[BRONS] ’n Blou Kersfees
’n Blou Kersfees
Die wind gly deur die strate van die stil dorp, koud en skeef soos ’n ou man se rug. In ’n klein kamer, vensters vol kondens en koue, sit Vaatjie op die harde stoel by ’n tafel wat leeg en kaal is. Geen oorskiet van feesmaal nie, geen liggies wat flikker nie, net die sagte gloed van die straatlig wat deur die raam se stof breek. Sy handjies is koud, sy skoene vol gate, en die stilte weeg swaar op sy klein skouers.
Vaatjie het nie ’n gesin om mee te lag of stories te vertel nie. Die ander kinders in die dorp praat van wonderlike maaltye, van koeke wat so soet is dat jou tong skoon brand, van liggies en geskenke wat onder die boom lê. Maar vir hom is daar niks nie. Net ’n tafel wat niks dra nie, stoele wat leeg lyk soos sy maag, en ’n hart wat harder klop van eensaamheid as van vreugde.
Hy probeer om die wind se fluistering te ignoreer, probeer dink aan iets anders—’n speelgoedkarretjie, ’n pop, ’n liedjie. Maar dit is alles net gedagtes, skaduwees wat verdwyn voor hy dit kan gryp. Die stilte keer terug, hard en skerp, en Vaatjie knik stil, soos hy iets verstaan wat niemand anders ooit hoef te weet nie: dat Kersfees nie net lig en lag is nie. Soms is dit ’n dag van herinnering wat nie daar is nie, van ’n liefde wat nie teenwoordig is nie.
Hy sit daar, sy oë groot en blink, kyk na die leegte voor hom. In sy verbeelding sit ’n boom in die hoek, liggies flikker in die donker, en onder dit lê klein pakkies vol wonder. Hy reik uit na niks, sy hande klap teen die lug soos of hy iets kon vasvang wat nooit kom nie. En tog, in daardie oomblik van eensaamheid, voel hy ’n klein vonk van hoop. Dat een dag, dalk, sal daar ’n tafel wees wat vol kos is, ’n kamer vol gelag, en ’n hart wat nie alleen hoef te wees nie.
Maar vir nou sit hy net, klein en stil, en laat die koue wind die woorde dra wat niemand hoor nie: “Ek wens net iemand sal my onthou vanaand.”
Geskryf deur Nicola Brown
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.