Toe die Wolk grondvat word die Ekologie ook gevat
Ons leef in ’n digitale era waar kunsmatige intelligensie (KI/AI) al hoe meer deel word van ons daaglikse lewe. Kunsmatige intelligensie (KI/AI) word dikwels beskryf as onaantasbaar, ‘wolkgebaseerd’, digitaal en skynbaar ook as sogenaamde “lig”.
“Sit jou kosbare inligting in die wolk, (cloud), man!” sê almal.
Die cloud, of te wel wolk, is nie die een of ander wolk wat in die lug of buitenste ruimte rondsweef nie. Die cloud, (wolk), is wêreldwye servers en datasentrums wat as’t ware die ruggraat van die internet en KI/AI-rekenaars uitmaak.
Die wêreldwye funksionering van moderne digitale netwerke, insluitend wolkrekenaars en kunsmatige intelligensie (KI/AI), is afhanklik van ’n uitgebreide stelsel van ondersee-veseloptiese kabels wat datasentrums in vastelande met mekaar verbind.
Hierdie ondersee-datakabels veroorsaak ongelukkig fisiese versteuring van die seebodem wat nadelig is vir plaaslike akwatiese ekosisteme, veral in sensitiewe kussones.
Nou is dit ook so dat elke soektog asook elke algoritmiese berekening wat KI/AI moet maak om antwoorde te kan verstrek op navrae wat deur die mens aan hom gerig word, deur hom bekom word uit ’n enorme universele infrastruktuur.
Soos voormeld bestaan sodanige infrastruktuur uit wêreldwye datasentrums wat deur middel van ’n uitgebreide stelsel van ondersee-veseloptiese kabels met mekaar verbind is.
Hierdie datasentrums is geboue wat massiewe servers huisves, asook die kompressors en magdom masjiene wat KI/AI laat werk. Hulle stoor data, verwerk versoeke van die mens, en behartig ’n konstante stroom van rekenaaraktiwiteite.
Om hierdie infrastruktuur glad te laat loop, moet daar deurgaans ononderbroke elektriese krag aan die servers voorsien word, om sodoende te voorkom dat hulle oorverhit of afskakel.
’n Verdere essensiële vereiste is ononderbroke watertoevoer vir die verkoelingsisteem, om sodoende die hitte wat deur duisende chips gegenereer word, voortdurend af te voer.
Die aktiwiteite van hierdie datasentrums veroorsaak egter ook ’n buitensporige geraas, wat noodwendig ’n nadelige impak op die omgewing en die ekologie in sy geheel tot gevolg het.
Datasentrums gebruik ’n enorme hoeveelheid energie, want hulle moet nie net die rekenaars laat werk nie, maar ook die lugversorgingsisteem van die gebou wat dit huisves, ondersteun.
Navorsing dui daarop dat datasentrums alreeds ’n aansienlike persentasie van die wêreld se elektrisiteit verbruik. ’n Kommerwekkende aspek is dat die aanvraag of die behoefte aan die verskaffing van meer elektriese energie jaarliks met rasse skrede toeneem namate KI/AI-gebruikers daagliks toeneem.
Hierdie druk op die energiebron lei daartoe dat die persone wat verantwoordelik is om toe te sien tot die volgehoue effektiewe funksionering van datasentrums, hulle wend tot die gebruik van fossielbrandstofkrag om sodoende op ’n konstante basis energie aan servers in datasentrums te kan voorsien.
Die deurlopende gebruik van fossielbrandstofkrag lei weer tot ’n verhoging in die vrystelling van koolstof in die omgewing en in die atmosfeer. Die gevolge hiervan is lugbesoedeling en klimaatsverandering.
In sommige streke word verouderde “peaker”-kragstasies teruggebring om piekbelasbare krag te voorsien, wat nog meer besoedeling veroorsaak.
Hierdie energie aanvraag beïnvloed nie net die klimaatsbalans wêreldwyd nie, maar plaas ook spanning op plaaslike kragstelsels, wat kan lei tot verhoogde elektrisiteitspryse vir gewone huishoudings of beurtkrag soos in Suid-Afrika.
Datasentrums gebruik soos voormeld water om hitte van rekenaars te verminder deur dit na verkoelingstorings te stuur. Hierdie water word direk uit plaaslike watervoorrade van die betrokke gemeenskap onttrek. Nodeloos om te sê dat laasgenoemde weer op sy beurt spanning plaas op drinkwater, landbou en ekosisteme, veral in droë streke.
In die VSA het navorsers getoon dat datasentrums miljarde liter water per jaar vir verkoeling gebruik en dat hierdie hoeveelheid binnekort kan verdubbel indien die KI/AI-bedryf teen die huidige tempo aanhou groei.
Die impak hiervan op omgewings en gemeenskappe asook op die ekologie in sy geheel, kan ernstige gevolge inhou in die sin dat watertekorte vir tegniese doeleindes noodwendig lei tot spanning op plaaslike bronne.
’n Verdere ernstige ekologiese probleem is dat chemies-behandelde water in riviere gestort word. Die storting van chemies-behandelde water in ons riviere het noodwendig ’n nadelige invloed op die biodiversiteit in sy geheel.
Híérdie kwessie neem ernstige afmetings aan en wel in so ’n mate dat sommige lande, soos Maleisië byvoorbeeld, net water-doeltreffende datasentrums toelaat om te verhoed dat hul waterbronne uitgeput word.
Nog ’n gevolg van datasentrums se verkoelingspompe en ventilators is dat dit geraas veroorsaak wat hoër is as die van ’n groot bedrywige stad.
Die gevolgtreking wat ons kan maak uit dit wat in hierdie artikel uitgewys is, is dat KI/AI en datasentrums ongetwyfeld essensieel vir die moderne digitale ekonomie is. Die KI/AI-wolk het letterlik op aardbodem grondgevat.
Tog kan KI/AI en sy datasentrums nie as “onaantasbare infrastruktuur” beskou word nie. Die mens moet homself ongetwyfeld deurgaans vergewis van die invloed wat sy omgang met elektriese krag, waterhulpbronne, akwatiese ekosisteme asook buitensporige geraas, op die omgewing en breë ekologiese sisteem het. Deur voortdurend ekologies-paraat te wees sal ernstige toekomstige omgewing- en ekologiese krisisse voorkom word.
Om die ware koste en invloed van KI/AI op die mens en sy omgewing asook die breë ekologiese sisteem te bereken, vereis van die mens om voortydig ’n behoorlike omgewingsimpakstudie te doen. Dít sal ongetwyfeld volhoubare tegnologieë asook samewerking tussen industrieë, die betrokke gemeenskappe en harmonie met die ekologie tot gevolg hê.
Sodoende sal die mens nie net slim tegnologieë soos KI/AI bou nie, maar ook ’n ekologies gesonde planeet behou. Hoe lees die gesegde nou weer? Moet nie die ekologiese balans versteur nie!
Ten slotte: Die KI/AI-wolk het op aardbodem grondgevat.
Gaan ons nou toelaat dat KI/AI ook die ekologie vat?
————————————————————-oooOooo————————————————
©Pieter Mostert
Voetnotas
• ’n Trofiese vlak verwys na die posisie wat ’n organisme in ’n voedselweb of ekosisteem
inneem, gebaseer op sy voeding en die rol wat dit in die energieketting speel.
• In ‘n neutedop is piekbelasbare krag die hoogste “druk” of las wat iets kan dra op sy piek.
Bronne
• Carter, L., Burnett, D., Drew, S., Marle, G., Hagadorn, L., Bartlett-McNeil, D. en Irvine, N. (2009) Submarine cables and the oceans: connecting the world.
• Ewim, D.R.E. et al., 2023. Impact of Data Centers on Climate Change. Journal of Engineering and Exact Sciences.
• Google Data centers, 2025. Environmental sustainability report.
• Han, Y. et al., 2024. Public health impacts of AI.
• Marston, L., Siddik, M.A. & Shehabi, A., 2021. Environmental footprint of data centers.
• Reuters, 2025. AI data centers forcing dirty power plants back into service.
• Zhang, Y. et al., 2025. Water use of data center workloads. Resources, Conservation and Recycling.
2 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Baie interessant. Voorspoedige nuwejaar ook vir jou.