Elmarie Nienaber van Kampen
Lees meer oor Elmarie Nienaber van Kampen
BRONS KLAS
Februarie 2020 – Limeriek projek
2.Kosmaak limeriek
Daar was ‘n vrou Van Wouw
sy kook haar daagliks flou:
“Kouend’ en oorversadig
aan kosse oordadig
is hoe’k van my huismense hou!”
Elmarie Nienaber Van Kampen
Augustus 2020 – OOP projek
1.Asem
die laaste asem
voor ‘n sterwende mond
word brutaal in besit geneem
deur die pasgeborene
se skreeuende wond
Elmarie Nienaber Van Kampen
September 2020 – Liefdesprojek
2.jy
die koelte van ‘n skemer berg
die oggendmis se trane-dou
vind ek by jou
die paaie na
‘n huisie by die see
is wat jy my gee
die rusplek wat jy vir my bied
word ‘n stille liefdeslied
Elmarie Nienaber Van Kampen
Oktober 2020 – OOP Projek
2.kindjie
* (vir elke outistiese kind)
vir jou onbevange gees
is die wêreld ‘n bolletjie klei
in jou wyse hand
jou trane kan riviere word
jou laggies rots en klip
maar hul verkies jou broos
passeer jou ruimtes
met bedenklike baniere:
hanteer versigtig!
legkaartstukkie! vlinderkind!
tussen die vraagtekens in hul oë
en die uitroeptekens in joue
het hul jou verloor
en jou mamma bid en bid
sy onderhandel met God
– nie oneerbiedig nie –
sy pleit, sy smeek
sy roep dit soms hardop uit
terwyl God in haar oë kyk
en sy bly hoop dat juis háár gebed
God se hart só roer
dat Hy sy plan met jou
wysig
Elmarie Nienaber van Kampen
Februarie 2021 – Liefdes projek
1.Liefdesnota
Jou koorsagtige najaag
en blatant-gewaande
besitreg van my
– jou ydele gebruik van my naam –
Demoveer my tot klatergoud-
bedrieglik mooi van aanskyn,
dog innerlik saf en wesenloos
Hoogagtend,
Die Liefde
Elmarie Nienaber van Kampen
SILWERKLAS
Eervolle vermelding vir Februarie 2021 – Liefdesprojek
erosie!
ek kap en kap
met my woordbeiteltjie
om die erosie wat
my geliefde taal
tot besinksel wil reduseer,
weg te werk!
soms werp ek my beiteljie
ongedurig oor my skouer
en klim in met my hamer
se geniepsige punt
‘wyl my liefde vir my taal
versagtend, apologeties
witvoetjie soek…
*besinksel – afsaksel
Elmarie Nienaber Van Kampen
April 2021 – Oordenkingsprojek
1.Die reuk van mis
bome in die oggendmis-grou
vergestalt onverwags húlle
wat my vooruit gegaan het
en ek wil vertoef en onthou
ek wil teen stamme gaan sit
siel-stil die skurfte en léwe voel
toe-oog troos én heimwee
uit gewyde boomfluisteringe put
en dan vergenoeg verder gaan leef
met die reuk van mis wat aan my kleef
Neologismes:
Oggendmis-grou: Die grysheid wat hang oor ‘n landskap gehul in mis
Siel-stil: Wanneer stil berusting en aanvaarding heers in ‘n siel
Boomfluisteringe: Die geheime taal van die natuur.
©Elmarie Nienaber van Kampen
Mei 2021 – OOP Projek
3.poppemeester
jou beheerstaaf
wat my (on)gewillige kop en lyf
meesterlik manupileer
is eintlik die geslepe houtjie
van jou narsistiese galgetou
©elmarie nienaber van kampen
Eervolle vermelding
tweede kans
ek het
gedroom van weer probeer
gehoop op ‘n tweede kans
maar voor ek my stem kon vind
was jou vinger op my lippe
shhh…
en vra jy vir mý
‘n tweede kans
©elmarie nienaber van kampen
Junie 2021 – Interteksualiteits projek
3.aweregse sanger
die sal ek wees!
en bedeesd
in één lied sing
van blomme én van geld
van skurk én van held
ek sal verveel én bekoor
want die lewe daarbuit’
bestaan nie uit
net goed of net kwaad
een sekond
kan heel én wond
en dít is die lewe se lied!
Bronteks: Was ek ‘n sanger deur AG Visser
Was ek ‘n sanger
Was ek ‘n sanger
As winter kom,
Sou’k sing van rose
In volle blom!
Dis nie net die lente
Wat skoonheid bring:
Die aandblom soet
Is herinnering!
Die vuur van binne
-Word buite ook koud –
Gloei dan eers helder:
Jou hart van goud!
AG Visser
Elmarie Nienaber Van Kampen
Julie 2021 – OOP projek
2.Lewe
die gefolterde winterblaar
is gekenter tot stof
maar die belofte van lewe
bly immer-teewoordig
in die lente se lieflike lof
Elmarie Nienaber van Kampen
Januarie 2022 – DRAMA projek
1.Finis
ons liefdesverhaal
het ontaard in
‘n tranetrekker-tafereel
ek het koorsagtig
vorentoe en terug geblaai
deur die tonele
probeer red waar ek kon
maar toe ek dit eindelik (moes) toemaak
was die slot onvermydelik…
FINIS
Neologisme vir drama (tragedie) – tranetrekker-tafereel
Elmari Nienaber Van Kampen
2.grense
jy het
wééreens die grens
om my persoonlike ruimte
tot op die grond
vernietig
jy het die oorblyfsels teatraal
uit die pad geskop
al dié
eenman-teatertirades
van jou
was telkens
wanneer ek jou wou leer
van perke en van grense
nou rig
ek niks meer op –
g’n lemmetjies, -doring, – of
elektriese heining
ek’t die finále grens
met my toon in die los sand
getrek
Neologisme vir drama(s)… in die konteks van hierdie gedig: teatertirades
Elmarie Nienaber Van Kampen
Februarie 2022 – Liefdesprojek
3.stormliefde
‘wyl
die storm in ons woed
en ons harte brandend pols
vul jou hartstog my siel
en sleur my mee
sodat ek weerloos sug:
“min my!”
Elmarie Nienaber Van Kampen
Maart 2022 – OOP projek
1.ooptes van my siel
waar
geen waters van onrus
stormsterk emosies
of weeïge troosteloosheid
al geheers het nie
waar
vergenoegdheid soos mos
tussen klowe blyk
silhoeëtte lugspieëlings en eggo’s
die weerkaatsings is
van ongekend-sublieme
rus en vrede
dáár
laat ek niks toe
ook dwaal ék nie daarheen af
maar behoed en bewaar dit getrou
sodat ek wanneer nodig
met ten minste
‘n titsel ongereptheid
kop omhoog sal kan staan
Elmarie Nienaber Van Kampen
Mei 2022 – OOP projek
3.liefdesnoer
ek wil vir jou
‘n liefdesgedig snoer
met egte kraal-oog woorde
wat (ge)maklik langs mekaar bly lê
om jou hals
sodat die koestering daarvan
teen jou ontvanklike vel
jou my woorde jou eie sal laat maak
en jy die liefdesnoer
met liefde om mý hals sal hang
Elmarie Nienaber Van Kampen
Junie 2022 – Winterlandskap projek
3.skoon
in die ryptrap
van ‘n winterslandskap
trap die koue knars
genadeloos-genadig
sodat die lente se weerbegin
skoon kan wees
Elmarie Nienaber Van Kampen
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
2.die bome brand
die bome brand tot roet
in geel-oranje gloed
en daar is die allesverterende vuur
bloot die sonsondergangsgroet!
Elmarie Nienaber van Kampen
Augustus 2022 – My huis is my woning projek
1.verganklikheid
toe verganklikheid
my tuiste se tydlose
skermmure binnedring
my ontneem
van my huis se hart
het my onroerende geloof
in genadige goedheid
gewigloos verskuif
tot nét duskant die grens
van die straat waar ek woon
Elmarie Nienaber Van Kampen
November 2022 – OOP Projek
2.ek droom…
madeliefie in die hand
en wonder of die liefde my
ooit weer sal besoek
min-hy-my-vergeet-hy-my
het hy ooit geweet van my?
Elmarie Nienaber Van Kampen
3.glaskas
die glaskas wat jy
om my gekonstrutureer het
met jou liefdelose
hamer en woordbeitel
sal op ‘n dag versplinter en
weerloos om my voete kom lê
ek sal my verlustig aan die
knirs-knars
soos ek kaalvoet daardeur wegloop
‘wyl jý swetsend op weerwraak hoop
Elmarie Nienaber Van Kampen
GOUE KLAS
Januarie 2023 – Projek NUUT
1.seebries
my gedagtes
volg my kindervoete met gemak
oor die seesand na die watersoom
waar die ewig-brekende branders
uitstoot sover hul kan
en boetie vra: is elke liewe brander nuut?
en ek sê: ek dink nie so nie
maar die seebries wat my dogtertjielippe
sout-soen
en my koud omhels
kom vars van die see
Elmarie Nienaber van Kampen
Februarie 2023 – BLOU projek
1.Vryheidswaan
stap ek en jongboet
in die natlek-terugtrek
van die see se
brekende branders
dáár waar die grotes
rotse wil klief
hul woede mistig uitspoeg
in fyn misreën
vra jongboet… is branders nuut?
sê ek… ek is nie seker nie
vra jongboet… en is hulle vry?
sê ek… sekerlik nie
dalk is die groot vertoon maar vryheidswaan
wat diepsee blou en stilweg taan
- vryheidswaan – in die waan dat daar vryheid is
- jongboet – die teenoorgestelde van ouboet
Elmarie Nienaber Van Kampen
3.Vasgevang
die klawerboks se ivoor-en-wit vind
en trek klanke uit my vingers
gooi hul heen en weer
en eindelik soos confetti in die wind
die klanke, vry-gebind
draal ‘n wyle voor hul
probeer rus in ruimtes
se blou ooptes vind
gevlieër en gebind
moet hul weer terugkeer
en sodra die lied verstil
my vingers vouplek vind
moet hul weer netjies vasgevang
aan die komposisie se notebalk hang
*klawerboks – klavier
*vry-gebind – vry, maar tog ook nie
Elmarie Nienaber Van Kampen
April 2023 – KLUG projek
3.farce
all the world’s a stage and all the men and women merely players ~ William Shakespeare ~
die spelers
in die wêreldverhoog se kollig
vertolk die lewe elementêr
en met al die (on)waarskynlike intriges
van ‘n volbloed klug
Elmarie Nienaber Van Kampen
Junie 2023 – Winter projek
Eervolle vermelding
Haikoe(Witryp)
dooie wintersgras
en onder my stewelvoet
gekneusde witryp
*neulogisme:
stewelvoet – gestewelde voet
Elmarie Nienaber Van Kampen
Haikoe (winterwind)
die bibberseisoen
se swiepende ysvleuels
verys murg en been
*neologismes:
bibberseisoen – winter
ysvleuels – winterwinde
Elmarie Nienaber Van Kampen
Julie 2023 – OOP projek
3.Volmaan
die volmaan kom groet
die sterre en die goeie aarde
tussen tweeling boomtoppe
hurk hy stil
hy reflekteer silwer-wit lig
en bewerkstellig omtowering
van ‘n stikdonker nag
in magiese skoonheid
daarna beweeg hy siklies voort
in sy eliptiese baan van lig en donker
Elmarie Nienaber van Kampen
September 2023 – OOP projek
3.kort en kragtig
die beeldskone lyne
van die minimalistiese vers:
kort, kragtig, on-nagevors
val soms vaartbelyn en
asof vanself in plek
en les telkens die leser
se ewige poëtiese dors
Elmarie Nienaber van Kampen
Oktober 2023 – KORT projek
Eervolle vermelding
Storm
menige storm woed net só lank
en is soms
in ‘n oogwink verby
Elmarie Nienaber Van Kampen
November 2023 – OOP projek
2.satyn
ek voel
soos satyn tussen jou
geskulpte hande
later, wanneer ek geluidloos
geruisloos
om jou vou
drapeer jy my behendig en manjifiek
sodat ons saam
satyn-sag tot rus kom
Elmarie Nienaber Van Kampen
JULIE 2024 – OOP PROJEK
3.rou
soms nestel rousmart só diep
dat dit selfs met oogtoemaaktyd
nie gaan rus in wondersoete slaap nie
maar sluim’rend agter toe ooglede gaan lê
teen opstaan lê die vensters na die siel
wawyd oop en onbewaak
dán nestel rousmart weer gelate
want heelword is nie nóú ‘n opsie nie
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK
2.ek weet nie…
… watter skuld het ek
aan die versplinterende hulsel
om jou en my nie
die blote aanskoue
van jou ondeurdringbare mure
laat my telkens sonder hoop
dat ek daardeur gaan breek
jou meedoënlose verwerping
van my wat reikhals na jou
laat my gelate en swyend
sonder veglus of moed
om weer te probeer
moet ek straks glo
dat God sónder my ingryping
jou mure sal neervel
sodat die vryheid om jou
ook bínne jou kan oopbreek?
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
SEPTEMBER 204 – OOP PROJEK
1.een nag het ek gedroom
dat my ruimtes ‘n grasveld geword het
waar ek nagkoud en ontbloot
die maan en flonkerliggies gebied
om my skoon te was…soos ‘n soort doop
en ‘n kus vir my voorkop
afsmeek van die oggendstond
as bykomende seën
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
2.ontgrendel
die hek
na my diepste hart en siel
is hardhandig ontgrendel
die dag toe jy moes gaan
en dit lê tot heden vandag
steeds wawyd oop
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK
3.Poësie
laat my ontvlug na my eie hartsplek
waar God se kwistige kwas my siel laat ontwaak
om my woorde werklik te laat mooi maak
om my pen te laat leeg loop in poëtiese bestek
laat my aansit om sonder woordgebrek
my wese te ledig en verse te bemaak
aan húlle wat dors om die dieper aanraak
van dig-vakmanne se hartsverse te ontdek
ek skryf verwonderd aan die woorde in my
ek verdwaal in versvoetpaaie se stof
tot dáár waar dit soos sterstof blink
ek koester die poësiestem in my
wat soms voorbarig maar altyd met lof
meng met my pen se skrywersink
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
neologisme: dig-vakmanne – digters (manlik én vroulik)
*NOVEMBER 2024 – 2 VAN ELMARIE SE GEDIGTE WORD IN DIE VERSINDABA BUNDEL OPGENEEM
NOVEMBER 2024 – OOP PROJEK
2.lewe langs die grootpad
die vee en die hoenders wei houtgerus
‘n hanetree van die geelstreep
kinders spring tou
en speel draadkar-draadkar
met stowwerige wange en kniekoppe
in die boksies gaan die lewe aan
en elke ses-en-twintig sekondes
word ‘n kind gebore
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
3.idelle
laat my lê
in die skadu’s van
baldadige boorde
geseën deur die son
en reën
wat geval het toe dit moes
waar dit drup van die lewe se melk
en heuning immersoet tussen blomblare opdam
laat my wees
waar tyd se gang
tydsaam en moeiteloos
die laaste asem laat gaan het
waar my wese dig oor die heiligheid
om my
wat ontstaan het toe dit moes
om my te laat lê en te laat wees
waar die heuningblomme se tapyt tydloos blom
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024