Jongste aktiwiteit:

Melankolie

Ek vra hom hoe voel hy die meeste van die tyd… daar diep binne waar ek nie kan sien nie.
Na ‘n oomblik se peins sê hy “melankolies, nie ‘n diep, donker depressie nie, net… melankolies”.
En dit sit my aan die dink. Wat laat mens melankolies voel? Wat beteken melankolies eintlik? Die HAT sê “swaarmoedigheid, droefgeestigheid, swartgalligheid”. Miskien is dit te sterk ‘n emosie vir hoe ek dit sien. Ek sou dit heimweë noem, weemoedigheid eerder as swaarmoedigheid, maar wat weet mens nou van presies hoe ‘n ander voel?
In my geval is dit ‘n onverklaarbare hartseer gevoel sonder dat jy weet waaroor, ‘n verlange na iemand, na iets waarvoor jy nie ‘n naam het nie. Almal kry een of ander tyd daardie “vandag verlang ek na mense wat ek nie ken nie” gevoel. Soms is dit ‘n hunkering na iets, iemand wat nie meer is nie of iets wat jou dalk nooit bestem was nie.
Ek raak melankolies oor geliefdes wat ek verloor het, na wie ek verlang, wie se raad ek sou wou vra of net sou wou sê ek is jammer. Soms raak ek melankolies oor mense naaste aan my, by my, asof daar ‘n onsigbare muur is waardeur jy kan sien nie. ‘n Melankolie wat manifesteer in ‘n droom waarin ek só ontredderd eensaam is dat ek met betraande oë wakker word, ‘n gevoel wat my vir ‘n wyle bybly al is my geliefde langs my.
Dis ‘n gevoel wat my laat mymer oor die lewe en die dood. Ek vra myself af wie is ek om te beslis oor ‘n ander wese se lewe, hoe gering ookal. Ek kyk in ‘n dier se oë en ek sien sy siel, miskien in ‘n baie hoër orde as my eie want dis sonder kwaad of vooroordeel.
Dit ruk aan my hart as ek by ‘n beestrok verby ry oppad na die slagpale en die vrees in hulle oë sien, sagte bruin oë wat vraend in myne staar. ‘n Onbeskryflike weemoed pak my beet as ek daaraan dink dat my hondjies oud word en die tyd gaan kom dat ek daardie onvermydelike besluit moet neem.
Ek kry heimweë as ek dink aan die plaas waar ek grootgeword het, die geluid van die wind deur die bloekombome, silwer weerlig in die nag en die soet reuk van reën op dorre grond. Daar waar ek kersfees in my vroeë kinderjare leer ken het. Die opgewondenheid van kersboom opmaak, geskenke onder die boom, kersies wat aangesteek word, die vonkel in my pa se bierglas en in my ma se wynglas en die prikkels daarvan op my tong as ek ‘n klein slukkie mag vat. En later as ek buite onder die helder sterre in my bed lê en my teddiebeer wat kersvader vir my gebring het se nuwe reuk diep indrink, kom kerstyd vir my tot ‘n hoogtepunt. Want dit gaan oor geborgenheid, onvoorwaardelike liefde en die standvastigheid wat die gevoel van “behoort aan” in ‘n baie jong persoonlikheid reeds vaslê. Ek verlang intens terug na daardie stuk aarde wat in my DNA vervleg is, die bloudruk van my wese. My “huis” waarna ek steeds hunker. En ek raak melankolies omdat dit lank reeds vir my verlore is.
Vir my is melankolie iets wat maar altyd in my siel teenwoordig is, meesal sluimerend tot dit ongevraag na vore kom, ‘n weemoed en verlange wat my soms onverwags oorval. Dan moet ek stil raak, dit toelaat om deur my en oor my te spoel, die pyn daarvan soos ‘n pers kleed om my vou en huil as ek moet… op my eie en alleen want dit is nie iets wat jy aan ‘n ander kan verduidelik nie.
En dan kan ek opstaan, my trane afvee, ‘n glimlag opsit tot die vreugde weer soos vonkelwyn deur my bruis en die lewe vierkant in die oë kyk.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • LT het n geregistreerde lid geword

  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Isha Welman het ‘n nuwe publikasie gemaak