My lewe, my liefde, my taal. (BRONS)
My lewe, my liefde, my taal.
My eerste skree het ek gegee in Afrikaans. Ek is ontvang, gebore en verwelkom in die mooiste soete klank van my taal. Met my tuiskoms by ons skakelhuis met die blinkoog politoerstoep, is ek neergelê in my rottangwiegie. So met moedersmelk en Ouma-Meelbol pap is ek gevoed met wiegeliedjies en kinderrympies. Ek was bevoorreg om in my taal groot te word. Soos ʼn suikerbekkie nektar suig, het ek my Afrikaans ingekry aan moedersknie.
Jy sien, Afrikaans is nie net nog ʼn taal nie – dit is my asem, my hartklop en die murg in my bene. Jy kan nie Afrikaans van my af wegvat nie, ek sal nie asem kry nie. Ek sal weliswaar versmoor. Die liefde vir my taal is grotendeels te danke aan my ouers, maar ook aan ʼn onderwyseres: Juffrou Gessard in Daan Viljoen-laerskool wat die liefde vir woorde in my wakker gemaak het.
Ek is malverlief en versot op my taal. Afrikaans is voorwaar die heel lekkerste taal om te praat. Die taal bring mense oor lands- en kleurgrense bymekaar. Jy kan kuier in huil in Afrikaans, bid in Afrikaans en liefhê in Afrikaans.
Wat ʼn wonderlike , plesierige taal is dit nie! Soos enige ander taal, is Afrikaans ook nie sonder paar kwellings nie. Dit is egter ʼn prettige taal, waar anders sal jy van flaterwater praat as jy na ‘TipEx’ verwys? Het jy al gehoor van Boeing-babelaas – ‘jetlag’ of die welbekende: kombikraal as jy praat van die ‘taxi-staanplek’?
Die nuutskeppings in ons taal bring self ‘n glimlag op my gelaat, die ekkie vir ʼn ‘selfie’, rymklets vir ‘rap’ en kuberwolk die plek waar jy jou data kan gaan bêre.
Ek kan regtig aan geen ander taal dink waar jy jou nooi in ʼn nartjie of jou ouma in kaneel sal vind nie. Dit is die taal waarin Koos du Plessis alleenwees so mooi beskryf het: “weerloos en eensaam, soos ʼn vrou voor ʼn spieël.”
As aspirant digter en skrywer sal ek wat wou gee om my gedagtes so op ink te laat bloei met sinne in suiwer Afrikaans.
Dit is vir my ʼn riem onder die hart as jy op sosiale media, toneelopvoerings en sepies sien hoe die taal vermoor word. Orals word daar Engelse woorde gebruik in sinne, waar die mooiste Afrikaanse woorde beskikbaar is om presies en duidelik jou boodskap oor te dra. Dit laat dink my daaraan dink: as jy ʼn sakkie appels koop en daar is ʼn vrot appel die middel, sal dit stellig al die appels laat sleg word.
Hoe sal ons ons taal kan bewaar as ons dit nie suiwer hou? Dit is soos moord wat ons pleeg – ons vermoor ons lieflike taal: Afrikaans.
Dit is nou die tyd om hande te vat en werk te maak daarvan om ons taal te bewaar vir ons nageslag. Dan kan ons soos Totius verklaar: “My doodkry is min”.
Lank lewe die liefde – lank lewe Afrikaans!
©Marlene Erasmus
28/02/2021
(494 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek