Dig deur die uurglas se vloei (Silwer)
Hoe lank gelede is dit nou –
dalk n jaar of tien?
had ek ‘n bloedrooi blasie in my middelbrein
daar waar my sig se sein
en sewetriljoen sensors verwikkel,
binêr verbondel vou.
‘n Paar stents en coils is deur my are
van my lies af opgeskiet
tot by X marks the spot
in die middel van my kop –
soos ‘n hartomleiding, net verder op.
Uiters delikaat, uiters sensitief,
‘n dag of wat in intensief.
Maar alles het na jare opgelos,
sodat net ‘n roof of iets soos dit
nou daar tussen neurons sit.
Noudat die gedigte hemofilies broei
dink ek skielik weer aan daardie bloei –
wens ek het van te min laptop, pen, papier geweet,
want dan kon ek met die moeite en verdriet
sommer vir ‘n mikro-diktafoon versoek
en dit one shot in ‘n kapsule saam lanseer
om die vloed van visioenêre drome
in halfrym, onklaar verse, gewroeg,
verstrengelde gesigte en drog,
openbarings, metafore, bog,
alles onverpoos in ritme,
onververbiddelik teen tyd,
vir my vas te boek,
help prosesseer,
want ek vergeet
en ek raak
al meer
moeg.
© Charleine Collins 26 Februarie 2019
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2019 projek - TYD