Martin van Rensburg
Lees meer oor Martin van Rensburg
BRONSKLAS
Oktober 2022 – Liriese projek
2.Woorde
Sal daar dan ook woorde wees, sou my hande, gekraak en deurspat
met blou, soos die padkaarte van ouds, soekend en
bewend huiwer, wanneer jy aan my raak?
En wanneer die skoonheid en jeug soos ‘n verveelde minnaar
aanbeweeg en langsaam en van jou vergeet?
Sal daar dan ook woorde wees, sou al die blomme in die tuin verdof,
en ook my eie lyf soos ou struike kromtrek,
rank en verdor?
En wanneer een moet gaan en die ander moet wag,
alleen agterbly soos ‘n opgespeelde pop?
Sal daar dan steeds woorde wees,jou beloftes wees,
oor geloof, hoop, liefde, hierdie drie?
Martin van Rensburg (MvR77)
3.Hooglied
לִי
Jou vergifnis het ek verpand
vir dertig nuwe drome, toe
my kruis langs jou poorte laat lê.
En maar vir jou ‘n tuin geplant,
met vyebome sonder vrug,
net soos jy graag wou hê.
Al die offers wat ek eens na
jou heil’ge plek sou bring,
lê vertrap soos sout en pêrels.
Want in Gadara het ek jou huis gaan bou,
op pottebakkersgrond, met die uitsig
van die kranse en van die wêreld.
‘n Klipmuur beskerm jou wingerd,
van Nabod gebuit vir lensiesop,
waar net leë beloftes lê.
In die werf, ‘n swart ou haan
wat kraai en kraai en kraai,
en só jou liefde en haat vir my sê.
Teen die voorhek hang sandale,
oud, dor-gekraak, en nes my hart,
oortrek met stof van nêrens.
Onder die stoepdak staan ‘n Dawidsbad,
waar jy dalk, soos goeie sin,
jou skaamte ook kan bêre.
Martin van Rensburg (Mvr77)