Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DIE ROOITAPYT

Deur GhwarriegatQueen
Datum gepubliseer: 18 Desember 2019 Aantal woorde: 937 729 Kere gelees 16

DIE ROOITAPYT

Ja, liewe Bokkie my babie, ekke weet eers – hierdie kiekie wat ek teen my eie persoonlike muur vas gespoeg en plak het, lyk darem vreeslikbaie windgat en so upstêrs nes een van daai hupse Hannies wat glo as hulle op ‘n riempies bank gaan sit dan skyn die son in blokkies…. Enne jou gedagtes is kolskoot, dit lyk so omdat en oordat dit so moet lyk; eers.
Maar wag, nê, kom ek gaan haal die storie net gou daar so duskant die begin – eintlik maar soos net nadat die Liewe Vader die woeste leegheid wat soos ‘n middelmaand se grocery-trollie rondom Hom gekoggel, bekyk het…. Joh, Bokkie my babie, 2019 was ‘n viesaaklige, rowwe jaar.
Kyk, ek voel oor hierdie jaar soos wat ek oor loadshedding en skynheilige mense voel. Huh-uh, ek kan jou nie sê van daai voel nie, jy moet nog Sondag nagmaal gebruik. Ag oukay man tog, wat ook al.
Ewentewille – ek was lojaal teenoor mense en situasies wat my stukkend gebreek het. Om die een of ander rede bly ek maar ‘n sucker vir ‘n sadsong.
Mense het my soos blaaie uit ‘n boek geskeur en hulle eie weergawe van Name. Vanne. Diere. Dorpe; gespeel. Hulle koffie en dop roekeloos gemors op die voorblad van my vrouweesgemaak. ‘n Helemal andersters voorwoord gemaak. Die inhoud van my lewensdans so ge-edit dat ek gedog het ek pleeg plagiaat met my eie storie. My kiekies, my menswees gephotoshop; soveel so dat die honor bright Liza wegverloor het….. En.
En ek het na haar verlang, na haar begin soek. Maar haar buitelyne was vaag en fraaiing-flenters plek-plek gemors binne-in hierdie wise-ass hart van my.
Hoe lyk sy. Wie is sy?… Maar.
Daar’s een plek waar ek haar defneslis sou kry – haar geliefde ou Ghwarriegat.
En hier binne-in hierdie wise-ass hart van my het ek begin terugloop na my geliefde ou Ghwarriegat; terug om Liza te gaan soek.
Langer, verder en meerder as Koos Doep se 10000uur….. Langs nuwe bakens en stokou spore – langs die pad het ‘n klompie kinders geslenter-speel; enne ek wou hulle gaan vra of hulle per dalks die regte Liza ken – die GhwarriegatQueen? Maar toe onthou ek net betyds dat Liza (soos hulle sê) blykbaar kinders molesteer; skarlakenvrou wat sy is – toe los ek dit maar, bang hulle skrik en hardloop weg.
Verder aan het ‘n man gestaan, ek het gedink dis my Righ en nader gehardloop; maar ‘n paar treë later liewersters besluit om met ‘n ompad verby te loop – seker maar omdat ekke aspris per ongeluk onthou het dat Liza nie mooi en sexy genoeg is vir ‘n man om 2keer na haar te kyk nie, so…. So miskien was die man wat haar eens op ‘n tyd liefgehad het net ‘n illusie – just an illusion. Toe val ‘n traan;’ baby don’t you cry for me’, en ek loop verby.
‘n Stukkie se dagreis verder het ek ‘n vrou gesien, per dalks sou sy weet? Maar my hart het spontaan ingezoom op graffiti oor my vrouweesgemaak – dat Liza nie ‘n ware vrou is nie; omdat en oordat sy nie eers ‘n man sal kan vang nie; sy dra weinig grimering, loop kaalvoet; en…. en haar gunsteling klere is woefhare en daar is menige keer ‘n vuil streep oor haar wang (morsige vrou, die Liza) – sy’s ‘n moeilike mens wat weier om saam met die stroom te swem (seker maar omdat sy bang is vir water) of te buig voor die neongod van die Establishment. Toe tula ekke en loop duskant om en….. Enne toe.
Toe.
Toe sien ek dit – die rou stukkie blink byna se amper kestamper onsienbaar vir ‘n ongeoefende oog; maar ek ís die GhwarriegatQueen! Cause why omdat en oordat daai stukkie blink is of die wegverloorde knoop van ‘n Sho’t Leftengeltjie se uitgaankkere; of die traan van ‘n Hoer se hoopverlore spartel.
Dis mý geliefde ou Ghwarriegat.
Die regte Liza sal daar wees.
Die Ghwarriegat word tralies om my siel, koud en bang. Tog warm en veilig, so ontsettend veilig. EK IS Tuis! Maar alhoewel my voet elke liewe stukkie grond, stukkie vuil; stukkie als hier so goed ken soos wat God my hart ken, weet ek dit sal nie help om die regte Liza te begin soek nie…. en toe.
Toe staan ek op en gaan haal daai rooitapyt uit die brandkluis van my hart; daai rooi mat wat ek nog net vir my Hero oopgegooi het. Wild, onbevange tuimel die rooi oor die vuil, die donker, die eina…. Nee.
Huh-uh, ek gaan nie vir Liza soek nie. Ek gaan dans! Dans op hierdie rooi (soos, rooi nes Bloed); dans! DANS totdat Liza se vae buitelyne weer vol geloop het. Propvol.
DANS totdat die voorblad van haar vrouweesgemaak weer oorgeteken is deur daai Kunstenaar wat die ganske skepping tot bestaan gedans het; totdat Hy haar kiekies weer gephotoshop het.
DANS totdat die kopiereg alleen God s’n is….. Totdat Hy die slot van my verhaal in bloeisels skryf.
My…. My voete voel half, ek weet nie; half dom…. Dan, weet nie – dit gebeur net…. Here, my… my voete wat begin dans. My dans, my per dalks heel laaste dans. Of ek vir Liza ooit helemal gaan terugkry; weet ek honor bright nie. Maar ek gaan vir hierdie dans, vir jou en ook my Hero my hele hart gee. Cause why omdat, dis nooit te laat nie.

Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag wat vaag is in jou ook weer volloop; mag jou lewensdans ook Sy kopiereg wees.
©Liza Daniells




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 78
Kommentaar telling: 24

Vergun my net so n skeutjie se agtergrond; seblief - Ek sal dit kort hou. Ek was vir 26 jaar (van ouderdom 8 jaar) vasgevang in prostitusie, delms, satanisme; ens. Ek sal jou nie opsaal met die detail nie. Ek is nou al 21 jaar deur God se genade vrygemaak van daai boeie van die verlede; maar ek ervaar steeds baie vervolging en verwerping van kerk en Establishment. En - verloor om n laaang storie kort te maak, ek het net mooi ALS - letterlik en figuurlik verloor. Hoeveel maal in die winter moes ek fisies op straat slaap; enne is nou een keer gegangrape......nou sit ek met serviks kanker. Maar dis nie die punt nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek wil nie chemo of n hospitaalbed he nie. Ek wil weer die seesand onder my voete voel; die see sien. Ek is onherroeplik mal vir die see; vir mooi, ou Kaapland. Ek wil waag om te glo in die gebeur van n wonderwerk. Weer geluk vind; liefde. Ek wil LEWE!!!

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 167 gaste aanlyn

Bydraes – Argief