Ek het ‘n tier
Ek het ‘n tier en ‘n tier het vir my
ons het mekaar in ‘n dwaaldroom gekry
my oë het saam met my voete gestap
toe ek opkyk staan sy daar, ook onverhoeds betrap
Agterdogtig kom sy nader, die edel oë staar stip
haar bewegings soos die kabbelling van water oor klip
skugter en versigtig het ons mekaar leer ken
en met verloop van tyd vertroue én vriendskap gewen
Dit vat steeds tyd voordat ek haar vind
eers fluster ek haar naam soos wasem op die wind
wat kronkel-draaiend opvloei na die digte blaredak
om daar te verskyn, luiweg kwispelend op ‘n breë tak
Maar toe volg ‘n tyd van verwaarloosde slaap
deur my droomloosheid is ons besoeke gekaap
uiteindelik toe ek my weer in ’n droom bevind
fluister ek soos gewoonlik haar naam in die wind
maar daar kom geen antwoord, geen blare wat roer
en geen tier wat van bo af skelm vir my loer
Ek roep na haar, skril en herhaaldelik
net ‘n grafstil afwesigheid antwoord hard en duidelik
met my gemoed vol onrus klim ek op na haar tak
waar ek wagtend om genade in die mik neersak
daar, soos my skuldlas aangroei, begin my hoop vervaag
oplaas word ek deur die donker na onder en huistoe verjaag
Van daardie dag af het ek my drome bly ontwyk
tog hunker ek daarna om die pad van vryspraak te bereik
so begin ek tree vir tree weer deur my drome stap
maar steeds is ek versigtig hoe diep ek daarin trap
Tot die dag toe my oë weer saam met my voete stap
en ek my voor ‘n kabbellende waterstroom betrap
oorkant staan die dier asof sy my verwag
haar stip-starende oë, liefdevol versag
en toe sy naderkom om teen my aan te skuur
spreek haar oë die woorde:
“Mens verloor mos nooit jou tier.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.