Vergifnis maak jou vry.
“O, gorrel!” Nadia klou krampagtig aan die motordeur. Die wind dreig om dit uit haar hand te ruk tussen die vlae kletterende reëndruppels wat neerpiets op die wit Volla se dak. Sy leun oor na die pasasiersitplek, trek die sambreel nader wat skuins teen die sitplek staan-leun en bring dit uit na buite. Haar duim druk ferm die knoppie, dit kerf pynlik in haar vlees in. Met ‘n klik en sagte swoosh skiet die sambreel oop en ruk-ruk woes aan haar hand. Haastig versplinter haar hofskoene die waterplasse. By die groen hekkie sukkel sy om die gladde knip oop te kry voor dit klaend oopswaai. Die reën verswelg die gruis se geknars onder haar voete. Aan die bopunt van die trappe gaan staan sy verlig, dankbaar vir die beskutte voorportaal van die Victoriaanse woonstelblok. Met mening skud Nadia die sambreel om van die laaste klouende reëndruppels ontslae te raak. ʼn Rilling gaan onwilligkeurig deur haar lyf toe ʼn reëndruppel kriewel-kielie tussendeur haar hare oor haar kopvel.
‘n Taxi stop skielik voor die gebou. Die deur vlieg oop en ‘n korterige, swartkop jong man struikel-val uit die blou huurmotor. Sy gesig is verberg agter die langerige, swart gordyn van hare. Sy wit hemp loer slordig onder sy baadjie uit en die rooi das hang windskeef. Nadia staar vasgenael na hom terwyl hy sukkel om die al meer natwordende hemp ingesteek te kry sonder veels sukses. Sy voete trap al slinger, slinger die paadjie af tot by die onderpunt van die trappies. Vir ‘n paar tellings staan hy wiegend, bestyg dit onvas en trap die boonste trappie mis. Verskrik gee sy vinnig pad. Sy arms gryp tastend na vaste hulp. Met ‘n dowwe slag tref hy die teëls van die vloer, swets en probeer sonder welslae om weer regop te kom. Hy lê daar vir ‘n paar tellings en staar uitdrukkingloos na die koue, harde teëlvloer, voor hy in ‘n donker niks wegsak. Waterdruppels loop al langs ʼn sliert hare af teen sy gesig. Geskok herken Nadia hom as die skatryk jong man, Juan van Wyk. ‘n Inwoner op die tweede verdieping van hierdie woonstelblok. ‘Die erfgenaam van skatryk ouers, wie hom tot in die afgrond bederf het tot en met hulle dood, so het die gangbewoners al aan haar gefluister.
“Meneer … uh … Van Wyk? Is alles reg? Het jy seer gekry?” Bekommerd skud sy hom aan sy skouers. Geen reaksie. Sy bewe nou onbedaarlik van die koue. Hulpsoekend kyk sy om haar rond, maar gewaar nie ʼn siel nie. Vir ‘n sekonde oorweeg sy om hom net so te los, maar dan gaan haar gewete haar aankla. Want, hoe kan sy so onmenslik wil wees om iemand in die koue, ongenaakbare elemente van die Kaap se hande te los? Haar hofskoene eggo klik-klik die gang af en raak stil voor die opsigter se woonsteldeur op die grondvlak. Haar hand hang huiwerig voor die deur. ‘Wat as …, nee Nadia moenie simpel wees nie, hy sal nie weier nie. Hy sal beslis help.’ Klop-klop. Doodse stilte. “Meneer Tafani!” Sy hoop sy spreek die naam, wat op die koperplaat pryk, reg uit. Daar is ‘n roering binne die woonstel. ‘n Stoel wat agtertoe gestoot word, sagte skuifelgeluide en skielik vlieg die deur oop. ‘n Klein, gryse mannetjie, met kromgetrekte skouers kyk haar met vraagtekens aan. ‘n Televisiestel blêr iewers binne. “Middag Meneer … um … Tafani! Jammer om te pla, maar ek benodig u hulp met Meneer van Wyk.” Vraend kyk hy na haar. Sy beduie pleitend in die rigting waar Juan nogsteeds bewegingloos op die teëlvloer lê. Meneer Tafani loer nors om die deur na die voorportaal in die rigting wat Nadia beduie. Hy lyk nie baie gretig om die jonge heer te help nie.
“Asseblief,” kom dit smekend van Nadia. “Kan u my dalk help om hierdie man by sy woonstel te kry. Dit wil my voorkom of die man dalk bietjie te vroeg te diep in die bottel gekyk het en ek is net bang hy mag dalk verkluim van die koue hier buite.”
Huiwerig kyk die opsigter na haar en skud sy kop.
“Asseblief, Meneer Tafani!” Ons kan hom nie so daar buite los nie” kom dit weer roerend van Nadia. Met pleitende oë wink sy vir hom om haar te volg. Vir ‘n sekonde kyk hy aarselend na haar, sug, trek die deur saggies agter hom toe en volg haar.
By die jong man gekom, hurk Tafani en skud hy hom verwoed aan sy skouers. Dit het nie die gewenste uitwerking nie. Hy skud hom hom weer aan sy skouers, die slag met meer mening. Juan se oë vlieg oop, hy sukkel om te fokus. “Kom jongman, so kan jy nie hier lê en jou roes afslaap nie, ek gaan jou gou help tot by jou woonstel.”
Juan se oë val weer toe, maar hy word weer uit sy beswyming gehelp met ‘n harde geskud. Sy oë vlieg oop en verergd klap hy die opsigter se uitgestrekte hand weg. “Los my!” sleeptong-skree Van Wyk en stamp die ou man lomp weg. Hy swets weer verergd.
Die opsigter steek weer sy hand uit in ‘n vergeefse poging om hom te probeer op help, maar word met ‘n oop hand begroet. Verbaas staar hy na Van Wyk en vryf teer oor sy wang. Met ‘n verergde skouerophaling draai Meneer Tafani om en verdwyn al mompelend die gang af terug na sy woonstel.
Geskok staar Nadia die opsigter agterna. ‘Wat nou,’ wonder sy. Sy sal nie vrou alleen hierdie dronklap kan help tot by sy woonstel nie en sy kan ook nie net die man hierso in die koue los nie, haar gewete sal haar aankla as hy iets moet oorkom en sy het nie ‘n helpende hand uitgereik nie. Bewend vryf sy haar bo-arms. Wat gaan sy doen? Hoe gaan sy hom nou by sy woonstel kry? Sy staan nog en weeg haar opsies op, toe die opsigter na ‘n paar senutergende minute weer te voorskyning kom, met ‘n tiener kort op sy hakke.
Van Wyk roer en sukkel om homself met moeite teen die reling op te hys. Die opsigter en onbekende jong knaap haas hulle na hom, neem hom ferm by sy arms en gaan val-val die woonstel gebou binne. Met moeite en ‘n paar keer se struikel kry hulle hom uiteindelik op die tweede verdieping, waar hulle hom sleep-dra tot voor die rooi bank in die gang en hom daar tuismaak. Nadia slaak ‘n sug van verligting. Meneer Tafani kom terug gestap na haar en mompel iets onhoorbaars aan haar Sy bedwing haastig ‘n glimlag as dank, al weet sy nie wat hy vir haar gemompel het nie. Van Wyk lê gedrapeer oor die bank, sukkel om half regop te kom. Hy grawe soekend in sy sakke rond, bring ‘n klein pakkie te voorskyn, skud dit eenkeer teen sy hand sodat een sigaret tartend uitgly. Hy plaas dit tussen sy lippe en sukkel met onhandige vingers om sy aansteker te laat brand. Na ‘n paar probeer slae bring hy die flikkerende vlammetjie na sy sigaret en kry dit aangesteek met bewende vingers. Die sigaret se punt gloei rooiwarm toe hy ‘n paar diep behaaglike teue neem. Hy leun terug, val amper om en maak sy oë genotvol toe. Sy ooglede begin al swaarder raak totdat hy in ‘n heerlike gee-nie-om nietigheid wegsak met die nog brandende sigaret vergete tussen sy lippe.
Sprakeloos staar sy na hom, skud haar kop in ongeloof en tree saggies nader aan die man. Versigtig haal sy die sigaret, wat nou gevaarvol op sy onderlip huiwer, uit. Sy boor met haar skoen die brandende sigaret dood op die teëls. Draai om en haas haar vinnig na haar woonsteldeur, bang dat sy hom wakker sal maak. Met die zoemende buisligte wat so voor haar deur flikker, sukkel sy met die deur se slot en laat val sy die sleutels al kletterend op die teëlvloer. Agter haar hoor sy ‘n roering. Vir ‘n sekonde staan sy versteen. Hy het weer wakker geskrik en prewel weer iets onverstaanbaars met ‘n swaar tong. Senuweeagtig buk sy en tel die bos sleutels versigtig op. Soek na die regte sleutel op die sleutelring, druk dit hard in die slot en gee dit ‘n draai. Dit gee ‘n harde knars. Verlig stoot sy die deur oop, glip geruisloos in, net te bly om veilig terug in die woonstel te wees en druk die deur vinnig agter haar toe. Iewers hoor Nadia vrolike kinderstemmetjies die gang af geswewe kom, ‘n ma wat op haar kinders skree om hulle te gedra, televisiestelle wat hulle onderskeie programme uitbasuin en die gedreun van die verkeer buite, nou hoorbaar bo die reën wat al sagter val. Vir ou laas loer sy deur die sekuriteitsglas in die deur net om te sien dat dié uwe nog steeds half skuins sit-lê op die rooi rusbank. Hy het sy volgende sigaret aangesteek en is besig om diep teue van sy sigaret te neem en met homself te praat.
Met ‘n sug draai Nadia om. Sy tap die bad vol warm water en glip behaaglik in die strelende water in. Na ‘n lang ruk klim sy uit, trek haar slaapklere aan en klim in die bed. Môre moet sy ekstra vroeg opstaan, want dis haar klas se kwartaallikse uitstappie. Hulle gaan een van die appelplase in die Elgin Distrik besoek. Nadia se gesig verteder aan die gedagte van die groep graad vyfs vir wie sy klas gee. Hulle het in ‘n baie kort tydjie tot diep in haar hart gekruip. Die bed voel snoesig warm en haar ooglede begin al swaarder voel.
***
Sy skrik wakker met ‘n verstikkende hoes. Verward kyk sy om haar rond. Nog ‘n hoesbui oorval haar weer. Sy gewaar die rook wat onder die voordeur in gestroom kom en die woonstel vinnig begin vul. Al hoesende en proesende haas sy haar na die voordeur. Deur die veiligheidsglas kan sy die wilde vlamme sien wat teen die mure al lekkende opklim na die plafon. Die hitte van die vlamme voel sy deur die voordeur. Met haar ontsnaproete geblok deur die vlamme begin soek sy na ‘n ander uitkoms. Sy hardloop na die venster en begin ruk daaraan. Sy draai om en gaan haal ‘n mes in die klein kombuisie en probeer dit onder die venster se diefwering in te wikkel. Die mes se lem breek morsaf. Nadia hardloop terug na die messelaai om nog ʼn mes te kry. Sy probeer weer die mes se lem onder die diefwering inkry sonder sukses. Verwoed probeer sy die skroewe, maar hulle byt vas in die muur en keep net happe uit haar mes se punt. Sy gooi die mes op die tafeltjie neer en rem krampagtig met haar vingerpunte aan die vensterraam. Dié wil nie ‘n aks beweeg en oopskuif nie. “Deksels!” Die vlamme kom nou al lekkende oor die plafon en af die gordyne. Bang loer sy weer na die voordeur. Desperaat probeer sy weer die venster se diefwering verwoed met haar volle gewig oopruk, skaars bewus dat die verhitte staal haar hande brand. Na ‘n paar sekondes ruk sy geskok haar hande weg. Ongelowig staar sy na haar hande en na die stukke vel van haar vingers wat aan die diefwering vasklou. “Iemand, help my!” skree sy benoud. “Help, ek is hier binne!” Haar hande brand erg. Sy proes en haar oë water van die rook. Sy gryp ‘n stoel en probeer tevergeefs die ruit en diefwering daarmee stukkend te slaan. Die pote breek af. Desperaat en bang loer sy vlugtig na die brandende plafon. Sy het geen ander keuse nie. Al uitweg, is die voordeur waar dit nou verwoed buite brand. Sy hardloop badkamer toe, maak haar handdoek nat onder die kraan en drapeer dit om haar om soveel as moontlik van haar te kan beskerm. Angsbevange loer sy weer na die plafon en deur. “Jy kan dit maak, Nadia.” fluister sy bemoedigend. “Jy moet net.” Sy probeer om haar asem stadig en diep in te trek, tel tot drie, voor sy ooplê na die voordeur. Daar is geen ander keuse nie, besef sy. Pluk die deur oop en word deur warm skroeiende vlamme ontmoet. Haar longe protesteer erg en sy hoes onophoudelik. Sy storm deur die vlamme na buite bewus van haar keel wat skerp brandpyn en van die skroeiende lug wat sy inasem. Maak dit tot buite die woonstelblok voor alles voor haar vervaag en sy in geluksalige vergetelheid wegsak.
***
Sy word bewus van harde sole wat op die teëls klik-klak. Die wiele van ‘n trollie ratel iewers in die gang af. Die gemurmel van stemme bereik haar ore. Sy probeer konsentreer om uit te maak wat daar gepraat word, maar kan die woorde nie uitmaak nie. Verbete veg sy teen die donker wolk wat weer oor haar toesak. Sy droom van vlamme wat haar onophoudelik jaag. Sy kan nie asemhaal nie. Die vlamme lek aan haar hande. Sy probeer skree, maar daar kom geen geluid oor haar lippe nie.
***
Nadia skrik wakker. Sy word bewus van ‘n klein, tere hand wat op haar arm rus. “Welkom terug, slaapkous!” Verbaas probeer sy haar gesig draai in die rigting van waar sy die bekende stem hoor. “Toe nou, lê stil. Moenie te veel probeer beweeg nie.” Haar gesig helder op in blydskap toe sy besef dit is haar ma, Monique, wat langs haar sit. Haar keel en neus brand nogsteeds en haar hande pyn onder die verbande. Sy draai dit om, om na te kyk.
“Toemaar, Liefie. Moenie bekommerd wees oor jou hande en neus nie. Die dokter sê dit sal alles ….” Haar stem steek vas in haar keel, die woorde voel dik.
Trane biggel oor Nadia se wange.
“Toemaar, toemaar. Ons is hier. Pappa het ook gekom. Moenie huil nie, alles sal regkom.” paai haar ma. “Moenie praat nie.” keer Monique vinnig toe sy sien dat Nadia probeer praat. “Jy moet nou rus.”
“Waar is ek?” kom dit moeisaam, skor fluisterend oor haar lippe. “In die Karl Bremer Hospitaal.” Die trane stroom nou ongehinderd oor Nadia se wange. “Mamma, ek het nie gedink ek gaan dit maak nie. Die vlamme was orals.” Snik sy.
“Shhh … shhh, my kind” probeer Monique haar troos. “Jy moet nou regtig rus en nie praat nie.”
Nadia word die volgende oggend wakker van naderende voetstappe. “Môre, môre! Hoe gaan dit met ons pasiënt?” kom dit vrolik van ʼn rooikop verpleegster. “Ek kom net gou jou verbande afhaal en vir jou chirurgiese handskoene vir jou hande aan te sit.” Nadia staar haar gepynigd aan. Haar hande en neus is seer genoeg soos dit is, sonder dat een of ander verpleegster daaraan kom peuter. Met ʼn kreun draai sy haar gesig weg. Sy wil nie die wonde sien nie. Nie sien hoe haar hande vermink is nie. Versigtig begin suster Laura om die regterhand se verband af te rol. Smeer sagkens salfies aan en trek die chirurgiese handskoen daaroor. Volgende word die linkerhand se verband afgehaal. Die salf voel koel-strelend op haar hande. ʼn Traan rol onwillekeurig oor haar wang. “Is dit seer?” vra sy besorgd. Nadia skud net haar kop ontkennend. Laura sit haar hand vertroostend op haar skouer en gee dit ʼn sagte drukkie. “Moenie huil nie. Dokter is vol vertroue dat jou brandwonde mooi sal genees. Dit mag nou nie so voel nie, maar die littekens sal ligter word en met die fisio se oefeninge sal hulle jou vingers so soepel as moontlik kry.” Sy kyk af in die traanbevlekte gesig, gee Nadia se skouer ʼn laaste drukkie en draai om, om na haar volgende pasiënt toe te gaan. By die deur draai sy vir oulaas om. “Lui net die klokkie as jy iets nodig het of wil praat.”
***
Twee maande later sit Nadia regop in ʼn stoel en geniet die heerlike sonstrale wat haar warm baai in haar hospitaalkamer. Haar hande is nogsteeds verbind. Die verpleegters het vanoggend die verbande geruil en weer ‘n nuwe pleister oor haar neus geplak. Elke dag raak die pyn beter, meer hanteerbaar. Sy het lank geworstel oor hoekom dit net sy was wat moes seerkry in die brand. Sy was bitter kwaad vir die jong man wat die brand veroorsaak het. ʼn Bedorwe brokkie wat net aan homself altyd dink en nie aan die gevolge van sy dade nie. Sy sug. Wat help dit op die ou einde om met ʼn wrok rond te loop. Dit is nogal waar wat haar ma vir haar gesê het. Dit eet jou van binne op en steel kosbare energie weg van jou genesingsproses. Nadia voel hoe haar senuwees aan haar wil begin knaag oor vanoggend se ontmoeting. Sy hoop dat dit vir haar die nodige sluiting sal gee. Sagte voetstappe ruk haar uit haar gedagtewêreld. “Is jy gereed?” vra Monique senuweeagtig. “So gereed as wat ek seker sal kan wees” Monique draai om en praat by die deur met iemand. ‘n Kort rukkie later kom Dokter Frielingsdorf ingestap met ‘n handewringende Juan van Wyk kort op sy hakke. “Hallo!” groet Nadia sag.
Juan beantwoord haar met ‘n kopknip.
Dr Frielingsdorf beduie met sy kop aan Monique dat hulle die twee alleen moet laat om te praat.
“Dankie dat jy kans sien om my te woord te staan. Ek wil net vir jou sê, uit die diepte van my hart is ek baie, baie jammer oor wat met jou gebeur het as gevolg van my swak gedrag. Ek is opreg spyt oor die brand wat ontstaan het as gevolg van my nalatigheid en dat jy so seer gebrand het. Ek hoop dat jy my eendag sal kan vergewe.”
Vir ‘n sekonde kyk sy hom stil aan. “Ek waardeer dat jy al die pad gekom het om verskoning te kom vra en ek vergewe jou daarvoor… eintlik … ek het jou lankal vergewe. Want om te vergewe maak my weer vry … vry om al my energie te konsentreer op my heling.”
©Taai Bonthuys
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.