Christa Diederiks
BRONSKLAS
FEBRUARIE 2025 – WATER PROJEK
1.Akwakooi
‘n See getooi in sonsatyn
gestreep in gouegrys akwaplooi
sag gekant in korreltjies fyn
afgerond in wit pêrel sproei.
In goue kroonkrale belyn
sak son sag in sy akwakooi
sy glans versmelt in waterlyn
sonsoentjies in elke plooi.
‘n Ligte wind bring golfies klein
seeperdjies dans in son se gloei
wiegend in ‘n akwarefrein
in die eb en vloed vloei.
As son se gloed oor horison verdwyn
rus grys skadus in akwaplooi
branders borrel soos soet wyn
en ‘n vrede vloei in maan se gloei.
C Diederiks ©
April 2025 – AARDE projek
1.Ons asem, ons paradys
‘n Lewende sfeer geskep in perfeksie
lappiesland en see geplooi
waar riviere in kronkelweë vloei
sweef sterre in ‘n simfoniese refleksie.
Ons aarde, ons asem
die bron van ons bestaan
‘n Legkaart getooi in kleurharmonie
lewende wesens soos spikkels uitgestrooi
van kern tot kors uniek getooi
geveerde melodieuse orkestrasie
Ons aarde, ons asem
die bron van ons bestaan.
Christa Diederiks ©
2.Waterlyn
Op die donker blou waterlyn
het die groot grys gevaarte verskyn
‘n strepie op die horison se rand
vasgeplak aan die aardbol se wand.
In die donker dieptes van die see
lê vergete skepe se gebroke weë.
Kontrasterend in die helder blou lug
sweef sagte spierwit donsies op vlug
daar waar grys met blou grensloos dans
in perfekte balans.
Golf en wolk gestreep in silwer sonskyn
waar die groot gevaarte oor die waterlyn verdwyn.
Christa Diederiks ©
MEI 2025 – OOP PROJEK
3.Genesende Rots
Aardlippe bewe
as rotse val
pyn, verlange, twyfel
onsekerheid skeur
vure brand met
woede, angs en hartseer
Rook laat my
verblind, verwese en verward
Luister maar hoor niks
hoor – maar luister nie
Afgestomp, hopeloos en verdwaal
Grou, o Gees van God
lê my binneruim verrot
kom krap die sweer oop
maak skoon
was my
met Lewendewater
vul die krake, skeure en slote.
Bou my op
plant my anker en ketting my
aan die Ewige Rots.
Christa Diederiks ©
JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK
2.Op blokkies van vrede
Op ‘n groen-en-blou Skotse blokkieskombers
keurig geweef met goue geluk se gare,
‘n tere toonbeeld van harmonie en vrede,
‘n skans teen klamheid van benede.
Staan ‘n boepens mandjie, propvol lekkernye:
geel-oranje, gladdewang perskes
soos sonskynvreugde blinkend mooi;
resiesrooi kersietamaties
‘n simbool van liefde wat bloei.
Sagtegroen slaaiblare
soos engelvlerke teer gevou en geplooi
bruin gevulde driehoekbroodjies –
simbolies van perfekte verhoudingsgroei.
Purperrooi druiwe borrelsap,
plonsende passie in kristalglans gegooi.
Toegevou in die natuur se skilderdoek,
waar vlerkvriende sing in harmonie,
‘n sagte strelende stroompie ons gedagtes lei,
en liefde fluister op die wieke van die wind.
Hier waar geluk in die kleinste oomblikke skuil
vind ons voeding vir ‘n honger siel.
Christa Diederiks ©
SILWERKLAS
()