Jongste aktiwiteit:

Tussen lewe en niks

Ek was daar, Pa,
lank voor die blomme
langs jou bed verwelk het.
In die swygsame kamer
waar jy en Mamma
vir soveel jare
soveel nagte om gesels het –
die kamer waar doodse stilte
binnekort weer
die laaste sê sou hê.

Mense het gekom en gegaan;
bewoë gebid en gebedel
vir die dood om jou te bevry
(al het jy nie meer gely nie).
Vars trane het oor en oor
gespoor deur droë lope
waar die oues kalkwit versout het.

Onthou jy, Pappa, ek was ook daar?
By jou, om jou af te sien,
om jou hand vir oulaas vas te hou.

En om jou só daar te sien:
in die vreedsame bestaan
tussen lewe en niks
waar tyd nie meer ‘n faktor is nie,
maar byna geluidloos
tussen sekondes sweef,
wat aan die laaste fraiings
van lewe kleef –
waar die volgende asemteug
dalk die laaste mag wees;
daar, my Pa, het ek meteens
so onafskeidbaar
naby aan jou gevoel.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed