Jongste aktiwiteit:

My brief vir jou. (BRONS)

My brief vir jou.

In die tye waarin ons leef, kan ek jou vinnig kontak op e-pos of sommer ʼn sms na jou stuur. Dit is egter nie die manier hoe ek vandag met jou kontak wil maak nie. Nee, ek gaan vir jou skryf – ʼn regte brief met my kalligrafie-pen op my mooiste papier. Ek gaan dit geur in Jasmyn en toevou in pers lint.

Vandag het ek deur die groen grasse gedrentel en gaan kyk hoe die rivier in vloed afkom hier onder by die rondawel. Ek het so na jou verlang en het gewens ek kon in die kring van jou arms sit en kyk hoe die son gaan slaap. Dit was regtig prentjie-mooi, ek weet jy sou die oomblik saam met my geniet.

Ek dink aan jou met deernis, want soos dag en nag van mekaar verskil, verskil ons twee. Alhoewel so verskillend, pas dag en nag bymekaar – hulle voltooi die sirkel van vier-en-twintig uur. Soos jy nie ek is, en ek nie jy, vorm ons tog ʼn eenheid. Jy wat my kom troos met jou woorde so soet soos heuning. Jy wat my regop hou as my voete wil gly. Jy wat my trane kom afdroog en my leer om lief te hê.

Na ure van harde werk, kan jy nog my hand vashou en my rug streel. Woorde van hoop en liefde is vir jou nooit te swaar om te uiter.
My lief, ek wil hê jy moet besef dat jy vir my die beeld is van ʼn ware man. Jy wat by tye die skanse laat val en jou kwesbaarheid met my deel. Jy wat saam met my na romantiese films kyk en saam my huil.

Soos ʼn hert smag na waterstrome, smag ek na jou. Jy maak dat ek vrolik vry kan huppel soos ʼn wildsbokkie na die reën. Jy laat my opkyk na die son en glo in môre.

Vandag – ja vandag skryf ek vir jou ʼn brief, my lief.

Ek wil stap na niemandsland en jou daar gaan soek, want jy is die man wat net net in my drome leef.

©Marlene Erasmus
28/02/2021

(356 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed