Jongste aktiwiteit:

Taai Bonthuys
vir

Taai Bonthuys

Lees meer oor Taai Bonthuys

Desember 2020 – OOP-projek

2.Met die hand in die pampoen gevang

Woordtelling: 349 woorde

“Wat nou? Wat het jy aangevang?”
“Wie sê ek het iets aangevang, Gert? Mmmm?” Otto neem plaas agter sy lessenaar, vou die dossier voor hom oop en laat sy oë vlugtig oor die inhoud gly.
“Man, dit staan duidelik oor jou bakkies geskrywe, in groot hoofletters! So jy kan netsowel daarmee uitkom. Iets het jy beslis aangevang, ek ken jou ook nie van gister af nie. Jy is net te vrolik, en ek bedoel té.”
Otto se oë bly vasgenael op die dossier voor hom. ‘n Lang stilte skop viervoet vas tussen die twee mans.
Gert gee ‘n lang, harde sug. Hy trommel ongeduldig met sy vingers. “Toe nou, Otto. Ek wag…”
Met ‘n skalkse glimlag kyk Otto verby Gert se kop na die kantien se deur. “My maat. Al wat ek vir jou vandag gaan sê is … na vandag gaan my probleem iets van die verlede wees!So, hou maar jou oë en ore oop. Die waarheid seëvier altyd. Dis al wat ek vir jou gaan sê en niks meer nie.”

* * *

Dis net na een. ‘n Aardskuddende gil tref die stilte. Gert spring verskrik op en nael na die kantien. By die deur draai hy verbaas om en sien Otto doodluiters besig om te skryf. “Jý die oorsaak?” beduie hy vaagweg in die rigting van die gil. Otto se glimlag is al antwoord.
By die kantien loop hy hom trompop in ‘n siedende Willie vas. “En nou, Willie?” Gert gewaar die kosblik en ‘n gehapte toebroodjie op die vloer. Hy skrik toe ‘n bekende stem skielik agter hom opklink.
“Daar’s hy! Hét jou! Sooo lank wonder ek al wát van my kos word! Hoe het hy vandag geproe?”
Willie skuur brommend verby Otto en klap ‘n vinnige toon na sy kantoor. Gert stap die kantien binne en begin die stukke van die toebroodjie versigtig optel. Verstom swaai hy om, ‘n stert netjies tussen twee van sy vingers. “En waar, as ek mag vra, het jy die arme gediertetjie gevind … En brrr, ek wil nie weet hoe klink tande wat inslaan op sagte muisribbetjies nie..!”

© Taai Bonthuys

Mei 2021 – OOP Projek

2.Ek en die internet

Woortelling: 350 woorde

“Oupa Gert! Johannes gaan staan groot-oog, uitasem binne die deuropening. “Wat was dit?”
Oupa plaas sy koppie hard langs die skootrekenaar neer en vryf vies die groter wordende nat koffiekol op sy hemp.
“Kom Oupa!”
“Ja, ja. Ek kom Johannes. My bene is nie meer so jonk nie.” Johannes staan nader, neem die uitgestrekte hand. Iewers verskeur ‘n hondekoor se getjankery die stilte. By die agterdeur begroet chaos hulle. Houtstukke, tuintoerusting, blompotskerwe en plante lê die wêreld vol besaai. “Wat de ongeluk?”
“Sjoe, Oupa! Dit lyk of hier ‘n bom ontplof het. Kyk… die tuinhuisie! Dis weg, daar’s nou ‘n groot gat in die grond.”
Woordeloos stap oupa in die rigting van die gat. Uit die hoek van sy oog gewaar hy ‘n beweging anderkant die gapende gat in die tuinmuur.
“Gert Koekemoer! Wat de joos het jy nou weer aangevang? Wag tot ek met jou vrou praat.”
“Ag ontspan Netta. Dis nie so erg nie.”
“Nie so erg nie. Kyk hoe lyk ons pragtige tuine en die muur… ‘n moerawiese gat is daarin geruk. Net verwoesting waar jy kyk.”
“Gmf… seker een of ander kwajong tiener. Gaan hou jou eerder besig met jou breiwerk as om kwaad te wil kom stook. Toe, toe Netta. Laat jy ‘n toon klap.” Al brommend keer sy terug na haar huis.
“Wat het Oupa gedoen? Vandat Oupa die internet laat installeer het… wel… Ouma Jackie sê Oupa vang deesdae snaakse goed aan.”
“Ek wou jou ouma verras met tuisgemaakte blomkunsmis. Sy wil die laaste ruk net organiese produkte in haar tuin gebruik.” Ingedagte krap hy sy kop. “Ek was so seker…” Sy hand gaan na sy broeksak en ‘n gekreukelde stuk wit papier kom te voorskyn.
Johannes tree nader. “Kan ek sien?”
Woordeloos oorhandig oupa Gert dit aan hom.
“Oupa … weet Oupa wat hierdie is?” Sonder om op ‘n antwoord te wag, gaan Johannes voort. “Dis ‘n resep vir ‘n kunsmisbom, nie ‘n blomkunsmis resep nie. Hierdie resep is om goed op te blaas.”
“Wat!? Nee!” Oupa gryp sy kop gepynigd vas. “My kierangkies gaan sweerlik braai vandag. Ek en die internet…”

© Taai Bonthuys




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed