Leë beloftes
Warm toegewoel
op ’n laslappiestoel
het ek deur geslote luike
(deur mistige koue)
wat my wou-wou omvou
na die flambojant gestaar
wat sy takke daarbuite
so ietwat astrant
teen my skoon ruite skraap;
terwyl dit op die monotoniese gesuis
van ’n koggelwind
wat fluister-roep na reën
soos oumanslitte kraak.
Maar, net soos die wind gekom het
het sy haar rug weer gedraai
om wolke vol beloftes
die dorre randjies in te waai;
tot waar dit leweloos
oor die klipheuwels hang
en ek hier deur my venster
net die laaste asem daarvan vang.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek