Jongste aktiwiteit:

HEILIGE SAKRAMENT

HEILIGE SAKRAMENT

Fanus Strydom

850 woorde

 

Pa smyt vies die koerant voor sy voete neer. Hy skop verontwaardig na die voorblad met sy verband-toegedraaide voet. Die gebreekte groottoon klop weer erg aan sy gewonde ego en swaar gemoed.

 

“Dis als jou skuld,” sê hy vies in my rigting en soek opnuut na rede om my te blameer vir die ergste, onlangse verleentheid van sy lewe. “Kyk nou hoe pryk die verdomde goed op die voorblad vir almal om te sien. Wat gaan die mense van ons sê?”

 

“Wat bedoel Pa?”

Ek probeer onkundig klink, maar ek weet hy praat van die boeppensbottel soetwyn en halwe witbrood in die voorgrond van die foto op die Beeld se voorblad.

 

“GESIN SE VAKANSIE EINDIG IN LIGTE LAAIE!” basuin die opskrif die tragiese nuus uit van ons wreed-kortgeknipte vakansie. In die agtergrond smelt die skelet van ons uitgebrande karavaan saam tussen die doringbome weg teen die sakkende Laeveldson in en voltooi die dramatiese effek van die vollengte, hartseer berig daarnaas.

 

“Los nou die kind,” kom Ma vir die soveelste keer op vir my. Sy vou versigtig die koerant weer bymekaar en stap daarmee kombuis toe. Sy gaan dit saam met die ander oorblygoed stoor in die boks bo in die kas vir ʼn aandenking. Dis mos nie aldag dat mens die voorblad van die koerant haal nie.  “Dit was nie sy skuld nie,” sê sy teenoor Pa toe sy terugkom.

 

“Ek weet, maar verdomp…”

Pa grom vererg en vryf vies oor sy kloppende groottoon . “Al wat mens sien is die bottel wyn en halwe witbrood in die voorgrond! Wat gaan die mense sê?”

 

“Wat gaan die mense sê?” beproef Ma sy kloppende groottoon-geduld.

 

“Hulle gaan sê ons is verdomde suiplappe en gʼn wonder dat ons karavaan aan die brand geslaan het nie!”

 

“Ag nonsens man,” knip Ma Pa se pyn-betoog kort. “En laat hulle sê wat hulle wil. Hulle kan vir Dominee en Mevrou loop vra wat gebeur het. Hulle was mos saam met ons op vakansie.”

 

Pa proes net. Nou nog meer ontsteld by die gedagte dat ons tragedie dalk die oorsaak kan wees van twyfel op Dominee en Mevrou se vlekkelose reputasie ook nog.

 

Al wat ek gedoen het was om maar net sy opdrag uit te voer na die beste van my vermoë die oomblik toe die ondenklike tragedie ons tref. Hy het drie weke gelede met die reuse bottel soetwyn by die huis aangekom en my aangestel as die amptelike bewaker van ons nagmaalwyn vir die vakansie. Pa het ons deeglik geskool in die duiwelse euwels van drank en diesulke dinge, maar die bottel soetwyn sou saamgaan as eregas op vakansie vir nagmaal elke Sondag tydens middagete. En Dominee het blykbaar gehou van ʼn glasie wyn saam met sy ete, so ek moes seker maak die bottel bly veilig en te alle tye buite gevaar. Pa wou nie hê Dominee moes dink hy gaan onverantwoordelik om met alkohol en ander dergelike euwels nie.

 

Daarom was die bottel die eerste ding wat ek gegryp het die oomblik toe die vuur ons karavaan so onverwags van die sytent se kant af verras het. Dit en die halwe witbrood. Ma het dit spesiaal gebak in die groot swart pot op die vuur die vorige dag en dit was gans te lekker om te los vir die vuur om te verteer. So, toe die vlamme begin lek aan die tent se flap het ek instinktief gegryp na die bottel en die brood en inderhaas daarmee op vlug geslaan buitentoe. Die ander het verskrik begin vat en los na klere en ander goed om te probeer red, maar ek was seker van my missie met die brood en die wyn. In die halsoorkop verwarring het Pa sy toon des moers geskop teen die driebeen pot vol pap en al swetsende verby Mevrou Dominee na buite gestrompel waar sy hand voor die mond en stom van vrees gestaan en smeek het vir redding en genade teen die dreigende vlammehel.

 

Teen die tyd dat die vuur sy brand gebrand het, het net die raam van ons karavaan bly staan en smeul soos ʼn reuse, uitgebrande voëlkou teen die skemerson. Hier en daar het bondels beddegoed, klere en ʼn paar ander haastig bymekaargeskraapte karavaanvakansiegoed verstrooi gelê oor die swartgebrande stukkie veldgras wat oomblikke tevore nog ons heerlike uitspanplek was. ʼn Klein skare geskokte mede-vakansiegangers het kopskuddend in plakkies en swemklere gestaan en kyk na die slagveld voor hulle. Party het ingedagte bly lek aan hulle draairoomyse en hulleself opsluit herinner daaraan om hulle eie gasbottels na te gaan die oomblik as hulle terugkom by hulle onderskeie uitkampplekke vir die aand.

 

Die rede vir die brand is nooit uitgeklaar nie en daar was verskeie, wilde spekulasies en vingerwysings in alle rigtings. Maar die BEELD-verslaggewer was toevallig ook op vakansie by dieselfde oord en die storie het die volgende dag die voorblad gehaal.

 

Pa se toon het na omtrent ses weke van hel en erge pyn weer stelselmatig begin beter word saam met sy ontstelde gemoed.

Die foto pryk steeds in Ma se foto-album.

 

©Fanus Strydom

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed