DIE GEBOORTE
Geplant, ontkiem en gegroei tot wees,
in die warm, stil, donker moederbuik kokon.
Minute, ure, weke en maande het ‘n lyf gevorm.
Hordes selle bondel saam, groei tot liggaam, siel en gees.
Ontstaan organe, ledemate, sintuie; mond, oor, oog en neus.
Salig oningelig oor ‘n bestaan buite die knus kokon,
voltooi die metamorfose, bly die kind onbewus van dit wat kom.
Dit is volbring, niks sal ooit weer dieselfde wees.
Maande, weke en minute stol toe die kokon oopskeur.
Die kind, sonder keuse, gly domverward deur die oorgangskanaal,
word bewus van die koue wit lig en gee sy eerste skree.
Die kokon is weg, hy is bang en kaal.
Weldra sal hy tog gewoont raak aan die nuwe fase wat hy betree,
sal hy groei en tuis word, tot dit tyd is om weer aan te beweeg.
©HMellet
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
treffende werk Helena. baie goed geskryf