Pierce van Tonder
Lees meer oor Pierce van Tonder
BRONSKLAS
MEI 2025 – OOP PROJEK
2.Ek lief jou
(vir ewig is nie vir altyd maar verewig is vir altyd)
blou sipresse lig hande omhoog
pienk-oranje sonsondergang se bloos
meeu se bevlekte geskreeu
diabolies die kakofonie van klank
weergalm tussen berg en dal
rooi poeierkwas kronkelpaaie se
versteke beknopte stegies
lank gelede se vergete
kosmosse blom in hemelraam gedagtes
rou
koud
morbied
al soekend na jou warm asem
wind se geblaf teen my wang
blinders versper verstarde oog
eenkant
ragfyn opaal maanblomkelk
welk…
©️ Pierce van Tonder, 2025
JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK
1.Op gister se spoor
lente kruik vol bloeisel-botsels
laggend koggel Pierneef-wilger se immergroen
verstrengelde vingers speel in saffier-blou maanlig deur
gryse haar-kronkel-paaie heen
jou glimlag in stilswye
(effens)
neffens
die legkaart van my hart
moeg geswoegde oë sing die lewenslied
van lief en leed met haar warm kleed
moed se dapper-wyn: oud-grashalm-goud
ek en jy op ons lappies-mat-kombers:
siele knus geweef
as woorde van Ingrid Jonker rondsweef
jy het vir my die maan gaan pluk
in winternag se kou
en ek, ek het jou styf vasgehou
vergange is die piekniekdae
tyd kriek haar been
die Winterson brom in repliek
kronkel-se-pad
lei ons wéér hierheen
amper een keer om die son
© Pierce van Tonder, 2025
FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK
2.in arendsklou
met ’n onopgesmukte saamgepersde lip
in ’n rookwolk se wit walm:
breek deur geskreefde troebel oë
die moedige strofe…
‘ek is wie ek is
sal vir altyd wees
wat ek is,
dis ek…’
sy skilder haar legkaartmure hoog
met ’n gespalkte gewrig
en
aan-een-haelende kweshale
goudgeel sonstrale en ’n blom
in ’n wêreld met ingewikkelde skeef-kring-krom
liefdesband eens vol vertroue
nou in God-verlate-glas-skerwe
oorverdowerend die kastanjette se
klik-klak
mislukte-mislukking
vasgevang
salig-alleen
agter ’n onvolmaakte vervloekte masker
ewigdurend die ween-verlange
in donkergat as slaaf
dan lag sy skaam in haar mou
met die vaste wete…
God bly altyd getrou
© Pierce van Tonder
MAART 2026 – HERFS/KAS PROJEK
1.My wasgoedpennetjie-dae
die matgroen verslete katoenhemp
deel sy vars-sonstraal-geheime
met die dofgrys donserige jas
wat langsaam
(eensaam)
op die herfsblaar-akker-rooi
hang en wag
ek verlang meteens na Ingrid Jonker se
‘Begin somer’
… die houtskoolrook kruip krulstert nader
en my skoorsteenpothoed
vind sy rusplek op die ongeslypte steen
as bykans vergete troon
die hangkas versteek my argaïese sonstrale –
terwyl gekreukelde koperblare
swaar hang aan die wasgoedlyn
(die pennetjies is maar yl gesaai)
en ek,
ek verwelkom die verbleikende krag
en hou die son
veilig toegevou
in my mou
© Pierce van Tonder
JUNIE 2026 – STREEK/OMGEWING PROJEK
1.Houtbaai se anne’kint
Houtbaai se anne’ kint
die auntie se bloei-my-droeg¹ kletsrym innie agtergron’
while’ie kinnis sokka speel innie Hangberg* se straat
die grootmense praat oo’ smileys² en tigers³
en Menee’ sit da’kant allêrens – spekvet en geson’
s-w-a-a-r hang graniet-stil krans en waak
oor die brullende branders van die Kaap
en ek wens dat die “gekleurdes” net wou praat…
as snotnies was ekke in Oumie se sorg gelaat
(soos ‘n blaar wat dwarrel tussen mense wat raap)
but ekke,
ekke issie kwaad’ie –
mý liewe is op dankbaatheid gegron’
© Pierce van Tonder
¹ bloei-my droeg – selfoon
* Hangberg – sosio-ekonomies gekrenkte visserman streek in die Kaap wat in die apartheidsera deur Kleurlinge of Khoisan bewoon is. Vandag word dit steeds deur die Kleurling bevolking bewoon
² smileys – ‘n skaapkop (gereg/lekkerny) wat slegs deur die ‘elite’ geniet kon word
³ tigers – tien (10) rand note
SILWERKLAS
AUGUSTUS 2026 – AANHALINGS PROJEK
1. ...Waar die storms gaan lê
herinneringe dwaal in vlakgraf-se-seer
want die dood het jou van my weg kom skeur
nou bloei my hart op papier – koud –
soekend na woorde in die stilte van die woud
ek onthou ‘n affodil se geel wat op jou graf pryk
(die granietplate was versier in die ode van tyd)
jy het aan my gesê: soos ‘n Saron roos sal jy weer blom
… en in die die Kaapse fynbos speel die son
in minder geklee as Simson se krag
onthou ek God in Sy blommeprag
my gedagtes lê nou rustig en rym
terwyl God se engel aan my verskyn
die skeidingsmuur het ek verduur
terwyl die wêreld met piering-oog gluur
geen doodloopstraat was te bespeur
die finale bestemming (ontvou) nou in kleur
kom stap die lewe – rustig – met al sy duine –
weemoed is slegs ‘n muur tussen twee tuine¹
© Pierce van Tonder
Voetnota: ¹ direkte vertaling van die aanhaling “Sadness is but a wall between two gardens”,
Gibran, Kahlil. Sand and Foam. Alfred A. Knopf, 1926