RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 7
HOOFSTUK 7
Die oggend sukkel die roepman nie om Tiny wakker te kry nie. Nadat hy klaar gemaak het en gegroet het vertrek hy met n lied in sy hart loko toe. By die loko kan hy nie vinnig genoeg in die roosterkantoor kom om verlof te vra nie maar kry hy n emmer koue water van die roosteropsteller af: “Hel Tiny nie nou nie. Jy weet dit is vakansie en met die klomp spesiale passasierstreine hier net voor Kersfees kan ek net eenvoudig nie nog spesiale klas drywers verlof toestaan nie. Asseblief Tiny ek belowe jou, eerste week in Januarie kan jy sommer n week verlof vat want mens koop nie huis in drie dae nie. Almal is nou ook vol Kersfees en is dit n slegte tyd. Sit nou verlof in dat ek dit kan goedkeur voordat iemand jou voorspring”.
Tiny moet maar verlief neem en maak soos die roosteropsteller sê voordat hy begin aanstap loods toe waar 3205 in die brekende daglig staan en wag. Stelselmatig ghries en olie hy haar nadat hy sy kosblik gebêre het en toe hy voor haar omstap maak hy seker dat die ronde bord waarop die spoorwegwapen pryk en die woorde “ Sneltrein Oranje, Orange Express om die wapen geskryf is, stewig aan die rookkasdeur vasgeheg is. Oudergewoonte gly sy oë oor alles toe hy inklim en sy sitplek inneem. Stoomdrukmeter naald bewe op 210 kpa, peilglase net onder half. Die meganiese stoker en injekteur is dood stil want die stoom en vuur is reg en toe hy die rem losmaak klim die vakuummeter se naalde na 17 dm. toe. Omsteller word teruggetrek en regulateur so entjie oop dat hulle blasend en sissend kontrolepunt toe beweeg om uit te bel stasie toe.
Toe hulle in die stasie kom is die Oranje snel, met n blinkende 15E, 2878, Bethlehem se standaard trekkrag, besig om die stasie in te trek. Tiny dink weer aan die eklektrifikasiespook want vir die Bethlehem manne is die uurglas vol, die elektrifikasie van die Harrismith Kroonstad lyn is in alle erns aan die gang en raak die tyd kort wat die snel met stoom Kroonstad stasie vanaf Bethlehem sal intrek. Een van die dae gaan dit met 5E elektriese lokomotiewe wees, die stem van stoom op die Bethlehem lyn vir ewig stil.
Dit is ook aankomstyd vir 434, die Oos-Londen Johannesburg snel. Die stasie is dus n miernes van bedrywigheid. Passasiers wat kom en gaan, platformtrekkertjies met hulle sleepwaentjies wat rondjaag om pakkies in die kondukteurswaens op en af te laai, kondukteurs wat aan en afteken en kaartjiesondersoekers wat plekke aanwys vir die opklimmende passasiers. Die stasie kafee se deur gaan kort kort oop en toe soos mense wat n koppie koffie en miskien n pastei daarby wil geniet kom en gaan. Stasiekafees is bekend vir hulle heerlike koffie en pasteitjies wat flink bedien word.
Langs die treine beweeg die verversingswaentjies om aan passasiers eetgoed, drinkgoed en tydskrifte te verkoop. Spoorwegpolisie in hulle bruin uniforms patrolleer die platforms om seker te maak dat alles ordelik gaan.
Omdat die Oranje Snel in dieselfde rigting weer vertrek as wat sy ingekom het moet die kondukteurswa afgehaal word en weer aan die ander ent opgesit word. Die Kroonstad personeel wat die trein verder werk haal altyd die wa af en stoot dit deur die werf vir die rangeerlokomotief deur om weer agter op te sit. Wanneer die kondukteurswa af is gaan koppel die Kroonstad lokomotief voorop om reg te maak vir die rit. Dt is dus n redelike besige tyd van die oggend en moet die seinwagters in die seinhuise bontstaan agter hulle sinjaalrame om al hierdie bewegings veilig te voltooi.
Intussen is die passasiers in die Oranje Snel besig om te ontwaak en beweeg die geklikiklik van die kelners se sleutels van kompartement tot kompartement soos hulle met hulle waentjies deur die gange beweeg om oggend koffie te bedien. Op hulle hakke is die hoofkelner om bestellings vir ontbyt te neem. Hulle voel skaars toe 3205 voor aan die trein koppel.
In die kombuisie van die Drakensberg, die eetsalon, is die kok al van vroeg oggend af bedrywig om al die kelners weg te kry met koffie en is hy nou besig met die voorbereiding van ontbyt in die beknopte ruimtetjie.
Terwyl hulle wag sien Tiny die man met die seuntjie en die dogtertjie met verwondering na die lokomotief staar. Tiny hou van spog met 3205 en met n paar minute te spaar klim hy af en groet hulle vriendelik. Die man vertel dat dit die eerste keer in hulle lewe is wat die tweetjies treinry en n stoomlokomotief in lewende lywe sien. Vandat hulle gisteraand uit Durban weg is was dit nog net elektriese lokomotiewe tot op Bethlehem. Tiny word die tweetjies se held toe hy hulle inhelp om hierdie rasende monster van binne te bekyk. Twee paar kinderogies kan nie genoeg kry van wat hulle hier sien nie.
Tiny en Kosie kry by elkeen n drukkie om dankie te sê toe hulle moet af klim. Pa moet haastig n foto van hulle, saam met Tiny en Kosie, langs n glimmende 3205 neem vir n herinnering aan hierdie vreugdevolle oomblik. Toe moet hulle in die trein gaan klim nadat hulle pa ook dankie gesê het.
Daar vlieg n muggie in Tiny se oog in toe hy vir Kosie sê: “Vandag het ons twee kinderhartjies baie bly gemaak, hulle sal hierdie dag nooit vergeet nie”.
Een minuut voor vertrektyd bel die stasieinspekteur Kroonstad-Noord seinhuis om die trein aan te gee. Die sinjale gaan dadelik op en die kondukteur se groen vlag word deur die stasieinspekteur met sy groen vlag vorentoe gegee.
Kosie erken en die omsteller word vorentoe gestoot, silinderkrane oop en blasend kom 3205 met die Oranje Snel in beweging om stadig die stasie te begin uitgly. Met die eerste blaf deur die skoorstreen word die omsteller op 45 gestel, die silinderkrane toegestoot en die regulateur oopgetrek.
Die spoedmeternaald begin klim en die geklap van die wiele oor die spoorlaste begin versnel.
Die meganiese stoker begin nou kraak om die vuur te voer.
Dit kraak en kners soos die kole gevoer word en die injekteur begin roggel om die klank cresendo van die blawwe deur die skoorsteen aan te vul.
Oor die Valsrivierbrug en langs Gunhill rangeerterreine word met die haastige geklap van wiele verby gestorm met deursinjale by Gunhill-Noord en Gunhill-Suid om die klim Bosrand toe te begin. Vyftien rytuie is n swaar vrag, nie so swaar soos n goederevrag nie, maar word die bank teen n gemaklike pas uitgekom om Bosrand met die haastige geklap van wiele en vinnige geblaf deur die skoorsteen teen 80 k.m.p.u deur te storm. Die rook kolom bly nog lank na die tyd in die lug hang voor dit verdwyn. Geneva en Holfontein volg spoedig en storm hulle Hennenman teen 100 k.m.p.u.
In hierdie tyd is al die passasiers al aan die gang. Sommige staan in die gange en luister na die geklap van die wiele en die geblaf van die lokomotief terwyl hulle die Vrystaat grasvlaktes sien verbygly. Tussen Holfontein en Hennenman skuif ploeënde trekkers in die lande by hulle verby. Die boere is nou besig na die reën om te ploeg want mielieplanttyd gaan nou verby. Dan verstil die geblaf en die remblokke begin op die wiele skree soos Tiny spoed afbring om op Hennenman te stop. In die trein vertel n opgewonde seuntjie dat hy ook eendag n treindrywer gaan word. Sy opgewonde blondekop sussie hou net die voorkant van die trein deur die venster dop om te kyk hoe die koppelstange haastig voor die wiele verbyflits as die trein om n draai gaan. As sy n seun was sou sy ook eendag n drywer wou word.
Op Hennenman word n paar minute gestaan om water te vat en dan is dit weer volspoed vorentoe terwyl die passasiers in die Drakensberg aansit vir n keurige ontbyt wat deur die kelners in hulle wit onderbaadjies bedien word terwyl die landskap verby flits met n geklap van wiele en die haastige geblaf van 3205 vooraan. Whites, Whites-Wes en Kalkvlakte skuif verby en word daar op Virginia gestop om vuur skoon te maak en water te vat teen die agtergrond van mynskagte en mynhope. Dit is waar Tiny hulle weer besoek kry en twee paar kinderoë kom kyk hoe word daar vuur skoongemaak en water gevat. Tiny moet glimlag toe hy die seuntjie hoor sê: “Sjoe gaan sy nie bars van al die water wat sy drink nie”. Dit laat Tiny so terugdink aan sy eie kinderdae toe hy grootoog langs die treinspore gestaan en wens het dat hy al groot is sodat hy n treindrywer kan word. Hulle pa vra Tiny se adres want hy wil graag die fotos wat op Kroonstad geneem is vir Tiny ook stuur.
3205 vat die bank Welgeleë toe gemaklik en is dit weer net ploeënde trekkers langs die spoor afgewissel met troppe skape en beeste in die veld.
Die geblaf deur die skoorsteen duur voort met die injekteur wat gedurig roggel. Vir die mense langs die spoor word die toneel afgerond met rook suile op maat van die geblaf deur die skoorsteen wat in die lug bly hang.
Welgeleë, Theron en Theunissen flits verby en op Vetrivier word weer gestop om vuur skoon te maak en water te vat. Dan is dit die lang trek Bloemfontein toe met net n waterstop op Glen. Die stasies flits verby en drie ure na hulle vertrek uit Kroonstad uit begin die remblokke op die wiele skree om spoed te verminder. Kosie wys een vinger, hulle gaan op platform een in. Langs die spoor hurk die wa en rytuigondersoekers om met hulle langsteel hamers teen die wiele te kap soos die trein stadig verbybeweeg om te luister vir gekraakte wielbande en te kyk vir gebreke.
Vir die passasiers op die platform is dit n asemrowende prentjie soos die blinkskoon 3205 die stasie intrek om n minuut of wat later tot stilstand te kom met die aankondiger se aankondiging oor die luidsprekers: “Aandag asseblief, Attention please. Die Oranje Snel vanaf Durban na Kaapsad het op platform een gearriveer. The Orange Express enroute from Durban to Cape Town has just arrived on platform one”.
Op die lyn langsaan staan een van Kimberley se blink 25NC lokomotiewe om die Oranje Snel verder op sy reis Kaapstad toe te neem. Die rangeerder is dadelik by om hulle los te maak dat hulle kan uithardloop om plek te maak vir die 25NC. Toe hulle terughardloop loko toe deur die lyn langsaan word hulle deur n wuiwende blondekop dogtertjie en haar boetie gegroet toe hulle by hulle rytuig verbybeweeg. Danksy Tiny het hulle vandag grootse oomblikke beleef wat hulle nog vir baie lank sal onthou.
Nadat hulle gaan draai het in die loko en die kolewa weer vol water is beweeg hulle terrein toe om n vrag leë trokke te gaan hak. Nadat hulle gekoppel het is die kondukteur, wat intussen met n kombi van die stasie af gebring is, dadelik by om vir Tiny die vrag aan te gee as 800 vir 160. Haastig begin hy terugstap kondukteurswa toe en kry Tiny n paar minute later n groen vlag van agter af toe hy wegfluit. Die kontrolerangeerder bel die seinhuis om hulle aan te gee en n paar oomblikke later kry hulle sinjale.
Dit is nie n swaar vrag nie en spoedig kuier die spoedmeternaald op 80 k.m.p.u en flits die stasies een na die ander verby, met treine van voor af in reëlmaat, tot hulle op Vetrivier tot stilstand kom om loko te vat.
Met die vuur skoongemaak en die kolewa weer vol water is hulle spoedig weer oppad en stop hulle net op Virginia weer om water te vat en toe is hulle eerste stop Kroonstad noordwerf om die vrag af te hak en loko toe te gaan.
Die rooster is vinnig en teken Tiny af vir drie dries, die alle stasies passasierstrein vir Bloemfontein. Daar sal vinnig gerus en geslaap moet word.
By die huis aangekom aanvaar Maureen maar dat hy nie kan verlof kry voor Januarie maand nie en dat hulle dan eers sal kan gaan huis soek. Sy is immers hierdie tipe teleurstellings gewoond, het groot geword daarmee.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
. . . En jare der jare later wanneer die seuntjie met die blondekopsussie in sy ou fotoalbum kyk wat hy saamgebring het, dink hy terug aan al die stasies waar hy saam met sy pa gekyk het hoe die spoorwegmense in 'n onoorsigtelike gewoel die treine gelyktydig gereedgekry het om verder te ry. En ook hoe hy as student in die vakansie die ou Letsani-kar van Braamfontein na Durban of Mosselbaai as kelner gewerk het . . . La-ank is dit gelede. Dankie vir die hartseer, ou vriend! c];o)___GvT