Jongste aktiwiteit:

Fanus Strydom
vir

Fanus Strydom

Lees meer oor Fanus Strydom

BRONSKLAS

Januarie 2023 – Projek NUUT

2.Nuwejaarsbeloftes

terwyl klappers kompeteer met knetterende braaivleisvure
en vuurwerkpyle vlietend oorhoofs slinger
borrel
haastiggemaakte besluite
en kraaknuwe beloftes
net betyds
soos gister se jaar
helaas weer
vonkelnuut
dog ondeurdag en ydelwaar
by mense
en bottels
se oorgulsig oopgebreekte bekke
uit

terwyl ek
iewers tussen sterre en middernag se donker
dronk
met selfverwyt en skuldbesef
biddend en in die geheim
bly soek na rigting
en die ware
weg

terwyl hulle
ondankbaar murmureer oor die jaar se eindelike ommekeer
en luidkeels fuif en trompetteer
onder mekaar spog
en onwetend
met mekaar kompeteer

volg ek stil
die orionsgordel se kompasnaald
tot vêr verby die suiderkruis se lyn
en stap ek moedig voort
langs my onbekende lewenspad
nes die jaar van gister
op Godsgeleende tyd

terwyl hulle
met die nuwe jaar se eerste lig
dronkgeslaan hul lot bekla
oor gisteraand se onbesonne brassery
en verdwaald rondsoek na sin
tussen koue vure
en gebreekte glas

sing ek bly
‘n oubekende nuwe lied
en weet dat ek
nés laasjaar en die een daarvoor
altyd blymoedig sal help dra
aan my steeds ligterwordende lewenslas

op hierdie tydelike reis

my
vonkelnuwe
sekere
ewige
toekoms
in

© Fanus Strydom

 

Februarie 2023 – BLOU projek

1.1.Blouoog brak

as ek blouoog en geduldig
vanaf my *stoeltroon na jou staar
maar dan weer moedeloos terugsak en sug
want jy sit steeds voor die verdomde rekenaar

as ek nouliks my ore optrek en wonder
hoe lank jy my nog so gaan ignoreer
dan weer terugsak in my opgevoude slaapposisie in
en droom van buite se donderweer

as ek wakker skrik van jou geroep
en jou hand voel streel oor my kop
dan *flikkerblink my deurgeslaapte oë
opgewonde terug na joune op

as jy uiteindelik opstaan uit jou *skryfstoel uit
en bal in die hand na my toe fluit

©Fanus Strydom

Neologismes:
*stoeltroon – verhewe stoel, uitkykpunt, waghouplek
*flikkerblink – blinkoog, opgewonde, afwagtend
*skryfstoel – skrywersstoel, stoel met hoë rugleuning, kantoorstoel

April 2023 – KLUG projek

2.ONDER OË HOU
gooi jou kaarte
draai jou ratte
smee jou planne
en vloek jou vloeke
alles
rat-a-tat geraas
tot niks
my oog kyk
vierkantig
in jou doodswart kykers in
en doelgerig
deur donker tonnels opweg
na ewige verderf en smaad
verby gekners van geelvrot tande
en geween van swaelvrot asemhorte
jou laaste
verdoemende
lag
tot diep
binne
in
jou leeggeloopte skedel
jou eggolose
arrogante
liefdelose
Godsverlate
kop
vol bose planne
en slinkse rat-a-tat-verdraaide leuns
alles leuens
al les:
rat-a-tat
verdraaide
leuens
©Fanus Strydom

 

Mei 2023 – OOP projek

2.Heilige geesgenoot

in donkerte

en lig

soek ek jou

 

alewig

tydig

ontydig

 

kry jy my

voor ek nog kan vra

of jy my sal verduur

my sal verdra

sal dra

 

in donkerte

en lig

soek jy my

 

altyddeur

altyd weer

elke keer

 

en vind my telkemaal

betyds

tydig

ewig

 

want

jy

is

HEILIG

 

© Fanus Strydom

 

Februarie 2024 – Dolos projek

1.Waarsêer

met onseker talmende vingers
wiggel jy die lyne in my hand
en voorspel jy lukraak onverskrokke
verwronge strepe in my sand

teen die grensdraad van my wese
rol jy jou suggesties uit
gooi jy argeloos jou duister vrese
tot waar net my wilskrag dit kan stuit

in die kaarte van my sterre
oor die golwe van my see
profeteer jy gretig donker beelde
van wat die lewe my gaan gee

dit sê ek jou
waarsêervrou

wat die hart van vol is
loop die mond van oor
maar as liefde in beheer is
kan net die waarheid my betoor

©Fanus Strydom

 

SILWERKLAS

MAART 2024 – OOP PROJEK

2.Liefdesdans

kom dans net nog eenkeer met my

oor oubekende grondgebied

my beminde

waar ons hand aan hand een laaste maal

op maat van ʼn lankvergete wiegelied

kan swymel en sweef voor smart ons kom haal

 

kom dans net weer eenkeer met my

langs grafte en gragte deur

my geliefde

waar herinneringe en beelde van gister se uur

deur vae en flikkerende gedagtes moet beur

naarstigtelik opsoek na sin in die lewe se vuur

 

kom dans net weer eenkeer met my

agter slote en bouvalle verskuil

my beminde

waar ons as kinders te vroeg gebore en dood

saam met moeders moes bedel en huil

vir ʼn plek om te rus en ʼn droë stukkie brood

 

kom dans net weer eenkeer met my

tussen klippe en rante van steen

my geliefde

waar die gryskoplaksman verskrik sit en bewe

en sonder ophou bly roep en ween

oor die onafwendbare lot van die ewige lewe

 

kom dans net weer eenkeer met my

deur die dal van doodskaduwee en pyn

my beminde

waar vergesigte van liefde en vlietende geluk

vir oulaas een laaste maal voor ons oë kan verskyn

voor die dood dit wreed en finaal uit ons hande kom ruk

 

my geliefde

my beminde

 

©Fanus Strydom

Maart 2024

 

 

(1)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed