my manier van leef nie
want ek wil dankbaar wees soos die heiliges
ek wil ook rustig op ‘n oorgroen grasperk sit
en kyk hoe kwikkies hul gatvere rondswaai
hoe die wind slapende bome wakker skud
ek probeer maar net aan ‘n plan dink
om te ontsnap van die klipgooiers
en sekslose verkragters
wat alles wat ek met soveel moeite
trane en liefde opgebou het
verplunder en afbrand
Maar hoe ontsnap ek dit
want alles is reeds in sy moer.
© Junie 2020 Caren Kearley
Julie 2020 – Klanknabootsingprojek
3.Ek is –
Ek is die seemeeu; speels in die wind
ek is die brander wat met laagwater hoog wil vlieg
en soms is ek die klank van jou stem
ek is die aand saam met jou onder die palms
toe ons nog kon lag en borrelhartig baljaar
maar vanaand is ek die stilte in jou gister
se suisende sloep-sliep ure
in die voorsekondes toe jy
vir die laaste keer
jou warm lippe om myne kon vou
en die eb en vloed van ons drome
tydloos oor oop strande kon spoel.
© Caren Kearley
Augustus 2020 – OOP projek
3.Metamorfloos
môre stap ons weer
oor ‘n onbekende pad
saam met bekende
vreemdelinge
verby ongedefinieerde oomblike
deur ‘n woud vol sekelbos en doring takke
en luister na ongehoorde klanke
saam met jakkals, klip en ander nomadiese nommers
en probeer meerdimensioneel wees
in die illusie van ons bestaan
asof ons grense met gemak kon gister
asof ek en jy inherent skroomloos
mekaar kon ontsê
maar so stap ons saam
asof alleenwees
‘n saamding kan word.
© Jan 2020 Caren Kearley
September 2020 – Liefdesprojek
2.Ek wil lewe
Vat my enige plek saam met jou
enige plek weg van hier
enige plek waar vergeet kan verlig
‘n plek met purper plesierighede
soos in die mik van jou arms
of oor die heuwels van jou heupe
waar jou hande veilig oor my kan veld
‘n plek waar buite ‘n binneding raak
waar net ek en jy kan verdwaal
sonder dat iemand ons sal soek
‘n plek waar ek rondborstig
oor jou kan rinkink
jy my labirinties oor die intertekstuele
ritmes van jou lyf kan abba
met glibberige hande my kan gelykmaak
vat my net weg van hier
want ek wil verpoeier,
verstof of verdwyn
sonder om dood te gaan
© Sept 2020 Caren Kearley
3.Metafoormens
Ek het gisteraand aan die slaap geraak
in ‘n sterrebed met jou hier aan my sy
ons het soos dryfsiele in jou bed gesweef
‘n hele nag later wakker geword en geweet
die lakens tussen ons is te dik
die kamer ruik na slaap en sweet.
Jou hande het nog vasgekleef aan my vel
en ek het gewens dat ons stilweg só kon sterf
soos een verdeelbaar in ons andersheid
godweet dat ek oor en oor
so wou wakker word in jou arms
versiel met ‘n metafoormens soos jy
een wat alles om ons kon versing
verse kon vleg deur my hare
my handpalms vas teen jou kaal bors kon plant
een soos jy
wat my so maklik onverstaanbaar sou verklaar
omdat ek nie soos jy kon wees nie.
© Sept 2020 Caren Kearley
Oktober 2020 – OOP projelk
1.oestyd na droogte
Het ek my verbeel
of het jou kruiphand
my middel omsingel
— jy my lyf lankenlangs
nader getrek tot duskant jou horisongrens
diep verby jou ongetemde binnewand
het ek my verbeel
of het jou woorde te swaar geraak
tussen die veldblomme wat jy
in hierdie ontspoorde oestyd
so gereeld in my vlegsel druk
terwyl ek my nat lippe op jou lyfland plant
het ek my verbeel
of oes ons die jaar
alles wat ons in die droogte
se leë dambodems kon opspoor
in oorvloedige raaisels
en mag ek elke aand droom
dat nog ‘n droogte ons ewig sal vermy.
