Supermaan
ʼn vuilsilwer strandbal huiwer
oor die horison aan die bopunt
van porterfieldstraat
skynbaar skeenhoogte, slaggereed
om teen die steilte af te bons
tot konsternasie van swenkende voertuie
en verontwaardigde vakansiegangers
maar vir nou hang die strandbal
onmoontlik stil in gestolde tyd
miskien pronkend
vir insta-waardige foto’s
miskien peinsend
oor hoe Kepler en Newton
die oomblik sou neerpen
of ongeërg oor aardse dinge
soos die verkeersligwisseling
wat my ontgaan en die gautengsaluut
in my truspieël terwyl ek
verbysterd na haar skoonheid staar
© Cobus Kruger, 2025
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.