Jongste aktiwiteit:

Die geur van kaneel

Ek het gisteraand tot watter tyd van die nag melktert gebak, die ware Jacob. Hedendaagse melktert proe mos ene plastiek, melerig, te skerp gegeur met amandel ekstrak en wie weet wat nog. Die oumense vanmelewe het nie sulke fênsie geurmiddels gehad op die plase nie. Daar het boervroue nog plan gemaak met natuurlike geurmiddels verkrygbaar in die natuur rondom hulle. My ouma Baai het (soos vele Afrikaner boervroue uit die draai van die vorige eeu ) haar melkpap gegeur met nartjieskille en kaneelbas. So het sy dit toentertyd neergeskryf met haar netjies krulletjies handskrif in die klein swart klaswerkboekie met sy vergeelde blaaie. Daarin het sy al haar staatmaker resepte vir my ingeryg soos helder glas kraletjies sodat ek dit op aande soos gisteraand uit my resepte juwelekissie kan uithaal en vir ‘n wyle daarmee kan pryk om my hals. Daarom dat my kombuis vanoggend (toe ek met dagbreek die onderdeur oopmaak en die ketel aansit vir koffie) swaar geruik het na kaneel, na die soet geur van ouma Baai se boesem, na plaas.

Terug na die melktert. Die melktert resep is in groot maat, want sien, te min van ‘n goeie ding is ook ‘n sonde. Die Truter familie ken van eet en groot waardeer vir lekker smak-goed. Die geheue aan swaar tye en knyp tekorte in maer jare nog te vars in ieder en elk se geheue. Ouma Baai (en nou myne) se resep maak voorsiening vir vyf stewige vol lyf melkterte. Ek het moeilik geskil aan die buite-seisoen nartjies met hulle taai skilletjies maar ten minste was die eindresultaat uiters bevredigend. Die aroma wat my omvou het die oomblik toe ek die stringe gekneusde nartjieskille in die stomende pot melk op die stoof gooi, het beelde van voor-oorlogjare in my geestesoog opgeroep. Van tye toe die vettigheid van oes nog geil op landerye geswel het, toe kinders nog bees help aanja het stalle toe en koeie se eiers nog tot barstens toe geswel gestaan het van melk weens volop son en groen en onbegrensde ooptes.
Nee, ek was ‘n kleuter van die sewentiger jare, maar het darem my voorskooljare vakansietye saam met ouma en oupa op die plaas deurgebring en verder was ouma se stories altyd vol kleur en geur en geluide. Wanneer sy vertel het van die plaas kon ek die klingel van melkkanne oproep, die reuk van beesmis en hooi in die melkstal, die blink gepoleerde roomafskeier in die melkkamer en kapokhenne se skrop en kloek en werskaf op die plaaswerf.

Wintermaande kleef die reuk van kamfer, kleindogtertjie lyfies en lemoene gereeld aan my hande. Dis lekker en dit steek gewoonlik die warm kaggel van liefde in my hart brand. Dit verdryf koue en klammigheid uit plankvloere en venster skrewe en meestal verdryf dit verlang na tye en mense wat my help vorm en maak het, wat my leer lag het, wat my leer gee het sonder om iets terug te verwag.

Gisteraand, so deur die deeg uitrol en tertbakke smeer, was ek vir ‘n wyle weer vyf jaar oud. Het ek saam met oupa voor die agterdeur gesit op ‘n regop hout stoeltjie en het hy my so, met sy een oog styf toegeknyp, geleer om my oggendkoffie uit die diep blommetjies piering te slurp. Toe ouma ons een oggend vang in die middel van hierdie ritueel was sy hoogs ontstoke ” My ding, jy kan mos om vadersnaam nie die kjent leer om koffie so slurp slurp uit pierings te suie nie ”, het sy verontwaardig opgemerk. Oupa het net skalks geglimlag en gesê: ” Ou vrou, nou waarvoor dien dat skotteltjie dan ? ” Ek onthou dit nog, ek onthou dit nog soos gister.

Die melkpap was dik en klewerig en soet toe ek dit in die tretbakke uitgooi. ‘n Gesonde geel met die reuk van gesmelte botter wat ek vroeër ingeroer het om aan die pap ‘n gladde, geurige porselein lyf te gee. Toe ek die fyn kaneel mildelik oor die warm tertpap begin strooi, lok die geur en aroma die meisiekinders weg voor die televisie en kom hulle snuif snuif die kombuis ingestorm.
” Mamma, is die melktert al klaar, mag ons proe ? ” …”Nee, dit moet nog gebak word julle lawwe kuikens maar moreoggend kom oupa Baard se susters almal uit die Boland kuier en dan gaan die familie almal saam visbraai op die weskus manier. Oupa het laat weet dat hy spesiaal gaan brood bak vir die okkasie en ek is seker daar gaan vele boeppens glaspotjies op die tafel wees, vol van sy heerlike vrugte konfyte wat hy regdeur die jaar kook, bottel en bêre. En na die tyd dan maak oupa vir ons regte moerkoffie en dan sny ons dik skywe van hierdie melktert. Dan bolling onse kieste weer van smul aan hierdie heerlike ouwêreldse lekkerny. Dan onthou ons weer kleintyd en al die ouma en oupa grootjies en stem ons almal saam dat niemand darem melktert kon bak soos die oumense vanmelewe nie, behalwe mamma natuurlik”

Die wippies het sopas ontwaak en hulle woel en werskaf al klaar om aangetrek en getittewyt te wees vir die familie kuier. Ek het my hande vol om hulle van die melktert weg te hou, wat nou harder na hulle roep as pap en roosterbrood.

Veel later, wanneer die geklets van familie gesels oorverdowend tussen geliefdes gaan opklink, sal ek weer gisteraand onthou, die uitrol van deeg in nanag ure, die geur van kaneel en die sag van ouma Baai se boesem.

© 2016 Almarie Truter




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed