Jongste aktiwiteit:

Drienie Joubert Kelly
vir

Drienie Joubert Kelly

Lees meer oor Drienie

BRONSKLAS

FEBRUARIE 2023 – BLOU projek

3.Hulle dink hulle is vry

son het skaars teen skemer gaan lê
en wolke bruis soos branders teen die blou
druppels balsem die Karoo se skurwe lyf
wyl genade haar in vertroosting omvou

salig rinkink my oë oor die vlaktes se wyd
hul bokspring tot teen die horison se lyn
en ver in die stilte roep ń jakkals na sy maat
terwyl dag geruisloos in die donker verdwyn

salig rus my siel, my drome dink hul is vry
skaduwees skeletskets teen die kamer se muur
en ek drink aan die soet van my denke
my dankbaarheid dans soos ń vlammende vuur

vir ń wyle kan ek vergeet van droogte, lyding, en smart
ja, vannag kan ek lappetrap met psalms in my jubelende hart

©️Drienie Joubert Kelly
Voetnota ( Neologismes)
skeletskets – lyftaal
lappetrap – slaap

 

*WENNER VAN GHA 2022

*SKRYF DIE WOORDE VAN DIE WENLIEDJIE VIR AFRI-INDI SANG TOEKENNING: JENNIFER ZAMUDIO – VERGEET MY NIE (BEST POP SINGLE – 2023)

 

Maart 2023 – OOP projek

1.Skink vir my die heelal

skink vir my die heelal
ń borrelende dag
ń sopie vol van sonskyn
die wind se skaterlag

skink vir my die heelal
oor berge vol van ys
maak whiskey van die reën
wyl storms buite suis

skink vir my die heelal
laat my teug aan druif se soet
laat die borrels van geluk
sprankel deur my gemoed

skink vir my die heelal
ń skemer sag en mooi
ń kersieson vol vreugde
gedoop in sagte rooi

skink vir my die heelal
maak my glas met sterre vol
laat my drink aan aand se vrede
tot tyd se ure stol

©️Drienie Joubert Kelly

 

2.Die spoke van duister

ek dwaal vanaand oor vlaktes van wanbegrip
tussen die korreltjies van verwarring
hier waar die maan se skynsel
oor my vallei van troebelwater dans

onbeantwoorde vrae weergalm soos eggo’s
bons tussen die hange van my siel
en gaan rus dan soos onheilskadu’s
in my hart se blatante onsekerheid

iewers in die skryende stilte van die nag
moet Venus tog haar verskyning maak
om die pikswart van vrees net effens te verlig
en die spoke van duister tot rus te dwing

©Drienie Joubert Kelly




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed