God se skeppingkeur?
Viooltjies geil in bonte blou
vergeet skoon van die winterkou
papawers weer in sagter kleur
waar wilgers langs die leistroom treur
Maar bergaalwyn het klaar geblom
wag grysgroen weer tot winter kom
en in haar plek blom gousblom geel
met vlindertjies wat oor haar streel
Pampoenblom rys haar stug kordaat
met nerfies-aartjies fyn brokaat
want sy weet sy word ’n pampoen
heerlik ryp deur die son gesoen
Gesiggies toor met keur in prag
klein dié blom wat in kleure lag
en grasang’lier staan stokkerig
rooi gesig na die son gerig
Rosies weer is fluweelsagmooi
en weet Wie’t haar so mooi getooi
sy kokketeer die skone blom
daarom dat bytjies om haar drom
So volg die blomme ry op ry
veelkleurig om ’n plek te kry
en geurvol kleurvol hul te tooi
etse vol kleure al te mooi
(En ek en jy my liewe vriend
is ook in óns iets mooi te vind
wat blom met ned’rig liefdegeur
as tooiing van God’s skeppingkeur…?)
4 Kommentare
-
-
Ina
Baie mooi, ek hou daarvan.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
ek buig nederig voor hierdie gedig... PUIK!!!!