© Okt 2020 Caren Kearley
November 2020 – Samesyn-projek
2.Mensmin
is baie
Ek het nie baie nie,
het ek vandag weer besef,
maar ek kan woorde vir jou omdop
sodat jy saam met my op water kan loop
dit in my eenvoud raam,
terwyl my oë halflyf
deur jou siel sink
my vingers oor jou kortrib streel
verby die sagkant van jou sixpack
tot jy snak-snak-snak en
my mensbekende tale
jou vreemd laat voel,
want met die bietjie wat ek het
weet ek hoe baie jy vir my is.
© 2017 Caren Kearley
Desember 2020 – OOP-projek
1.Heil die leser
Ek bewonder mense soos jy
wat met oordeel lees
asof jy dit self kon skryf
jý wat daar sit
met jou halfleë mond
vol verlossings letters
en afgeronde text
asof jy weet hoe dit voel
om benoud wakker te raak
met woorde wat jou aanval
*
in die stort
in die middel van die nag
self nou
– terwyl jy lees
het ek ‘n
onbeheersde begeerte
om jou met ‘n vers
van jouself te vervreem
mense soos jy
weet nie hoe dit voel
as reël drie nooit sal rym nie
as kwartyn homself konvensioneel verklaar
of as jou slotstrofe
asem deur jou vingerpunte blaas
omdat jou gedig alles opsom
wat jy nooit in woorde kon sê nie.
© Desember 2020 Caren Kearley
Januarie 2021 – Verwagting(s) projek
3.Onaangeraak
As ek vandag êrens in die Kgalagadi park
tussen Hartebees, Wildebeest en Afrika Luiperds
kon sit sommer net so platgat in die stof
sou ek my vergryp aan die wonders van ons land
ek sou vergeet van die Boland se berge
en my Vallei vol stomp goue koringlande.
Ek dink ek sou eers Sekretarisvoëls en Valke bestudeer
ek sou verdrink in die habitatte en ekosisteme
en al die goed wat geld nie kan koop
ek sou vergeet van die gat in my hart
die letsels op my siel en my onvoltooide spore
dalk die woede in my mak wou maak.
Ek sou aan niks wou vat nie
ook nie ‘n binne begeerte hê om iets na te laat nie
ek sou eerder alles net so los
myself ook net so wou los
saam met my spoke en skadu’s onder ‘n boom sit
en stil-stil asem haal
tot alles om my verstof.
© Januarie 2021 Caren Kearley
Februarie 2021 – Liefdes projek
1.Toegang verbode
Laat jou sluier val
as middelaar tot my lyftaal
laat ek verse oor jou ploeg
oor die naak velde
van jou oorbegroeide gedagtes
laat my toe om in jou binnekamer te dans
die warme weerstand van jou duistenis te betas
laat my liggelowig langs jou sit
in die stilte van jou wreedste storm
omnagtelik die donker ure saam met jou deur te sidder
selfs snags wanneer jou asempoorte te nou word
en die mishorings van jou bevlekte verlede
golwend om jou grense breek
laat my toe om jou vas te hou
asof die ewigheid van ons saamwees
jou skerwes heel kan maak
laat my net toe
om naby jou te wees
wanneer jy gebroke
oor die akkers van my sondes saai
want ek is lief vir jou.
© Februarie 2021 Caren Kearley
Maart 2021 – Liefdes projek
2.Skemer drome
Jy laat my ‘n klipsteen stoep bou
een met ‘n tafel en ‘n dubbel bankie
onder ‘n groen druiweprieel
met gekartelde potplante
‒ hier en daar
vol Kalahari kaktusse
en bonsai boompies
een met ‘n borrelende fontein
en die fyn geur van onsterflikheid
een wat uitloop op ‘n gryspad
tot onder ‘n Jakaranda boom
waar ons vir die somerson kan wegkruip
een wat uitkyk oor lugkastele
en oeswolke vol blou beloftes
waar ons ons koppe aan die hemel kan hang
bloeiselblomme van mekaar se lippe kan pik
terwyl die son in skugter skakering agter berge sak
een waar ons mekaar in helftes kan deel
tussen jou en my.
© Maart 2021 Caren Kearley
April 2021 – Oordenkingsprojek
2.Wie sal my kan red
Sal jy my kom haal
wanneer ek myself donkerhartig vasbid teen ‘n kruis
van pynskroeiende môrevrese
terwyl ek sleepvoet stap op my Golgota pad
sal jy my in die middernagure kom red
wanneer wakkerlê my vaspen
teen die slotreël van my laaste droom
en ek myself verban na niemandsland
of moet ek eerder aan ‘n asynlappie suig
en voor die duisterniskoning neerbuig.
