Jongste aktiwiteit:

Elize Kruger
vir

Elize Kruger

Lees meer oor Elize Kruger

BRONSKLAS

Februarie 2022 – Liefdesprojek

1.Daar is ‘n vrou in elke geur

Soek haar nie in rooi hartjies
en langsteelrose nie
maar vind haar in die kleure van die veld
waar die roesrooi van die duine
in boesmangras
en skaapbosgroen versmelt
as sononder sy kleurespel
met wolkformasies deel
haar toevou in ‘n josefsjas
van lila, blou en gansdonsgeel
seël in haar hart met driedoringgom
die passie van ‘n botterblom
en bemin haar in nuanses van pastel

©️Elize Kruger

2.Stilspeletjie

Liefde is ‘n enigma
‘n raaisel
nie-verbaal
ek het jou lief
praat hoorbaar
in stil gebaretaal

mag wat ek voel vir jou
so tasbaar werklik wees
dat jy dit nooit
aan woord en klank
sal meet
maar my mond
se hakkelwoorde
stil sal maak
met ‘n seker
“sjuut…ek wéét”

©️ Elize Kruger

Maart 2022 – OOP projek

1.Selah

Die son se laaste strale
stook vuur in die wolke
met oranje verfkwashale
blus dit in die blink gepoetste weerkaats
van die waterstroom
waar ek net vir ‘n oomblik
oop-oog sit en droom

so asof dit weet die uitspansel
moet wyd oop wees vannag
sodat jy in die doflig van die sterre
deur die kronkels en die draaie
van my hart se labarint
die handvol klein wit klippies
daar gelaat vir jou
mag vind

©️Elize Kruger

April 2022 – En toe… projek

1.Vreemde paaie

So baie keer gedink oor hierdie reis van my
of padpredikante my iewers heen wou lei
of is daar dalk ‘n êrens
op hierdie doringpad na nêrens
‘n aankoms in besonder
en toe weliswaar dié wonder

deur die kronkels en die draaie
die slaggate op die paaie
was die heerlike bestemming
altyd jy!

©️Elize Kruger

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

1.Hoëveldgedagtes

Toe dit herfs word was ek joune, onbevrees,
in hart, liggaam en gees
hoe sou ek ooit kon raai jou liefde sou
soos kosmos, seisoensgebonde wees?

©️ Elize Kruger

3.storm

Uit ‘n grou stratuswolk aan my hemel se blou
giet ‘n potgooi herinnerings aan my en jou
is daar ‘n skuilplek waarheen ek kan vlug
as dit voel ek verdrink in die reën van onthou?

©️Elize Kruger
23 Julie 2022

SILWERKLAS

Augustus 2022 – My huis is my woning projek

EERVOLLE VERMELDING

Alle paaie lei huistoe

Hier, na die eenvoud van my heimat
het my spore teruggekom
in die mandjies op my voorstoep
het ‘n somer bont kom blom
ten spyte van die son se skroei
het die apiesdoring geel gebloei
in die branding van die woestynwind
het ek omgee vir myself gevind
in die koelte van die wildevy
het ek vrede in my hart gekry
die dae het weer sin gemaak
die nagte het weer kort geraak
en ek
na veertig kanaänwinters
heel uit my plek
uiteindelik
weer
ek

©️Elize Kruger
5 Januarie 2022

Duin-óp

augustuswinde
het die sand
van die half-weggedra-de duin
weer op my huis se stoep kom waai
dag vir dag
sal ek volhard
en vas bly glo
emmer-vir-emmer
ís genoeg
al moet ek dan daarmee
trappies bou
tot bó

©️Elize Kruger
3 Augustus 2022

September 2022 – Snelheidsprojek

3.slimjan

Toe ek op ver gevorderde ouderdom
weer digvorme se reëls moes bestudeer
snelsonnet, koeplet, kwatryn en meer
het dié begrip eindelik tot my gekom

dalk moes ek in plaas van kattekwaad en jool
my Afrikaanse huiswerk doen op skool!

©️Elize Kruger
4 September 2022

Oktober 2022 – Liriese projek

1.Namakwaland

Kyk net hoë blink haar swartklipoë as sy stralend in die arms van die oggendson ‘n liefdesliedjie sing
haar duinsandwange bloesend rooi
sjiek geklee in mooiste madelief
en vir haar slanke hals
het Hy vir haar ‘n snoertjie druppels
uit die lentereën gebring

©️Elize Kruger
16 September 2022

November 2022 – OOP Projek

1.Opstaantyd

In die wildevy se takke
klink ‘n gekke kwetterkoor
tiptol se lied is skynbaar nie
wat die vinke graag wil hoor
bosduif op die telefoondraad
het koer-koer na sy maat geroep
die afdak se hans mossiepaar soek
krummels op die stoep
die son groet deur my vensterruit
‘n haan kraai sy frustrasies uit
die westewind trek speels sy vingers
deur die privetboom se blarekroon
die windpomp kreun sy nostalgie
die lug ruik vars en skoon
tog is daar is iets aan dag se breek
wat maak dat ek jou mis
dalk oor ek vir jou net so lief
soos vir vroegmôres is

©️Elize Kruger
25 November 2022

Januarie 2023 – Projek NUUT

1.Paradoks

Laasjaar se kraaknuwe sellofaan
lê nou verfrommel en verstrooi
waar ashoopkinders gretig krap
vir iets eetbaar of ietsie mooi
‘n bietjie blink
of dalk die laaste soet
uit ‘n kondensmelkblik
om te vergoed vir die verdriet van ma en pa se oukrismis van bitter bier en tik
die nuwe jaar breek vonkelnuut
met vuurwerk en fanfare
iewers fees gegoedes
op sjampanje en kaviaar
elders tjank ‘n brak beangs
en wens ‘n straatkind dat
die dobbelsteen se val
hom híérdie jaar tog
hemel toe sal vat

©️Elize Kruger
8 Januarie 2022

 

2.Oor nuwighede en goeters

Toe oujaarsnag ‘n natnuut nuwejaarsmôre word
die son sy goue strale vonkelnuut
oor die swartkliprantjies stort
het ek nog grootoogwakker
oor jou en my gedroom
verwonderd
in die lankverlore hartsgevoel
se saligheid geloom
my gemoed was tot oorlopens vol
soos die weduwee se kruik
vroegoggend het nog heerlik vars
na laatnagreën geruik
kraaknuut kom klop die liefde weer
aan my ou hart se skreef-oop deur
en ek laat dit vrymoedig in
‘n splinternuwe weerbegin!

©️Elize Kruger
8 Januarie 2022

 

Maart 2023 – OOP projek

2.Oor groenigheid en goeters

Dis vaalwarm in die Boesmanland, my blom
die wind het weer vandag
soos gister en die dag daarvoor
die wolke uit ons hemel weggewaai
en nog net bid bly oor
maar toe die son netnou se kant
aan die westerkim sy lêplek kry
bring die aandwind so ‘n koeltetjie
wat doeksag teen my aan kom vly
en ek weet nie of ek my verbeel
dat ek jou ‘n bietjie meer verlang
as skemer saans sy bontjas
oor oudag se skouers hang
want jou menswees hou die mooi belofte
van ‘n blomseisoen
en ten spyte van die reën se weglam,
‘n handvol immergroen

©️Elize Kruger

 

 

 

(8)

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed