NAGTREIN NA BETHLEHEM
Die aand toe Fanie de Villiers gereed maak om te gaan werk in die ruskamers op Bloemfontein stasie is soos enige ander aand. Hy trek sy uniform klaar aan nadat hy onder die stort was en maak vir oulaas seker dat hy netjies vertoon voordat hy sy kosblik in die kombuis neem om aan te stap stasie toe. Fanie is n kaartjies ondersoeker en werk hy en oom Gert Prinsloo, die ander kaartjies ondersoeker, wat in die kombuis by hom aansluit, die nag passasierstrein Bethlehem toe. Oom Dolf Sonnekus, die kondukteur, sluit ook by hulle aan en begin hulle al geselsend aanstap stasie toe. Hulle het verlede nag met die passasierstrein van Bethlehem af ingekom en het toe afgeboek om vannag die trein na Bethlehem te werk.
Op die stasie gekom gaan teken hulle aan in die roosterkantoor en Fanie gaan kry die treinplanne by die kaartjieskantoor. Hy kyk vinnig deur die planne en sien dat die trein redelik vol bespreek is, normaal vir n Vrydagaand. Dan is die trein altyd vol bespreek want dit is studente en skoliere wat wil huis toe vir die naweek. Dan kom die weermag lotelinge ook nog by, ook oppad huis toe vir die naweek.
Saam stap hulle oor platform drie toe waar die rangeer lokomotief net die rytuie ingestoot het. Dit is n hele skare wat op die platform staan. Eers gaan sit hulle hulle kosblikke in hulle kompartement en toe Fanie op sy preekstoeltjie klim begin die mense toustaan om n plekkie te kry. Oom Gert werk die nie blanke kant vanaand en kry hy koers na die derde klas rytuie toe. Oom Dolf kry koers na sy kondukteurswa toe.
Op die ander platforms is ook mierneste van bedrywigheid soos rangeer lokomotiewe rytuie vir treine na ander bestemmings instoot en rytuie verwyder.
Die platform is soos gewoonlik n miernes van bedrywigheid. Platform trekertjies wat heen en weer jaag met stringe rasende hoppende waentjies met pakkies en possakke. Die waterman wat sy waentjie vol waterbottels van rytuig tot rytuig sleep om die vol waterbottels in te sit. Die spoorwegpolisie in hulle bruin uniforms wat n wakende ogie hou.
Die wat bespreek het is nie vir Fanie n probleem nie maar die wat nie bespreek het nie is n kopseer. Gelukkig gee die lotelinge, die studente en die skoliere nie om as hy hulle tot agt in n kompartement druk nie, hulle hou daarvan en elkeen kry n plekkie. Die gewone passasiers kry hy darem ook in met ses in n kompartement en vier in n kompartement in die eerste klas rytuie.
Fanie het haar op n bankie sien sit toe hy op die platform gekom het maar het hom nie veel aan haar gesteur nie. Hy wil net van sy preekstoeltjie afklim toe sy voor hom kom staan: “Meneer is daar dalk nog vir my n plekkie Bethlehem toe.
Fanie beskou die vrou voor hom n paar oomblikk. Sy is netjies aangetrek in n effens verslete lang mou bloesie en langbroek.. Die vaal hare is in n poniestert agter haar kop vasgebind. Langs haar staan n kleinerige tassie.
Fanie kyk deur sy planne maar die trein is reeds oorvol. Daar is nie plek nie. Sy eerste beskikbare plek sal op Tweespruit wees waar n paar passasiers afklim.
Fanie kyk vir haar en skud sy kop: “Juffrou ek is bevrees hierdie trein is alreeds oorvol. Ek is jammer ek het net nie meer plek nie”.
Trane wel in die bruin oë op: “Meneer asseblief, al moet ek die hele tyd in die gang staan, ek moet net vanaand hier weg. Asseblief meneer help my”.
Fanie kry jammer: “Juffrou dan moet jy maar in die kaartjies ondersoeker kompartement saam met my ry tot op Tweespruit waar my eerste passasiers afklim en ek vir jou plek het”.
Fanie gee vir haar die rytuignommer en die kompartement nommer. Sy is net in toe die stasie inspekteur op die platform verskyn om die trein weg te sien. Fanie wys vir hom dat hy reg is en die stasie inspekteur stap telefoon toe om die seinhuis te bel om die trein aan te gee as gereed vir vertrek.
Die luidspreker op die platform kry lewe met die aankondiger se stem: “Aandag asseblief. Attention please. Die alle stasies trein na Bethlehem op platform vier is gereed om te vertrek. Sitplekke asseblief. The all stations train toe Bethlehem on platform four is ready to depart. Seats plase. Ons wens u n aangename reis toe. We wish you a pleasant journey. Ons wens u n aangename reis toe”.
Groen lig vorentoe deur die stasie inspekteur en n ligte plukkie soos die trein in beweging kom. Fanie klim dadelik in en beweeg na die agterste deel van die trein toe om te begin kaartjies knip. Hy beweeg van kompartement tot kompartement met die beddegoed bediende op sy hakke om beddens op te maak vir die passasiers wat beddegoed verlang. Net nou sal hy met sy skoon maak goed die gange kom skoonmaak.
Met die reuk van rook en stoom en die haastige geklap van die wiele oor die spoorlaste storm die trein deur die voorstedelike stasies. Hier word nie gestop nie en is die eerste stop Sannaspos. Die trein is egter vol lewe soos die studente, skoliere en lotelinge gesels en lag en sommer oor en weer kuier. Fanie het veral met die studente soms sy hande vol want hulle is maar lief om die kaartjies ondersoeker se siel uit te trek. Toe hulle op Sannaspos stop is hy darem deur die trein en kom hy vir die eerste keer in sy kompartement nadat die trein weer weggetrek het.
Toe hy in die kompartement kom sit sy by die venster die nag en intuur maar kyk sy dadelik vir Fanie met n warm glimlag wat oor haar gesig sprei. Fanie glimlag terug en is dit al of daar vir hom iets nie reg is hier nie. Hy kan aanvoel dat dit kompleet is of sy vlug vir iets.
“Meneer, baie dankie dat jy my gehelp het”, sê sy terwyl sy haar kaartjie uit haar bloes se sak haal en vir Fanie gee om te knip. Fanie sien dadelik dat dit n enkelkaartjie is maar ook dat daar geen ringe aan haar vingers is nie. Hy knip die kaartjie en gee dit vir haar terug.
“ Dit is n plesier juffrou. Net jammer vir die ongerief om nou n kompartement met my te deel maar ek kon nie anders nie, al plek wat ek het. Waarheen is jy oppad juffrou. Sekerlik nie Bethlehem nie”, antwoord Fanie.
Trane wel in haar oë op maar sy antwoord nie dadelik nie. Al wat hoorbaar is is die geblaf van die lokomotief voor die trein en die geklap van die wiele oor die spoorlaste. Dit is egter of die donker hout afwerking van die kompartement n rustige warm atmosfeer skep. Die meisie tuur in die nagdonkerte deur die ruit en dan kyk sy vir Fanie met die trane wat nou vryelik vloei.
“Ek weet self nie waarheen nie meneer. Ek het vandag net gevlug want ek kon nie meer nie”,
Oom Gert kom die kompartement in om gou n slukkie koffie te kom vat. Hy sê egter niks oor die meisie se teenwoordigheid nie en na n paar minute begin die remme skree as die trein spoed verminder om op n halte te stop. Oom Gert is dadelik weer weg want op hierdie haltes het hy altyd passasiers aan die nie-blanke kant.
Toe oom Gert uit is vra Fanie toe die meisie weer vir hom kyk: “My naam is Fanie de Villiers, wil jy my dalk vertel waarvoor jy vlug”.
Sy kyk vir Fanie en is dit net of die man met sy swart uniform met die silwerstrepe op sy moue n groot vertroue in haar laat ontstaan: “My naam is Anita Coetzee. Ek het vandag weggeloop van die huis af omdat ek nie meer kans gesien het vir nog n Vrydag aand nie”.
Sy bly n oomblikkie stil en gaan dan aan: “Ek en my pa bly alleen en Vrydag aande kom hy papdronk by die huis aan. Dan word ek uit die bed uit gepluk en begin hy op my vloek en skel en moet ek hoor hie sleg ek is en dat die huis nie na sy sin is nie”.
Anita druk haar gesig tussen haar hande in en dan vertel sy verder; “Ek is nou twintig en het nog niks van die lewe gehad nie. Na my ma se dood toe ek in matriek was is ek nie toegelaat om te gaan werk nie. Ek het n kluisenaar in daardie huis geword wat moes huis hou, wat ek na die beste van my vermoë gedoen het maar vandag kon ek nie meer nie. Ek het die geld wat hy vir my gegee het om sy drank te gaan koop en bietjie kruideniers, my tas gepak en geloop, stasie toe. Ek het vir my n kaartjie na die eerste plek wat in my kop gekom het gekoop, Bethlehem”.
Die remme begin skree en die trein begin poed verminder. Fanie staan op en sit sy pet op, Tweespruit en hier sal passasiers wees wat hy nou moet gaan help. Sonder n woord verlaat hy die kompartement en klim uit toe die trein stop. Die paar passasiers help hy vinnig en dan kom die trein weer in beweging. Fanie gaan na sy kompartement toe maar gaan sit maar net weer. Hy het nog steeds nie n gaatjie vir Anita nie.
Toe hy gaan sit vra hy: “En as jy nou eers op Bethlehem is Anita wat gaan jy dan maak. Het jy nie familie na wie jy toe kan gaan nie”.
Sy kyk vir Fanie groot oog aan: “Ek weet nie Fanie. Ek hoop en vertrou maar dat daar uitkoms sal wees. Familie het ek nie, ek was die enigste kind en ek dink my ma het ook maar net ter wille van my by my dronk pa gebly.”.
Fanie praat nie verder nie en sit hulle lank in stilte terwyl die nag by die venster verbygly. Anita sit maar deur die ruit en tuur vir die nag wat verbygly. Om die draaie kronkel die rytuie se ligte voor en gter hulle aan met die geklap van die wiele oor die spoor laste. Sy voel later sy word vaak en haar koppie begin knik. Fanie merk dit op en trek die boonste slaapbank vir haar af. Woorde is nie nodig nie en dankbaar klim sy op die slaapbank om in n hopie op te krul en aan die slaap te raak. Gelukkig is dit hoog somer en nie koud nie.
Fanie se kop is n warboel en dink hy hoe hy vir Anita kan help. Hy kan haar tog nie op Bethlehem aan haarself oorlaat nie. Dan kry hy n plan en hy glimlag by homself toe die remme weer baie later begin kree om op Clocolan te stop. Toe hy opstaan en vir Anita op die slaapbank loer sien hy n glimlaggie om haar mondhoeke huiwer in haar slaap, en sy slaap diep sien hy.
Dit begin dagbreek word toe Anita vir die eerste keer wakker word. Vir n rukkie lê sy en luister na die lui geklap van die wiele oor die spoorlaste en hoor sy die remme begin skree en voel hoe die spoed verminder. Toe sy deur die boonste skrefie van die venster loer sien sy die naambordjie Slabberts verby gly voor die trein tot stilstand kom.
Fanie is nie in die kompartement nie en toe sy lui van die slaapbank afklim en deur die venster kyk sien sy hom buite staan waar hy besig is om twee mense plek te gee.
Met die mense in die trein gee die stasievoorman n geoen lig vorentoe en die trein kom in beweging n n lang fluit deur die drywer.
Op haar plek sit sy n uitkyk toe Fanie inkom en vra: “Het jy lekker geslaap”.
Anita antwoord met n glimlag: “Heerlik dankie Fanie”.
Die trein begin die klim teen die Barnea bank uit. Nou kan Anita duidelik deur die venster sien hoe die koppelstange lui by die groot trekwiele verbyflits toe die die trein om n draai begin gaan. Met elke blaf word rooksuile die lug ingestoot om soos n lang slang oor die trein te bly hang. Wielflense skree protesterend om die draai en Anita verstom haar aan die berge wat hulle omvou.
Fanie se stem bring haar terug: “Anita ek het lank oor jou nagedink en wil jou graag n voorstel maak. Ek en my ma bly alleen in n grote huis en jy kan by ons kom bly tot jy rigting gekry het en besluit het wat jy wil dioen. As jy wil kan ek jou help om aansoek te doen vir n klerk”.
Dit is vir Anita of sy haar ore nie kan glo nie. Sy kyk lank vir Fanie en dan antwoord sy: “Dankie Fanie jou aanbod is vir my n antwoord op n gebed. Baie dankie, maar jou ma gaan mos baie ontsteld wees as jy met n wildvreemde vrou by die huis kom”.
Fanie skud net sy kop: “Sy sal eerder ontsteld wees as sy moet hoor dat ek jou aan die genade oorgelaat het”.
Fanie voel bietjie dom en glimlag maar net om sy beloning, n warm glimlag te kry. Hulle praat nie verder nie want Fanie moet deur die trein gaan om seker te maak almal is wakker. Toe hy terug is begin die trein die laaste afdraande Bethlehem toe vat Deur die venster sien sy hoe hoe die voorste deel van die trein haastig om die draai gly en kom haar nuwe tuiste, Bethlehem in sig.
Toe Fanie terugkom en sy goed bymekaar sit haal hy haar tas vir haar af en sit dit neer: “Ons is hier, einde van die reis. Wag vir my by die hoof gebou as ons uit is, ek moet net gaan afteken en kaartjies kantoor toe gaan.
Anita knik dankbaar met haar kop en oom Gert, wat sy goed ook kom haal het, kyk hulle fronsend aan.
Sy wag nie lank by die hoofgebou nie of Fanie sluit by haar aan. Saam stap hulle deur die duikweg en Anita het n lied in haar hart oor n nuwe toekoms wat vir haar wag. .
7 Kommentare
-

Viooltjie
Ja, soms moet mens maar liewer wegloop van dit wat jou ongelukkig maak. Lekker ontspanningsleesstof, Neels :-)
-

Palet
Stories met 'n mooi end is altyd baie lekker om te lees
-

Toom
Hy wat kan, kan. En jy kan. Dankie! GvT
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Ek het weer lekker gelees.