Ida Le Roux
Oktober 2018 Projek
2.Manie se Tin Lizzie
Manus skud sy kop. Laat dit nou vir hom ‘n dure les wees om ‘n vrou agter die stuur van jou nuwe Model T Ford toe te laat. Hulle was laat vir die kerkdiens en Sera het stange gevat. Hoe meer hy skree “stadig vrou” hoe vinniger ry Sera.
Teen 45 myl per uur jaag hulle met die 4 silinder Ford die kerkgronde in. Die diens het alreeds begin. Met haar linkerhand moet sy die linker hefboom-stang terug skuif na neutraal om die remme te kan gebruik. Sy vergeet om die stang te skuif en met die versneller hefboom, op spoed gestel, is die gort gaar. Daar is nou geen keer aan die Ford nie. Hy pyl op die kerk se sydeur af. Die slag is oorverdowend toe die Ford saam met die hout deurkosyn die kerk brullend binne jaag. Voor die preekstoel verby . Die kerkruiker word Manus se koptooisel. Dominee Hasenbroek tuimel agteroor. val die doopvont in duisende stukke en bly lê. Die orreliste spring van skok bo-op die orrel om die aanval te oorleef. Ses van die orrelpype bars van die geforseerde lug en toe die donderende klank uit die hemel op die gemeente neerval, slaan hulle gillend op vlug menende dat dit oordeelsdag is. Niemand bereid om opgeraap te word nie. Dit skreeu en beur en die tale wat uitkom laat mevrou dominee inmekaar sak. Ouderlinge spring oor stoele om weg te kom. Wurg mekaar aan die wit dasse wat in galgtoue verander. Kruisbande wat losruk, skiet byna die helfte van die gemeentelede se oë uit hulle koppe. Hoede, skoene en tot ‘n bloomer vlieg die lug in. Die Ford beur en kerm met malende wiele teen die binnemuur van die kerk en rook borrel onder die kar uit.
Sera ruk en pluk vervaard rond. Toe vlieg die Ford in tru-ra in ‘n rooi kleisteen stofwolk die kerk uit. Die remme halstarrig buite werking. Manus gil bevele uit maar Sera volg haar eie kop. Die Ford bokspring ‘n agteruit sirkel op twee wiele en Sera se ontwerpershoed word gelanseer. Die kar spring weer vorentoe, tussen die perde in. Buite die kerk heers chaos. Die perde raak mal. Skop die perdekarre uitmekaar en vat die vlaktes met Tin Lizzie op hulle hakke. Die sterftesyfer onder die perde was byna erger as die runderpes van 1897. Sy nuut gekoopte tin Lizzie is nou ‘n luukse swart hoenderhok.
Ida Le Roux