Colin Steyn
Bronsklas
November 2020 – Samesyn-projek
2.Kersligkuier
Die ootmoed van die middeljaaruur
spog nie meer om die braaivleisvuur
Voorspelbare klagtes oor die politiek
los ons vir die benoude kliek
Maar sug tog as die Bokke brou
Waar is ons Danie Gerber nou ?
Ons koester nog die romantiek
die wonderwêreld van musiek
die voorreg om nog te kan werk
die relevansie van die kerk
Die kring vernou met skemerlig
Tonge raak swaar van hartsgewig
Donker vergeet van als oorbodig
Die siel moet bieg : ek het jou nodig
Kerslig kom smelt ons kors soos was
Saamwees maak harte los en vas
Colin Steyn
Julie 2023 – OOP projek
2.ek wéét
ek weet van die noorderligte
wat die mensrede oorrompel
en groot watervalwonders
wat die siel tot stilte dompel
dat verstommende prestasies
die mensheid so bekoor
ons meevoer in euforie
waarin ons onsself verloor
ek weet daar’s reuse rykdomme
onmeetbaar op ‘n skaal
en ‘n oormaat geil genietinge
waarin die aardmens kan verdwaal
maar ek wéét dat ál die gawes
aan hierdie mensehart gegee
smelt in jou louterwarm liefde
soos n emmer in die see
Colin Steyn
September 2023 – OOP projek
2.aanlyn-pofeet
Jy weet meer as Wikipedia
die aap is uit die mou
op sosiale media
plant jy die beter hou
Jou intro weet al lankal
– wat die meeste nie verstaan . . . –
dan vloei jou dieper insig
soos water uit ‘n kraan
Dit waarmee bleek sterflinge stoei
het jy lankal uitgeklaar
die antwoorde wat in jou broei
is ‘n edele gebaar
maar die plig tot raad oorskrei jou baan
al word dit nie gevra nie
en word dit in die wind geslaan
kan jy dit nie verstaan nie
tot die krap-krap van jou credo
jou relevansie erodeer
en die radar van jou volgers
jou seine ignoreer
-cs-sept-2023- Colin Steyn
Januarie 2024 – OOP Projek
1.Lobgevegte tussen verse
Ek staal my by die lees van woorde
wat oor my spoel uit alle oorde
tussen taalsuiwerheid wat drup
en dié met ‘n stappel in sy hup
My regterlob, hoogs onontwikkeld
is op sy beste maar versukkeld
My linkerlob, versot op rede
snak na die sin in Griekse snede
Ek spartel tussen skommel-frases
verloor die goue draad deur fases
Ek voel my dom waar ander swymel
terwyl ek dronk deur woorde tuimel
Maar praat dit vêr-links Afrikaans
voel dit weer soos ‘n kopstamp-dans
begin sy skoon-banale streling
die aftelling na my verveling
Ek skud my kop oor my gebrek
aan artistieke intellek
Ek wroeg te veel waar ek dit mis
want woorde kerf sy eie nis
So ploeg ek maar die middelgrond
en saai my woorde nie te bont
My lobbe doen hul hele bes
om dit weerskante te bemes
Ek skryf nie vir die resensente
waardering van die plebs, my rente
en met respek, Meders en Perse
Ek is mos ek, en so my verse
Colin Steyn
2.Onpeilbare wisselwerking
Dink ons ooit daaraan
dat die dieptes van harmonie
en louter liefde uit die wese van God
die grondslag van die skepping was?
En besef ons net so helder
dat Hy die broos komplekse mens
as Sy vennoot gekies het
om dit alles te koester?
Weeg ons die waarheid wel genoeg
dat sonder die vryheid om te kies
ons nooit die beelddraer van die vrye opperwese sou kon wees nie?
Want dan was die lewe net een uitgerekte kleedrepetisie
van robotte
sonder outentieke intensie
sonder teleurstelling
sonder verrassing
sonder hart
So lê ons lewenswerklikheid
tussen die goue bedoelinge
van die eindeloos troue God
en
die chroniese gevolge van ons feilbare strewes en keuses
Die vreemd-bekende wisselwerking
die ontsagwekkende misterie
van die dae van ons lewens
Colin Steyn
SILWERKLAS
Februarie 2024 – Dolos projek
2.Retoriek
as ek blinkoog waag waar ander faal
en dit word helaas ook my verhaal
as my dapper drome my beskaam
en ek druipstert terugkruip in my raam
as ek sukkel om die blaam te vind
in grootmenswaan dog ewig kind
as ek die tuimeltrein leer ken
wat net soveel verloor as wen
is dit bloot die voorsienigheid
wat my kom toets in lag en stryd
of het die dolosse geval
tussen heuningbier en nastergal?
Colin Steyn
MAART 2024 – OOP PROJEK
1.Uitgepars
die môrester begroet hul daar
die kort nag lank vergete
mens en masjien werk onverpoosd
deur skroeiwarm dae, verbete
die kulminasie tot die vrug
op die roep van die natuur
na die lang verwagte oestyd
in die songedrenkte uur
tot die swanger vragte eindelik taan
en die son skuif uit sy somerbaan
en die wynstok gee gelate oor
wat ander wen, het hy verloor
dis asof dit die teken is
tot herfsverval en koue rus
as die haas ontbinde parstyd-reste
saam profeteer oor die oesjaar-beste
Colin Steyn
3.Poort na gister
geen dekor is nodig
om die toneel op te kikker nie
die ouwêreldse eenvoud is genoeg
net die plaashek
en die uitgetrapte tweespoorpad
my poort na gister
waar ek deur kon sien
maar nie kon beheer nie
onopgesmuk
maar nie moeiteloos nie
o die louter nostalgie
van ‘n vreemd-bekende werklikheid
van dit wat was
en dalk
kon gewees het
iewers in ‘n sagte doek toegevou
met ‘n tikkie hartseer
en ‘n tikkie vrede
dis net
die seeroog
is die slot
Colin Steyn
APRIL 2024 – UIT DIE OOG VAN ‘N KIND PROJEK
3.Kindertroos
Meer as ‘n godsdienstige dissipline
of ‘n geestelikheidjie op my kerfstok
of ‘n strawwe skoot breingimnastiek
wat sê ek’s wel al voel ek siek
kom die refrein – moet julle nie kwel nie
nie net as ‘n opdrag uit die hoogte
terwyl ek spartel in my nood
nie net gelaai met groot gesag
deur een wat sê Hy het alle mag
maar ‘n gestroopte troosbelewenis
want die anker van die wyse raad
lê in die Vaderhart-motief
wat kinders
deur kommer gekasty
met omgeesalf van angs bevry
Colin Steyn
Mei 2024 – OOP projek
1.Dit is so
Die listigheid vra selfvoldaan
en saai die eerste twyfelsaad
Is dit dan so dat God gesê het
vermy die kennis van die kwaad?
Eva se antwoord lok repliek
wat sê – nee God is net bevrees
dat jul deur hierdie wonderkennis
aan Hom gelyk sal wees –
en deur die eeue hang die vrae
in ons immer twyfelaarsgemoed
is Hy die groot almagtige ?
is Sy bedoelinge altyd goed?
toe kom die antwoord eeue later
in die Hebreërs se boek
Hy is die enigste EK IS
en Hy beloon dié wat Hom soek
Colin Steyn
Februarie – Water projek
2.Waterskeiding
Toe die aarde nog woes was, toe was jy al daar
Jy’t gebreek toe die eerste moeder moes baar
By die sondvloed laat jou strafbevel
net agt in die lewe om dit oor te vertel
Die skelfsee oorspoel die Egiptiese mag
en die slawevolk loop vry ná vier eeue se wag
Moses slaan die rots toe hul moed begin kwyn
en jou strome van lewe vloei in die woestyn
Toe hulle na jare weer deur jou moes gaan
begrawe jy hul slawesmaad in die Jordaan
Die swerwersgeslag, deur vernedering verwelk
blom weer in die land van heuning en melk
Die Godmens verrys uit dieselfde rivierwater
met ‘n stem uit die hemel, meer as twaalf eeue later
Deurdrenk staan Hy daar, in die mensheid gedompel
tot redding vir dié deur Sy strome oorrompel
©-cs-feb-25 Colin Steyn
Maart 2025 – OOP projek
1.Die strik van sien
Ons staar verwonderd na ‘n skildery, ontroer deur die estetiese van die kunste
Ons raak nostalgies in die herlewing
van haas vergete juweeltjies uit vervloë dae
Ons waardeer oomblikke van vrede,
die rare belewenis van ‘n versadigde gemoed,
‘n stukkie hemel op aarde
Ons koester die liefde,
die mees beskrewe maar steeds gebrekkig
uitgebeelde spesiale band,
wat tog net in die binnemens beleef kan word
Ons beleef die bewussyn van die verhewe binne-dinge, onderskei van die bloot sintuiglike
Is dit nie wat van ons mense maak,
weinig minder as goddelike wesens,
ons verhef bo die oënskynlike nie?
Is dit nie die wentelpunt
waar die aandrang op ‘n sienlike godheid,
wat ons met ‘n skalpel onder ‘n mikroskoop
sou kon dissekteer en beoordeel,
so volslae uit sy diepte bevind word nie?
©️-cs-mrt-25 Colin Steyn
(7)