© April 2021 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
• donkerhartig – iets soos terneerslagtig of hardseer
Mei 2021 – OOP Projek
Eervolle vermelding
Flentervrou
Sy sit op die sypaadjie voor Pick & Pay
haar skoene flenters
haar klere maande laas gewas
sy vra vir brood toe ek verbystap
haar oë is leeg
en ek wonder
hoe leef mens só met niks
in die afwesigheid van alles
tussen dorpsvoëltjies
en ander legends
op ‘n plek
waar niemand jou raaksien nie.
© 2021 Caren Kearley
Junie 2021 – Intekstualiteit projek
2.Interteksuele uitdaging
Strooi my as oor die oseaan.
los my daar
wild en stormvol en ewig
vleesloosvry en hawevoos;
met bruisende golwe
tussen wind, sterre en die maan,
dobberend tussen kontinente –
laat my vaar,
vortex om my realiteit
toeskietlik in my onvergangklikhied.
Strooi my as oor die oseaan.
vergeteld in die eggo van my bestaan,
© Junie 2021 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
(BRONTEKS, met apologie aan INkmoderator)
Julie 2021 – OOP projek
2.Soms
Soms wil ek ook breek
soos ‘n brander oor ‘n bonkige rots
om in duisend stukkies te spat
vloed oor ‘n oop strand
terug eb in patrone
oor sand en skulpe
om weer heel te raak.
© Julie 2021 Caren Kearley
Augustus 2021 – As die blare val projek
2.Soos ‘n blaar wat val
Ons is anders as alles
met buiteseisoene wat inwaarts woed
verlore en verlate as gevolg van onsself
elke keer as ek ‘n mens hoor gaan
spartel gedagtes in my kop;
verkorrel die verloop van tyd deur my vingers
– dis juis dan dat ek so graag wil vlug
êrens na ‘n ander plek soos ‘n windswael
maar miskien verbeel ek my
miskien is alles net ‘n toneelspel
of iets uit Shakespeare se sonnette
‘n ongeskrewe verhaal
of net nog ‘n blaar wat van ‘n boom af val.
© Aug2021 Caren Kearley
Februarie 2022 – Liefdesprojek
2.Sielsvervoering
Wanneer ek weer sterre pluk
wil ek jou skelm saamsleep
met uitgestrekte hande
silwer stringe om jou heupe snoer
sodat jy saam kan sweef
sonder dat iemand ons ontsyfer
of ons astrologies probeer ontleed
wanneer ek my planete
aan jou lippe hang.
© Feb 2022 Caren Kearley
Mei 2022 – OOP projek
1.Binne seisoen
En nou weet ek ook
dat my somer en winter
hand aan hand kan loop.
© MEI 2022 Caren Kearley
2.Leonard se song
Jy het té lank eenkant gestaan
terwyl die opkoms en afstyg
van die stil spasies in jou lewendige oë
vergeet het om te onthou dat liefde ‘n spel is
nie ‘n herhaling van gister nie
nie die stemme in jou kop
wat met gekamoefleurde klanke
jou gehoor verwilder nie
nie iets wat jou drome
en nagmerries teister nie.
Nee, dis ‘n doodgewone kuns
om mekaar op te lig
soms sag te laat val
weer op te staan en saam te sweef
en so dan
in die skadus
van mekaar se arms
te dans
tot die einde
soos Leonard sou sing.
© April 2022 Caren Kearley
Junie 2022 – Winterlandskap projek
2.Heilige katedraal
wanneer die ure uitloop en die nag haar sterre oor ons hang
in die ryptrap van ‘n winterlandskap waar heilighede katedraal
daar waar die donker breekdun word onder drome wat vlak sweef
wanneer die ure uitloop en die nag haar sterre oor ons hang
daar sal ek jou kom haal en jou kokonlyf ewig binne my laat leef
met ons weikamp nog nat lê ingetoë met vas bevryde ritmes geweef
wanneer die ure uitloop en die nag haar sterre oor ons hang
in die ryptrap van ‘n winterlandskap waar heilighede katedraal
© 6/2020 Caren Kearley
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
3.vergeef om te vergeet
Ek weet ook nou dat jy net gemaak het asof jy lewe
want orals lê lyke rondom jou en bewe
so, voor vrees my nou weer opsluit en ontspoor
vou ek my hande saam om jou te vergewe.
© 7/2022 Caren Kearley
Augustus 2022 – My huis is my woning projek
2.Laaste vers
En snags as jy droom
en die nag haar arms om jou vou
sal jy my laaste
vers aan jou ook onthou
die een waar ek bid
dat jy weer heel moet word
veral die strofe
waar ek wens
dat jy my sal kom haal
en my huis toe sal vat.
© 7/2022 Caren Kearley
Januarie 2023 – Projek NUUT
3.Tydig
‘n Tydgod het haar gevang
met ‘n droom
naby ‘n waterstroom
want jy is die sout van haar aarde
omdat jy haar taal kon bemeester
elke horrelklank
elke grypwoord
elke krom lettergreep
het jy verstaan
selfs toe stiltes
swart kepe in haar asem kap
het jy geweet
hoe om haar los te skeur
uit haar vergetelheidsera.
© 01/2023 Caren Kearley
Maart 2023 – OOP Projek
2.Swyg
Dit het niks met digters te doen nie
ook nie met skrywers se sondes nie
dit het nie vandag gebeur nie
want gister het ook te gou gekom
hier waar ons in ons donker gange
rond tas na iets om aan vas te hou
het woorde
in die buiteklanke
van ons binnekamers
dood gebloei.
© 02/2023 Caren Kearley
April 2023 – KLUG projek
2.Verloënde spore
Die dag toe Afrika my insluk
en sy haar kors vol kluite en klonte
oor my siel stort
moes ek geweet het
te laat sal te vroeg nooit kan vervang
terwyl die laksman oor ons lamtes loer
het ek my skouersak gepak
kaalvoet die mense om my gegroet
verby die leë krale in die Karoo gestap
gehuil oor die misoeste in ons volksverwoeste land
sifsels van gister se stof
het my longe verbrand
maar ek moes aanhou stap
weg van hier
onder toe
verby die karkasse en wit bene
moes ek myself ontheg
van my geboorteland
myself vry gemaak
van hierdie mistifiserende chaos
wat alles en almal
aan flarde skeur.
© Caren Kearley
3.Skuins voor my oggend breek
(uit ‘n ma se hart)
Selfs in die eerste oomblik
van elke wakkerword
binne my
slinger jou naam
om en om my
onbevlek
soos die son
se eerste godsvresende strale
as ek kon sou ek jou só graag wou red
uit die hande van daai monster
wat jy met soveel agting bejeën
want ek weet
jy gaan eendag wakker word
en opstaan
net om te onthou
dat ek die een was
wat mensalleen die mes
uit jou rug moes trek
om jou
uit sy hande te red.
© Arpil 2023 Caren Kearley
Junie 2023 – Winter projek
2.Haikoe (misdroeftig)
Dis koud hier by my
misdroeftig verwinter ek
styf in jou arm.
© 06/2023 Caren Kearley
FB: Nimfoleptiese Woorde
Eervolle vcermelding
Haikoe (wegjabbel)
Toe winter my vat
‘n duisend myl ver van jou
moes ek wegjabbel.
© 06/2023 Caren Kearley
FB: Nimfoleptiese Woorde
November 2023 – OOP projek
3.Verskeurde gedagtes
Hier op die platteland
in die Swartland
het ek gesien
hoe oggende kan blom
en die nag haar naak
oor ‘n mens kan hang.
Ek het gevoel
hoe kole in my oë brand
in die yl gehoor van niks
onder skemer se kalklig
tussen verskeurde koringlande
waar niemand weet
wat regtig saak maak nie.
©11/2023 Caren Kearley
FB: Nimfoleptiese Woorde
Desember 2024 – Kersfees projek
1.helder ster
Dis heerlike Kersfees, nog ’n jaar is verby,
ons hou weer vakansie, net ek en jy.
Ons luister na golwe, ons braai op die stoep,
tot die Ster van Betlehem na ons roep.
© 12/2024 Caren Kearley
3.vir jou my lief
“Kersfees klokke sing ‘n sagte melodie,
sterre dans in heilige harmonie.
Ek pluk die helderste een vir jou,
my lief, om in jou hart te hou.”
© 12/2024 Caren Kearley