Liefde loop op spore
Liefde loop op spore
In Buitekantstraat 19 word daar vroeg gewikkel. Pa Doep het reeds die koolstoof aan die gang en die ou enamel ketel prut te heerlik. Sy eie brousel, self die pitte gedroog en gemaal vir ‘n verruklike smaak! Egte moerkoffie. Die siffie ook sy handewerk. Bloudraad gedraai in ‘n ring. Die sakkie is gemaak van ou meelsakkie. Nêrens kry jy beter! Pa Doep en ma Julie het altesaam twaalf kinders waarvan 8 meisiekinders. Op hulle is hy heilig en menig vryersklong het geweet om in sy spoor te trap! Hy vul bekers vol boeretroos en neem vir die meisiekinders na hul kamers. Hulle moet alreeds 06:00 op die stasie wees om die trein betyds te haal. Hulle was in Bloemfontein werksaam so 32 myl vanaf Brandfort. Dit is bibberkoud hierdie winter. Hulle kom maak hulself gou eers warm voor die ou stoof.
Mara en haar sussies het so saam trein gery soos baie ander jongelinge van die dorp. Ben het ook trein gery. Mara en Julietta het by die ou Posspaarbank gewerk. Zelda en Ben het saam by die Spoorweë gewerk. Vinnig het hulle bevriend geraak en altyd in dieselfde kompartement gereis. Ben het sy oog op Mara gehad. Gou het hulle oral saam gestap. Eendag op ‘n reëndag wou Mara of Nooientjie soos genoem deur haar sibbes die straat oorsteek. Sy was haastig. Sy het altyd vooruit geloop om te probeer wegkom van die vryersklong.Sy het van die sypaadjie afgeklim en daar gly haar voete onder haar uit en sit sy binne ‘n groot plas water met haar reënjassie wat weerskante punt in die wind opwapper. Ben was reg agter haar, wou uitbars van die lag oor die koddige toneeltjie voor hom maar is’n ware heer en help haar op. Hulle stryk haar klere reg. Dit was die jaar 1958. Dit was die tyd van Elvis Presley. Ben was ‘n groot aanhanger. Hy kon baie goed dans. Hy was ‘n lang skraal kêrel van ses voet en twee duime. Mara daarenteen was net vyf voet en twee duime. Sy het ongelukkig twee linkervoete gehad. Hulle het gereeld gaan dans in die ou stadsaal. Daar het hulle vir Sally Engelbrecht ontmoet. Sy het ritme in haar voete gehad. Ben en Sally was dus die rock ‘n roll koning en koningin. Hulle sou daardie ou houtplankvloere aan die brand dans. Ben se gunsteling van alle tye natuurlik Jailhouse Rock! Die ander dansers het ‘n kringetjie om hulle gevorm om hulle te verlustig in poësie in beweging. Die tyd van “bobby socks”, uitskoponderrokke en wye rompe. Ekstra dun middeltjies. Gepunte skoentjies. ” Stove pipe” broeke en “brillcream”. Hulle was nie deel van die “duck tails & knuckle dusters” bende nie. Hulle het nog nie motors gehad nie. Ben het ‘n fiets gehad. Verder was dit voetslaan. Die ander kuierplek was die Keerom bioskoop van Rassie Erasmus.
Nou ja een aand was Mara glad nie gelukkig met Ben nie. Hulle was in die bioskoop. Hy het sy arm om haar gesit en wou haar soen. O genade, daar sit sy hom heeltemal af want sy stoot hom weg omdat hy soos ‘n bottelstoor ruik! Sy borrel het omtrent gebars! Die fliek het in stilte voort geduur. Hulle het huis toe gestap. Voor hy groet en nagsê besluit die meneertjie om sy sjarme aan te draai en kry haar daar in ‘n romantiese omhelsing beet. Hy het besluit sy is die vrou waarmee hy wil saam oudword. Mara het ‘n ultimatitum aan hom gestel. Sy het dit duidelik gemaak dat sy ‘n groot hekel aan drank het om persoonlike redes. Dit sy of sy of drank wees. Hy het haar gekies. Hy was nie ‘n alkoholis nie maar het met sosiale geleenthede sy drankie geniet. Soms bietjie te ver gevoer soos jong manne mos maar kan uitrafel.
Hy was op baie goeie voet met pa Doep en ma Julie. Hy het sy moed bymekaar geskraap om ouers te gaan vra. Sy broek het ook maar lekker gebewe. Nog voor hy kon vra het die ou kort bonkige gryskop hom meegedeel dat hy reeds weet waarvoor hy daar is en sy antwoord is ja. Groot verlugting het oor hulle gespoel dat alles so maklik afgeloop het. By Smalstraat 17 was dit ‘n ander storie. Jan en Johanna was meer rigied. Ook moet onthou word dat dit die tyd was van die Natte en Sappe. Die Du Preez’s was Sappe en die van de Venter’s was Natte. Gelukkig het dit nie hierdie verhouding laat skipbreuk ly nie. Die huisgesinne het goed oor die weg gekom. Pa Jan het vir Mara gesê Ben sal met haar en niemand anders trou en as hy nie sy belofte nakom het hy met hom en sy befoeterde self te doene gekry. Hulle is goed ingelig oor die huwelik. So is die troudatum bepaal vir iewers in Oktober 1959.
Die treinryery het voortgeduur. Mara het olik begin voel maar het nie gewis wat fout kon wees nie. Tog het sy gaan werk. Die op en af klim van treintrappies het al hoe moeiliker geword. Elke beweging was ‘n pyniging. Een aand kon sy glad geen voet voor die ander kry nie. Ben het haar opgetel en so huis toe gedra. Bekommerd oor haar toestand het hulle die dokter ingeroep. Sy diagnose was Rumatiekkoors. Sy was baie siek gewees, kon nie gaan werk nie en op die koop toe sou hulle hul troue moes uitstel. Ma Julie het haar versorg met liefde. Geweldig baie gewig verloor.Haar oupa was teleurgesteld want hy was al hoogs bejaard. Hy sou die nooientjie in die kerk inbring!
Die heuglike dag is bepaal vir 5 Desember 1959. Met die 87 jarige oupa David Hartogh kiertsregop by haar ingehak, stap Mara die ou kerk binne. Ou moedergemeente in die middel van die dorp. Die lang maer man wag haar reeds in. Foto’s is in die ou parkie geneem. Die onthaal was in haar ouers se huis in die groot eetkamer. Hulle verhuis Bloemfontein toe. Trek in “a bachelor’s flat, Barbara Court” in. Hulle het die basiese gehad om mee te begin. Radio’tjie gekoop vir klank in die woonstel. Mara besluit om appelkooskonfyt te kook. Jong bruidjie en leer nog alles. Foeitog, pot met amperse konfyt beland in die asblik, alles verbrand! Drie maande getroud kry Ben oproepinstruksies van die Weermag. Dit is Maart 1960. Gedurende Maart maand is haar oupa oorlede na skielike siekbed. Die geskiedenis vertel ons van 21 Maart 1960, bekend as Sharpeville dag daardie jare. Ook in Bloemfontein was beroeringe. Onluste is verwag. ‘n Kordon is rondom die lokasie gevorm lank voor sonop wat moleste voorkom het. Vir drie maande sou hulle getaak wees met binnelandse beveiliging. Gedurende April van 1960 het Mara swanger geraak. Neem die besluit om weer terug te keer na Brandfort. Die baba gee haar ‘n harde tyd, weier om die lig te sien, te lekker in ma se mag. Op en af moet sy loop vir ‘n hele week. Hul eersteling, Berna, word gebore in die van de Venter grootouers se huis, Smalstraat 17. Die ou kliphuis. Daardie jare is vrouens bygestaan deur vroedvroue in die kraamproses. Hulle trek in in Buitekantstraat 17 langs haar ouers. Berna is oënskynlik ‘n koliek baba want sy skree die dak af en sy bly honger op die koop toe. Sommige beweer die kind is bloot gulsig. Skakel oor na ander tipe voeding en ewe skielik is die probleem opgelos en baba die soetste kind. Berna was eerste van de Venter kleinkind. Ben was oudste kind. Mara was vyfde op die lys van twaalf. Daar was aan du Preez kant alreeds sewe kleinkinders. Daar is behoorlik ge-oe en ge-aa oor hierdie vriendelike klein krullebol. Daar is gesê sy is tot in die afgrond bederf deur die grootouers. Bedags terwyl hulle gewerk het pa Doep en ma Julie na Berna gekyk. Haar eerste wankelende tree het sy by die kliphuis gegee. Gedurende Augustus raak sy weer swanger met hul tweede kind. Mara is behoorlik siek gedurende haar hele swangerskap. Haar hele spysverteringstelsel laat haar les opsê. Dis nie die gewone naarheid nie. Dit is alles in oortreffende trap en sy verloor gewig. Met liggaamsvloeistowwe en al wat uitvloei begin die geboorteproses. Op 14 Mei 1966 word Marelizé gebore. Feitlik onmiddelik kry Mara geelsug en is skandelik siek.
Wat die kinders se name betref was daar krappigheid van meet af. Ben se ma was Johanna Catharina Margaretha wyl Mara s’n net Julietta was. Die ouerpaar het volstaan dat dit bitter onregverdig sou wees as een kind een naam het en ‘n ander drie. Oudste is gedoop Berna (verkort van Bernardus, Ben se eerste van drie name) Julietta. Marelizé (saamgestel van Mara, waar die a wegval en elizé bygevoeg is) Johanna. Berna was die ou huishen nes Mara, stil en rustig. Altyd met ‘n neus in die boek. Gedeelde liefde vir poësie. Gesamentlike liefde vir musiek. Wye spektrum van verskillende genres. Marelizé was die rabbedoe. Lyk soos haar pa en het sy geaardheid. Kinders is beide baie kunsinnig. Onderwysers het hul ingelig Berna vaar baie goed in kuns. Dieselfde met Marelizé in sang. Al vier het in kore gesing, skool en kerk. Ben was verkies as diaken, later hoofdiaken. Mara het hom in alles bygestaan. Hulle was getroue kerkgangers. Geskool in God en Sy gebod. Elke jaar op 16 Desember is daar 04:00 opgestaan. Dit was die dag wat klein koekies gebak word vir die feesseisoen. Teen 05:00 het die kinders ook al gapende kom help. Die meuletjie was reeds staan gemaak en die jamtertjies se deeg was in die yskas. Daar is dan jamtertjies, hertzoggies, nutty wonders, vla- en koffiekoekies gebak. Groot werk. Teen 10:00 het familie opgedaag en is daar tee gemaak. Vet pret. Mara se melktert, pannekoek en vetkoek was legendaries en het hul eie goedvoel stories. Soveel herinneringe rondom kos en familie asook vriende. Fliek in veld inry teaters was ook ‘n lekker familie samekoms. Kinders was dopelinge, het gekatkiseer en belydenis van hul geloof afgelê. Hul sertifikaat en hul volledige stel seëls vir elke jaar ontvang saam met boekpryse. Ben se groot liefde was rugby. Hy was sinoniem met Brandfort rugbyklub vir baie jare. Die kinders is as pap babas saam Vrystaat stadion toe. Altyd die eerstes in dolleeg stadion. Hy wou niks mis. Die twee meisiekinders het ingangsfooie gevorder by hekke en selfs die nuwe veld gehelp om met blikkies kalk op al die lyne te gooi. Vir Berna het hy foto’s geneem van spelers en hul handtekeninge verkry. Hulle moes maar voor AK Volsteedt in die ou Volvo wag tot die funksies klaar was. Die jaar 1977 het almal groot geskrik. Ben was vlagman tydens ‘n wedstryd van Brandfort en Theunissen op lg se veld. Hy het net ewe skielik in mekaar gesak. Die volgende oomblik het die skeidsregter KPR toegepas. Ben het bygekom. ‘Ander toeskouer het ‘n pil onder sy tong geplaas. Hy het later na die wedstryd self sy motor terug bestuur huis toe!
Berna het gematrikuleer te Hoërskool Staatspresident Swart Brandfort in 1978. Sedert 1979 het sy in die verpleegsterstehuis gewoon waar sy in onderskeie hospitale verpleeg het en die diploma kursus gevolg het by UOVS. 9 Januarie 1980 kry Ben ‘n massiewe hartaanval en word deurgejaag na die Ongevalle by Universitas Hospitaal. Daar het hy in ICU gelê tot sy toestand sodanig verbeter het en hy oorgeplaas is na die gewone saal. Later gedurende Mei maand het hy ‘n hartkatetirisasie ondergaan om die skade te bepaal. Hy was op spesifieke chroniese medikasie geplaas en moes opvolg besoeke nakom by kardioloë om sy vordering te monitor. Tuis was hy so pap soos ‘n baba en moes vroulief hom versorg. Hy kon skaars van een lamppaal na die ander loop dan moet hy gaan sit. Heeltyd was sy aan sy. Die aand in Ongevalle het die dokter vir Berna sy sigarette gegee met die opdrag dat hy nooit weer sal rook nie! Hy het nooit weer gerook nie. Opgepak in Brandfort en na Bloemfontein verhuis om naby die hospitale te wees. Noalhof nr 7 op die h/v Parfittlaan en Parkweg. Weermag woonstelle, slegs 5 was siviele huurders. Baie lekker daar gebly en goeie vriende gemaak. Daar hul kontakte het Mara werk gekry by 1SAI bn Tempé. Hier het nuwe avonture gewag. Sy en haar gesin is gou opgeneem in die groter Infanterie-familie. Marelizé het 1983 gematrikuleer te Jim Fouché hoërskool. Haar gesin was saam met innames. Hulle is na al die funksies genooi soos ken-mekaar-aande. Sy het gou die jong seuns se ma geword weg van hul huise. Haar sonnige vriendelike geaardheid het hulle gelok en het hul vrymoedigheid gegee om te vra vir kopseer pilletjie, pleister of sommer net lekker gesels. Natuurlik het rugby nie uitgebly nie. Gou is Ben ook hier ingetrek en verwelkom. Wonderlike tye met net die mooiste herinneringe en saam gehuil oor groot verliese tydens operasies op die grens. Hulle het gedink tannie Mara van die betaalkantoor het twee pragtige meisiekinders. Sy het voet neergesit dat geen soldaat naby haar kinders kom. Berna het ‘n meenthuis gekoop in Langenhovenpark. Marelizé het die jong manne se oog gevang. Na so aand by die eenheid het Francois Bestbier gesê hy kom koffie drink. Hy en sy toekomstige skoonma het mekaar al toe goed geken. Hy het hom nie gesteur aan haar en wel die res is geskiedenis. Haar jongste en Francois is getroud op 27 Februarie 1993 te NG kerk Langenhovenpark. Bloedrooi rose was haar dogter se keuse. Haar rok is deur Mara se een sus Vilna gemaak. Sy het asemrowend gelyk. Haar pa het haar met betraande oë in die kerk ingebring. Wel hy en sy jongste se oë was albei papnat! Nou was daar ‘n aangetroude weermag familie. Op die gastelys was daar dan ook heelwat van hierdie vriende. Die onthaal is gehou in een van die pragtige sysale van die nuwe munisipale glasgebou, gehou. Die tafels het verruklik gelyk. Die onthaal was ‘n reuse sukses. Niks het skeefgeloop nie. Tot vandag reken familie en vriende dit was die lekkerste troue ooit.
Berna het oorgevat by Sally Engelbrecht en sy en haar pa kon ‘n hond uit ‘n bos dans. Ben en Francois is saam na weermag rugbyweke. Kersfees 1994 kuier ons op die plaas by die Bestbiers. Marelizé voel sleg. Berna neem haar bloeddruk en kom agter daar is nog ‘n ander hartkloppie. Ek lig haar in sy is swanger. Niemand wou dit eers glo nie. Tuis in die nuwe jaar het sy toetse laat doen en is dit bevestig dat die heel eerste kleinkind oppad is vir beide families. Klein Tiaan maak sy verskyning op 3 Augustus 1995. Sy oupa Ben het sy dogter gejaag hospitaal toe dinge begin gebeur. Francois het pakket geneem en hulle trek plaas toe 1998. Wat ‘n hartseerdag. Tiaantjie het bedags by sy grootouers gebly. 1999 gebeur die skietery by Tempé. Francois-hulle kom af vir die begrafnisse. Saam woon ons vyf begrafnisse by. Dit was hartverskeurend. Die jaar 2000 is Berna medies ongeskik vir werk verklaar. Weer ‘n groot trek plaas toe. Nog ‘n kleinseun, Jacques, is gebore. ‘n Nuwejaarsbaba, 1 Januarie 2002. Die twee seuns is alles in hierdie twee grootouers se lewe. Oupa en ouma help grootmaak. Hulle is trots op hul kinders en kleinkinders.
As gesin het hulle heerlik die land vol gery. Paasnaweke en vakansietye saam met die groot uitgebreide familie of alleen as gesin. Dit het ingesluit kuiers by Naudé-familie te Ngodwana en sover noord as die wildtuin. Die kinders was ook op skooltoere. Verder was dit suid tot in die kaap. In die oos-kaap te Humansdorp en Jeffreysbaai by die Deschamps familie. Porterville by die van Lill’s en vandaar besoek afgelê in Kaapstad en sy besienswaardighede. Witpoortjie in Transvaal by die Oberholzer’s en die Benadé’s. Kersfees by familie. Heerlike onthou herinneringe wat hier op hul oudag opgediep word. Gewoonlik raak die stemme hees en biggel trane oor die wange. As die twee kleinseuns instap begin twee kraalogies te skitter blink. Jacques is die tergees wat almal verpes. Tiaan is die ou groot teddiebeer. Hulle gee die lekkerste drukkies uit. Francois het hul seun geword. 5 Desember 2009 was hulle 50 jaar getroud! Daar is feesgevier om hierdie mylpaal te herdenk! Dit is ook Francois se pa se verjaarsdag. Dit was ‘n heerlike dag gewees. Almal was spoggerig aangetrek en Ben het vertel hoe hy haar ontmoet het en dat hulle dankbaar is vir hul lewe saam gegun. Ja daar was moeilike tye, swaarkry dae en vele beproewinge t.o.v gesondheid ook maar die mooi oortref dit by verre nes die liefde wat almal aan mekaar verbind. Hulle het nooit ooit mekaar verskree nie en nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie. Die huis was altyd ‘n hawe nes die huis in Buitekantstraat 19 ook was. Die ark was altyd oop vir al die afvlerkmossies. Hulle is tevrede. 5 Desember 2017 was hulle 58 jaar gelukkig getroud. Dit spreek mos boekdele. Deur dik en dun, egskeiding was nooit ‘n opsie.
©Berna
22 Januarie 2018
NS As ek ‘n huwelik soos my ouers s’n kan hê trou ek môre. Hulle is die beste ooit waarvoor enige kind ooit kan vra. Geen weelde nie, altyd dak oor ons kop, warm bed om in te slaap, kos om te eet en geen mishandeling of misbruik nie. Net geborgenheid. ‘n Ware Heer en Dame.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.