
In die droë rivierloop (Goud)
In die droë rivierloop
Die klippe was warm,
selfs in die ysige winter.
Pa het sy kampstoel uitgevou
soos ’n man wat weet hoe om rus te vind
uit stukkies van sy vrye tyd.
Ons het sorgeloos gespeel —
aan-aan tussen kameeldoring-skadu’s,
wegkruipertjie agter klipstapels,
kennetjie met dooie takke,
en ons gillend-blydskap wat oorgeloop het
in warm hartsoomblikke van piekniek hou.
Mamma het intussen broodjies uitgepak —
kaas gesmelt tot goud,
met uie-ringe wat kraak onder jou tande.
Die geur van haar hande
het elke sny volmaak gemaak.
Pa het vleis gebraai, stadig.
Sy vlamme het hy nie aangejaag nie.
Hulle het gewag vir die regte kole,
soos hy vir ons gewag het op die perron,
elke keer na sy rit.
En toe —
asof sy ’n geheim met die son self deel —
haal Mamma die bak roomys uit:
’n fraai goudgeel plastiekbak,
nog ysig koud van die koelkas agter in die bakkie.
Ons het vrolik gelag met lepels in die lug,
gesmul met die sonstrale op ons wange
en skadu-kolle op ons klere.
Daardie dae het ons nie geweet van môre nie.
Dit is eers later jare wat dit vir my vertel het —
hoe mooi dit was
om saam met my gesin piekniek te hou
waar die rivier loop
sonder water,
maar met alles wat ooit saak sou maak.
©MarleneErasmus
30/06/2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Junie 2025 – PIEKNIEK projek