Christa Diederiks
BRONSKLAS
FEBRUARIE 2025 – WATER PROJEK
1.Akwakooi
‘n See getooi in sonsatyn
gestreep in gouegrys akwaplooi
sag gekant in korreltjies fyn
afgerond in wit pêrel sproei.
In goue kroonkrale belyn
sak son sag in sy akwakooi
sy glans versmelt in waterlyn
sonsoentjies in elke plooi.
‘n Ligte wind bring golfies klein
seeperdjies dans in son se gloei
wiegend in ‘n akwarefrein
in die eb en vloed vloei.
As son se gloed oor horison verdwyn
rus grys skadus in akwaplooi
branders borrel soos soet wyn
en ‘n vrede vloei in maan se gloei.
C Diederiks ©
April 2025 – AARDE projek
1.Ons asem, ons paradys
‘n Lewende sfeer geskep in perfeksie
lappiesland en see geplooi
waar riviere in kronkelweë vloei
sweef sterre in ‘n simfoniese refleksie.
Ons aarde, ons asem
die bron van ons bestaan
‘n Legkaart getooi in kleurharmonie
lewende wesens soos spikkels uitgestrooi
van kern tot kors uniek getooi
geveerde melodieuse orkestrasie
Ons aarde, ons asem
die bron van ons bestaan.
Christa Diederiks ©
2.Waterlyn
Op die donker blou waterlyn
het die groot grys gevaarte verskyn
‘n strepie op die horison se rand
vasgeplak aan die aardbol se wand.
In die donker dieptes van die see
lê vergete skepe se gebroke weë.
Kontrasterend in die helder blou lug
sweef sagte spierwit donsies op vlug
daar waar grys met blou grensloos dans
in perfekte balans.
Golf en wolk gestreep in silwer sonskyn
waar die groot gevaarte oor die waterlyn verdwyn.
Christa Diederiks ©
(3)