Jongste aktiwiteit:

Hester Steenkamp
vir

Hester Steenkamp

Lees meer oor Hester Steenkamp

Julie 2023 – OOP projek

2.

Grond en olywe

 

Die dag toe my boer my gevra het om te trou, was hy nie ’n boer nie. Hy was ’n onderwyser.

Ons het mekaar op die eerste skooldag van 1994 in die personeelkamer ontmoet. Hy was in klaskamer 6 en ek in 7. Hy het spiesgooi afgerig, en ek skyfwerp. En ons al twee was lief vir tale en Aardrykskunde. Ek was ’n opsigter in die koshuis en het daar in ’n woonstel gebly en ek het hom een Sondag vir ete genooi. My kombuisie was so groot soos ’n witbrood en jy moes jou vat en neersit ken. Dit was maar moeilik om iemand met jou kookkuns te beïndruk as jy nie al die geriewe en spasie het wat nodig is nie, maar waar daar ’n wil is, is mos ’n weg. Terwyl ek besig was met die slaai, het ek hom gevra om asseblief vir my die olywe in die yskas aan te gee. Hy het gesê daar is net een olyf in die bottel oor, en toe ek omdraai, het hy die olyf in die lug gehou en gesê dat as ek met hom sal trou, kan ek die olyf kry, maar as ek nee sê, gaan hy dit self eet. (Onderwysers kan nie diamante bekostig nie, en ek sou later uitvind suide boere ook nie!) Ek het toe die helfte van die olyf afgebyt en die ander helfte vir hom gegee, want die antwoord was ja, maar ek het ’n voorwaarde gehad.

Ek het gesê ek sal graag met hom wil trou, baie graag, maar net as hy my kan verseker dat ek nie op ’n plaas in die suide gaan opeindig nie, want dit was baie ver buite my verwysingsraamwerk. Ek het nie die omgewing, boerdery of enige mense daar geken nie. Ek het nie daarvoor kans gesien nie. Al wat ek van die suide geweet het, is dat dit warm en droog is. (Ek was reg hieroor). Sy oë het gerek en hy het gesê dat hy geen plan het om te boer nie. Soos in glad nie. Hy het baie seker van sy saak geklink. So, ons was toe verloof en die slaai is sonder olywe geëet.

’n Paar weke later het ons by sy ouers op die plaas (in die suide) gaan kuier. Terwyl ek en sy ma in die kombuis besig was het ek haar die storie van die olyf vertel. Sy het kliphard gelag en my met sagte oë aangekyk en gesê: “My kind, hy weet dit nog nie self nie, maar hy het vir jou gejok. As mans 30 raak, wil hulle terug na hulle grond toe.” Ek het so by myself gedink dat, hoewel sy gewoonlik reg oor alles is, is sy hierdie keer verkeerd. Hy was baie seker van sy saak toe hy gesê het hy wil nie boer nie.

Ons is daardie Desember getroud en ons twee dogters is gebore. Ons jongste was nog nie eers behoorlik mens nie, toe kry hy hierdie plan om so ’n paar skapies aan te skaf. Jy weet, vir ’n ekstratjie. Hy was pas 30. Ons het van Okahandja af Windhoek toe getrek en gewerk en toe ons dogters onderskeidelik 10 en 7 jaar oud was, het ons plaas toe getrek. Suide toe.

Baie nagte, wanneer ek wakkerlê oor bekommernis oor die reën weer weggebly het en my kinders ver van die huis af is en al die ander goed waaroor ma’s hulle bekommer, dan wonder ek ook oor wat dit is wat in plaaskinders se bloed is wat hulle terugroep na hulle grond toe? Is dit iets fisies of is dit ’n emosionele ding? Kan daardie iets onder ’n mikroskoop gesien word? En is daar pille vir dit? En ek wonder oor hoe lank dit ’n ma vat om soveel wysheid bymekaar te maak dat sy die toekoms kan voorspel? Ek dink aan die nuwe planne wat gemaak moet word om weer te probeer oorleef tot die volgende reënseisoen, want volgende jaar sal dit mos beter gaan, nè!? En ek dink aan olywe, en ek wonder wie het al die olywe uit daardie botteltjie gesteel dat daar net mooi een oor was? En dan weet ek, sou ek moes, ek dit in elk geval presies weer net so sou gekies het. Olyf en al.

©Hester Steenkamp




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Wilma het n geregistreerde lid geword

  • Carlien Lid se profiel foto het verander

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak