Jongste aktiwiteit:

King Kong en die nagwag

John Smith was nog nie heeltemal gereed vir aftrede nie. Hy het gedink hy is, maar na ‘n maand saam met sy dierbare vroutjie, Jane, het hy besef sy gaan nie dierbaar bly as hulle dag en nag in mekaar se geselskap gaan wees nie.
John was sy lewe lank ‘n deur-tot-deur verkoopsman – van stofsuiers, om presies te wees – maar hy was moeg vir die lewe op die pad. Hy moes maar eerder weer ‘n werk kry. Net ‘n rustige werkie, sodat hy nie by die huis hoef te wees het nie.
Die verskoning aan Jane was dat hy verveeld was. Die waarheid sou haar hart gebreek het. Min wetende dat Jane begin navorsing doen het hoe om iemand te vergiftig, sonder dat dit tydens die nadoodse ondersoek opgemerk word. Wanneer jy op jou huweliksdag die woorde “vir altyd” en “tot die dood ons skei” sê, besef jy nie hoe lank “vir altyd” is nie, en na 50 jaar saam met een persoon raak jy partykeer ongeduldig dat die dood julle skei. Maar dit is ‘n ander storie vir ‘n ander dag. Jane het hom dus aangemoedig om weer die arbeidsmag te betree, en het haar bes probeer om nie te opgewonde te klink nie.

John het geesdriftig aansoek gedoen vir ‘n pos wat in die koerant adverteer was. Die posisie van nagwag. Dit was ideaal. Hy kon die hele nag lank draadloos luister of sy blokkiesraaisels invul. En dan deur die dag slaap. Dus sou sy tyd in Jane se geselskap tot die minimum beperk wees.
‘n Week later het John die oproep gekry dat hy die pos gekry het. Min mense was bereid om vir so min geld in die aand te werk, so die lys van applikante was redelik kort gewees.
Siende dat John geen ondervinding gehad het as nagwag nie, moes hy eers gaan vir opleiding. Dit het sy hele Dinsdagoggend opgeneem. Die kursus het basies gedek hoe om op en af in die gange van ‘n gebou te loop en met ‘n flits in elke vertrek te skyn. Sou hy boosdoeners of verdagte persone betrap, moes hy die polisie bel. John is met handleiding van hoe om enige scenario in sy pos as nagwag te hanteer, die wêreld ingestuur. (Die term ‘enige’ het glad nie enige beteken nie. Dit het net beteken ‘n lys van dinge wat ‘n verbeeldinglose ou agter ‘n lessenaar, kon uitdink.) John het darem ook ‘n sertifikaat met ‘n goue raam gekry, om sy kwalifikasie as nagwag offisieel te maak.

Die aand van sy eerste skof het John al ‘n uur voor hy moes begin, voor die gebou gestaan. Sy mond het oopgehang. Hy het amper elke dag die gebou van ver af gesien, maar dit was heeltemal anders om aan die voet van die wolkekrabber te staan. Hy het piepklein gevoel. Die Empire State-gebou was die trots van New York. Dit het binne ‘n jaar en ‘n maand uit die grond verreis tot die magtige toring voor hom. ‘n Simbool van rykdom, welvaart en mag.
John het met ‘n huppel in sy stap by die groot ontvangstasie aangemeld. (Met soveel huppel as wat ‘n 70-jarige man kon vermag.) Die hoof van sekuriteit het John die binnekant van die kantoor gewys, asook die aanmeldboek wat almal wat die gebou binnegekom het, moes teken. (Daar was geen instruksies oor wie nou eintlik die gebou mag inkom en wie nie, maar dit was vir John ‘n bysaak.) Die bestuurder het ‘n flits en ‘n knuppel onseremonieel in John se hande gedruk, hom sterkte toegewens en met sy kosblikkie onder die arm verdwyn.

John was in sy noppies. Hy was in beheer van die hoogste gebou in New York. Hy was die koning van New York. (Hulle was dalk ‘n halfdosyn nagwagte aan diens, maar die ander was almal jong nat-agter-die-ore snuiters. Dit het John noodwendig die senior aan diens gemaak het. In sy opinie.)

Die aand het relatief stil begin. Elke nagwag het om die beurt eenkeer elke uur ‘n paar gange op en af geloop, en met ‘n flitslig die donker vertrekke ingeskyn. Daar was op ‘n stadium ‘n insident met ‘n verdagte persoon op die veertiende verdieping, maar blykbaar was dit net een van die jong nagwagte wat onverwags ‘n skoonmaker teëgekom het.

Met die dat John geen slaap ingekry het deur die dag nie, het hy kort voor lank ingesluimer.
John het met ‘n skok wakker geskrik. Het hy hom verbeel? Hy het ‘n oomblik in stilte gesit en aandagtig geluister.
Dit was nie sy verbeelding nie. Die aarde het geskud. John het verskrik opgespring. ‘n Aardbewing in New York was ‘n rare verskynsel. Daar was ‘n dreuning soos donderweer in die verte, wat ritmies elke skudding vergesel het. Die aardbewing, of aardbewings, was aanvanklik van so aard dat alles net liggies getril het. Maar die dreuning het soos ‘n voetval al hoe harder geword, asof dit nader en nader gekom het, en met elke gerammel het alles om John meer en meer rond gedans en begin omval. John het verstar gestaan, onseker hoe om die situasie te hanteer.
Hoe om die situasie te hanteer…
John het die ‘Hoe om ‘n wag te wees. ‘n Handleiding.’-handleiding uit sy baadjies se sak geruk, onder die lessenaar ingeduik en bewerig deur die handleiding begin blaai. Die antwoord was sommer op die eerste bladsy.
“Aardbewing: Soek skuiling onder ‘n harde struktuur soos ‘n lessenaar of ‘n deurkosyn.”
Stap een. Gedoen.
“Wanneer die aardbewing verby is, aktiveer die brandalarm en ontruim die gebou. Dit is die sekuriteitsbeamptes se verantwoordelikheid om alle inwoners en besoekers wat in die gebou is, veilig na buite te kry. Deaktiveer huisbakke – slegs trappe mag gebruik word.”
Die aardbewing was nog nie verby nie, so stap twee sou eers moes wag. Om die waarheid te sê die aardbewing was nou baie erg. Die ritmiese rammelgeluid was oorverdowend en dit het gevoel asof die gebou heen en weer swaai soos ‘n palmboom in ‘n stormwind.
Doef. Skud. Doef. Skud.
John het sy oë toegeknyp en gewonder of dit nou regtig só erg was om saam met Jane by die huis te wees.

Toe was dit stil. Oftewel, die aardbewing was stil, maar buite in die pad was daar chaos. Polisiemotors, ambulanse en brandweerwaens het op en af gejaag. Die aardbewing het seker verwoesting oor die stad gesaai. Ten minste was sy gebou veilig. Maar was dit regtig veilig om die mense in die gebou te ontruim en na die chaos buite te stuur?
Weer het John sy handleiding oopgeslaan en geblaai tot by ‘n opskrif wat moontlik van toepassing was.
“Publieke onluste, protes en oorlog: Hou alle inwoners en besoekers veilig in die gebou. Sluit alle ingange na die gebou en versper ingange met swaar voorwerpe soos lessenaars, indien nodig. Wag vir owerhede om op te daag en die gebou te ontruim.”
John het rondgekyk om die opinies van die ander nagwagte te vra. Daar was geen teken van die spul jong manne nie. Dalk was hulle besig met patrollies?
Buite was daar steeds ‘n kakofonie van klanke. Daar was nou ‘n ander, meer egalige, dreuning. Was dit vliegtuie? Kon dit wees? Jy het nie sommer vliegtuie hier in die stad gehoor nie. Nóg ‘n dreuning het by die ry glasdeure voor die gebou verby gebrom. John se mond het oopgehang. Dit was onmiskenbaar ‘n weermagtenk. Die geluid van geweerskote het ook in die verte geklink. Nie regtig in die verte nie. Meer…bo hom?
Was dit oorlog daar buite? Dalk sou hy beter kon sien en verstaan as hy hoër op in die gebou was. Dit was tog die hoogste gebou in New York, so hy sou alles kon sien.

John het gehardloop tot by die ry hysbakke in die foyer en met sy vinger bo die knoppie geaarsel.
“…slegs trappe mag gebruik word.”
Die aardbewing was tog verby. En hy was definitief nie lus om op sy ouderdom die duisende trappe na bo te klim nie. Hulle sou vir seker die volgende dag sy lyk halfpad op pad boontoe kry, as hy dít sou probeer.

John het skaars uit die hysbak gestap toe hy dit sien. Dit het hom ‘n paar oomblikke geneem om dit in te neem en te verstaan presies wat dit was. Geskok het John net daar op die vloer gaan sit en koorsagtig deur sy nagwag handleiding geblaai. Agtertoe en dan weer, onseker, vorentoe.
“Ongemagtigde persone…”
Nie regtig ‘n persoon nie.
“Persone sonder ‘n pas.”
Nog steeds nie ‘n persoon nie. En was dit nie in elk geval dieselfde as ‘n ongemagtigde persoon nie? Nee hy het iets gesoek oor ‘ape’. Om meer presies te wees, ‘aap tone’.
John het opgekyk, net om weer seker te maak hy sien reg. Daar het by een van die vensters, wat nou gebreek was, ‘n aap se toon ingesteek. Dit was ook nie ‘n standaard aap toon gewees nie. Nee, dit was ‘n reusagtige harige toon. Met ‘n baie vuil toonnael. John het al genoeg prentjies van ape gesien om te weet dit kon niks anders as ‘n aap se toon wees nie. Of dalk ‘n baie grillerige mens se toon? John was redelik seker dat die handleiding nie van veel hulp sou wees nie. ‘n Reuse aap toon deur ‘n venster is nie iets wat jy elke dag sien nie. Of eerder, óóit sien nie. Hy was seker dat daar een of ander reël moes wees wat reuse tone deur die gebou se vensters verbied het. Ten minste moes daar ‘n reël wees wat iemand verbied om die gebou se vensters te breek.
John kon nie seker wees of die toon vas aan ‘n voet was nie – maar dit het half vanselfsprekend gevoel. Die voet was seker vas aan ‘n reuse aap ook nog.
Wat kon hy moontlik doen?
“Verskoon my, maar u sal ongelukkig moet gaan.” John se bewerige fluisterstem was skaars hoorbaar.
Dít sou sekerlik nie werk nie. Hoe jaag ‘n mens ‘n dier weg?
“Siejy…?” Dit het geklink of John ‘n vraag vra. Uiteindelik het sy opleiding ingeskop, en hy het met meer selfversekering en outoriteit in die rigting van die toon gepraat. “Voertsek toon! Of aap? Maak dat jy wegkom! Hierdie is jou laaste waarskuwing…”
Die toon het egter bly sit waar dit was. Daar was net elke nou en dan effense beweging om te wys dat daar lewe in die toon was.
John het om hom rondgekyk en die kamer met die skoonmaakvoorraad in gewaar. Hy het die deur oopgepluk en in die kamertjie rondgekyk. Skoonmaakmiddels. Toiletpapier. Niks wat hom kon help nie. Sy oog het ‘n besem gevang, wat hy summier gegryp het en in die rigting van die toon gehardloop het. John het vir ‘n oomblik vasgesteek. Moes hy eers ‘n rekwisisie vorm voltooi omdat hy ‘n besem uitgehaal het? Nee wat. Hy sou dit later invul. Hy was seker sy baas sou verstaan.
John het die toon ‘n paar keer met die agterkant van die besem gesteek, maar dit het geen effek gehad nie. Toe het hy die besem hoog bo sy kop gelig en met mening die toon geslaan. Hy kon netsowel ‘n muur met die besem slaan. Die besem het met ‘n kraak in twee gebreek. Dít sou seker nou weer van sy salaris afgetrek word.
John het weer bewus geword van die geluid van vliegtuie en geweerskote buite. Dit het geklink of die vliegtuie sy gebou sirkel. Hy sou moes gaan ondersoek instel; dit was tog sy werk. Dalk was daar ‘n reël teen vliegtuie wat om die gebou vlieg ook nog? Terwyl hy vir die hysbak wat na die boonste verdieping toe wag, het hy weer deur die handleiding geblaai. Daar was niks van vliegtuie in nie.

John het die glasdeur na die waarnemingsdek oopgeruk. Voor hom was, net soos hy verwag het, ‘n reuse aap maag, met ‘n reuse aap naeltjie reg in die middel.
John het nader aan die massiewe vensters gesluip en na bo geloer. Inderdaad. Daar was ‘n reuse paar aap skouers, met ‘n paar reuse aap arms en reuse aap hande. Bo die skouers was ‘n reuse aap nek met ‘n reuse aap kop wat daarop gerus het.
Dit was toe nou ‘n reuse aap, nes hy vermoed het. Wel, ‘n reuse gorilla om presies te wees. Om die gorilla se kop het ‘n paar vliegtuie gedraai, die skote van die masjiengewere net-net hoorbaar bo die geraas van die skroef-enjins.
John het dit vir ‘n oomblik oorweeg om uit te gaan om die gorilla in die gesig by te dam met die halwe besem, wat nog in sy hand was. Hy het egter opgemerk dat die koeëls van die gewere nie veel van ‘n uitwerking gehad het nie. Die gorilla het doodeenvoudig sy arm rondgewaai asof die vliegtuie vlieë was wat hom pla. ‘n Besem sou seker ook nie die ding doen nie.
“Verskoon my…? Verskoon my! Voertsek nou!” Het John weer geskreeu, met die hoop dat die aap hom nou sou hoor.
Toe merk John dat die gorilla iets in sy een hand vasgehou het. ‘n Dame. ‘n Prágtige dametjie. In John se opinie. Hy’t getwyfel of sy in die gebou gewerk het, gebaseer op die feit dat sy ‘n weelderige aandrok aangehad het. Tensy die skoonmakers só aantrek?

John het sy kop gekrap en weer die handleiding uitgehaal. Dalk kon hy solank ‘n verslag invul? Die handleiding verduidelik dat daar áltyd ‘n verslag ingevul moes word as daar ‘n voorval was.
Nee, hy móés eers iets doen omtrent die probleem. As dinge só aanhou gaan die Empire State-gebou ‘n slegte naam kry, en nie meer die trots van New York wees nie. O, en die arme dametjie moes seker ook gered word. Maar dit was ‘n bysaak. As hy die gorilla dalk vir nou op ‘n manier kon wegsteek? Mense sou binnekort begin werk toe kom, en van hulle sou dalk die reuse gorilla opmerk. Of selfs die gebreekte venster. Sê nou maar hulle rapporteer dit by sy baas? Hy kon mos sy werk verloor het!
John se oog het die Chrysler-gebou, sowat ‘n blok van daar af, opgemerk. Dalk…dalk kon hy die Chrysler-gebou met piesangs smeer? Dan sou die gorilla dalk soontoe hol en dan was die gorilla dáárdie nagwag se probleem. Maar waar kon hy die tyd van die nag ‘n piesang of twee kry? Dalk het Jane vir hom een in sy kosblikkie gepak? Nee, hy kon dit ook nie doen. Die handleiding het uitdruklik gesê hy mag nie sy pos verlaat nie. Hy kon nie onthou of daar ‘onder enige omstandighede nie’ gestaan het nie.

“Hallo? Meneer? Kan jy my dalk help?”
John het gewip van die skrik toe die stem skielik so naby hom gil, en hom uit sy diep denke ruk. Aan die buitekant van die waarnemingsdek het die dame in haar wit aandrok verbete aan ‘n kolom vasgeklou en sy aandag probeer trek. Haar een bors het by die rok uitgehang – seker maar soos die aap haar bietjie woes hanteer het dat dinge bietjie handuit geruk het. Of bors-uit.
John het nader gehardloop, die venster oopgemaak en die dame na binnetoe getrek. Die dame John omhels asof hy ‘n geliefde was wat sy jare laas gesien het. Vir ‘n oomblik was die gorilla en vroulief, Jane, die laaste ding in sy gedagtes. Toe sy hom uiteindelik los, merk sy dat sy onwelvoeglik is en het skaam haar rug op John gedraai. John het ook ongemaklik by die venster uitgekyk. Die imposante gorilla het nie meer aan sy gebou vasgeklou nie. Maar waar was die aap dan nou? John het rondgekyk en gesien dat die aap onder in die straat gelê het. Bewegingloos. Hy het vir ‘n oomblik gewonder wat met die grote aap gebeur het. Dalk het die ouens in die vliegtuig uiteindelik op die regte plek geskiet? Dalk het ou grote se hand gegly en hy’t homself te pletter geval. Dit maak nie regtig saak nie. Dit was nie meer John probleem nie.
John het die dame na die hysbak toe gelei en die gebeure in sy gedagtes herroep sodat hy dit in die verslag kon skryf. Hy sou sommer ook ‘n brief stuur aan die outeur van ‘Hoe om ‘n wag te wees. ‘n Handleiding.’. Die handleiding was hopeloos onvolledig.

Onder in die pad het Bill O’Brian met groot oë na die lewelose lyk van ‘n reuse aap gekyk. Hy was nou al twintig jaar in die beroep, maar geen hoeveelheid ondervinding kon hom voorberei op dié probleem nie. Sy hande het rondgesoek in sy oorjas se sakke, en met ‘n frons het hy ‘n boekie uitgehaal en vir ‘n oomblik na die titel gestaar: ‘Hoe om ‘n straatveër te wees. ‘n Handleiding.’




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed