Ammie Moon
Lees meer oor Ammie Moon
Ink gedenkbundel – Desember 2016 en Januarie 2017 projek
1. Voetseen trek in die ou dae
Pa stop sy pyp en tuur oor die see. ‘n Lag speel in sy baard toe hy begin vertel…
‘n Voetseen was ‘n lang visnet met kurk aan die bokant en lood aan die onderkant en ‘n lang tou aan die voorkant. In die middel is ‘n bak/kom ingeweef as deel van die net – dit is ‘n kuil genoem. Die net is van voor na agter oor ‘n paal gevou. Op hierdie punt is die trok gepak en afgesit af see toe, in die middel van die nag natuurlik. Voetseen trek was hoofsaaklik ‘n nag aktiwiteit. Die Velddriffers se geliefde trekplek was by Soverby, halfpad tussen Laaiplek en Dwarskersbos.
Daar gekom, gaan sit ‘n ”viskyker” op die duin en hou die see dop. Sy taak was om die skool visse in die water te eien sodra dit die baai inbeweeg. Die ander vissermanne in die groep maak vuur, drink koffie en praat lekker ”bollie” om die tyd om te kry. Ander krul op in ‘n streepsak en vang ‘n loom-slapie langs die vuur tot die vis arriveer.
Op die viskyker se teken trek almal soos een man op na die strand. Vier of vyf van die langste manne vat die tou en beweeg met ‘n wye boog so diep moontlik die see in. Die twee op die strand sien toe dat die net eweredig van die paal afval soos die manne met dit die see inbeweeg. Sodra die voorste manne hulle draai in die see gemaak het en regoor die manne op die strand gekom het, word die net eweredig met die hulp van die branders uitgestrek met die ‘kuil’ ongeveer in die middel om die skool vis op te vang. Nou is spierkrag gebruik om die net swanger vol vis, in te trek strand toe. By hierdie tyd het viskopers reeds op die strand gewag met dag wat sukkel om te breek, om vis te koop.”
” Ek onthou nog goed. Oom Bull ( van die Paarl ) se blou 3 ton Ford lorrie het gereed gestaan. Ballasmandjies vol vars vis, meestal harders met ‘n paar verdwaalde steenbrasse, galjoen en souls tussenin, is gelaai. Die vis is dan oornag vervoer na die Boland, en siedaar, skaars ‘n paar uur na die groot ”operasie ” het honderde huishoudings in die Boland vars vis op die tafel gehad sonder nodigheid van koeltrokke, vrieskaste en elektriese goeters, op die ou manier, op die Weskus manier !”
” Vandag is daar ‘n Lapa op Soverby waar jy heerlik kan gaan eet en drink. Gaan lê gerus daar besoek af en verbeel jou jy sien ‘n ‘viskyker’ op die duin en manne om die vuur net kort voor hulle die koue see aandurf om vars vis te oes vir die mense in die Boland.”
Pa se onderlip bewe van aandoening en die traan in sy oog getuig van ‘n mooi-onthou. Ek besef dat hierdie ‘n generasie en staaltjies is, wat gepen moet word, want hulle glip deur ons vingers en gaan verlore sonder dat die samelewing ooit notisie neem van die ‘goud’ begrawe in die eenvoudige grond van onse kus, onse mense en onse land.
@Almarie Truter (ammie Mooon)