Jongste aktiwiteit:

Uncle en sy birdbook

(Uncle is ‘n ou oom waarmee ek ‘n huis gedeel het. Hy was verwaarloos, weerloos. Eensaam en verlore. Oor ‘n tyd sal ek fotos van hom plaas, met vertellings van hoe ek hom ervaar het.)
Oor hoe groot die voorreg is om iemand in sy laaste, (sal ons praat van maande?) tyd klein vreugdes
te laat mág vind. Vreugdes wanneer ‘n kospakkie vanaf die Welsyn by hom afgelewer word.

Uncle, in wese ‘n “Hermit” en my pad het op ‘n skewe manier gekruis.
Uncle het ‘n kat, of nee, hy het twee. Auntie is die lewende een (lewendig is nie van toepassing nie want sy is al 16 mensejare oud) en dan is daar Gerry, die opgestopte kat. Beide katte is siamees.
Beide het Uncle se blou oë. Baie blou! (Moet geërf wees want Uncle, wat nooit kinders van sy eie gehad het nie, het hul liewer as wat hy
homself het.)
Wanneer Auntie gaan skadu vang gryp Uncle sy Bird Book en daar sit hy.
Blaai van voor tot agter.
Maak oop in die middel en begin praat.
Onsamehangend.
Staan op met sy handgemaakte (sommer gewone stok) kierie en “vat pad”.
Terwyl hy oppad iewers heen is om ‘n voël te “gaan vang”, sonder sy bril waarmee hy in elk geval nie
juis kan sien nie, probeer ek iewers skoonmaak. Ek kyk in watter rigting hy gaan en gee hom so vyf
minute.
Dan is dit die drie “jagters” wat die huis verlaat het. Auntie op jag na skadu, hy na voëls en ek na
hom.
Auntie bly soms in haar skadu agter (of loop soms óf saam met hom óf kom saam met my). Ek loop met mý stok (slange!), ‘n bottel water en volg hom in die algemene rigting waarin hy moontlik kan gaan.
Gister kry ek hom in die vlaktes. Daar is nie juis ‘n boom nie. Van ‘n voël geen teken nie.
Nie eers ‘n kiewietjie wat histeries op hom afstorm nie.
Uncle is totaal gedisoriënteer.
“Kom, kom huis toe en drink die water.”
Hy: “Los my uit en wees versigtig, hier is nou net ‘n trop leeus deur die droë rivierloop”.
Ai, dink ek by myself, hy is soos die weermaglede van destyds, net op ‘n meer vredevolle wyse, totaal
“bossies”.
Die grootste wild wat hier oorgebly het, indien daar wel is, is hasies.
Nie ver van ons af nie is daar ‘n plakkerskamp. Swart, wit, en alle kleure van die reënboog, skreeu
snags op mekaar.
Die hase is sekerlik reeds uitgewis.
Een dag is een dag dan gaan Uncle te ver loop.
Ek wens ek kan al die geillustreerde voëls in daardie boek van hom in denkbeeldige hokke in die huis
ophang.
Vanoggend wens ek die finale Nagtegaal wil maar vir hom ‘n lullabuy kom sing. Want jy sien, Gerry, die opgestopte siamese kat wil nie vanoggend antwoord nie. Hy antwoord nooit nie al hoor Uncle hom.
Uncle het nog nie vandag gaan stap nie – hy sit by sy geliefde “leeu”, met sy blou knopie-blink oë.
Dié weer staar na die deur. Dag in en dag uit – verstard, bewegingloos. Dood.
En Auntie het reeds skadu gaan vang.
Wanneer Uncle opstaan en sy rug op Gerry draai, skuifel, skuifel aankom sitkamer toe dan wonder ek, wonder ek oor die doel van die lewe. Oor sy eensaamheid, hoe hy in die oë van sy familie ‘n
swakkeling, ‘n slegte mens is.
Hoe groot kan die haat van die mens nie wees dat wanneer, selfs wanneer iemand so erg verswak het, hy steeds geïgnoreer word?
Dan kom sit hy en huil met sy stem – ek wil net weet of my broer gesond is. Ek wil nie sy geld hê nie – hy is ál wat ek het. Hoe gaan dit met hom, en dan slaan hy terug op sy Engels, “my niece, why
doesn’t she answer my calls?”
Die hitte dwing ons in ‘n skadu-tronk. Om te dink sy vel is so verwaarloos, so stukkend, juis omdat hy altyd in die son, buite, gewerk het om te kan leef.
Eensaamheid en afsondering is ‘n groter tronk. ‘n Wreder tronk. Genadeloos. In ‘n “straight-jacket”.
Magteloos.
Nou is hy vasgevang in iets wat ons nooit sal verstaan nie, nog minder sal verstaan – tot ons daar is.
Daar, waar dit te laat mag wees.
Kom Nagtegaal.
Fladder jou vlerke, sing jou mooiste wiegelied.
Kom

(Uncle is toe etlike jare later dood, aan ‘n “onbekende siekte”, of, dit is hoe die dokters dit na 16 uur
by ongevalle aan my verduidelik het.
Steven Johnson-sindroom. Dit is iets wat talle mense tydens, of dan, ná die Covid-inentings ontwikkel
het. ‘n Allergiese reaksie vir medikasie. ‘n Groot probleem.
Hy het die dood gevrees – in sy stryd om “die ewigheid” te begryp.
Die beginsel van die Drie-enige God, maar Jesus se sterwe, kon ek nie by hom “in vrede” tuisbring
nie.
Vir hom wat “my Creator” genoeg.
Vir my is dit ‘n groot gelowige stryd dat ek nie daarin kon slaag om die verskil tuis te bring nie. Satan
“create” ook. Ongelukkig is dit wat juis met Uncle gebeur het.
As deel van die Alzheimers, boonop ‘n man wat vir die beste part van sy jare alleen gebly het en
dinge op sý manier gedoen het, was hy ‘n uitstekende manipuleerder.
Omdat ons finansies beperk was, was dit nie altyd moontlik om aan sy fisieke begeertes te voldoen
nie.
In sy vrees vir “die dood” het hy mense begin manipuleer en hulle, in hul, onnoselgeid (?) het hom
geglo en vir hom medikasie begin gee. Dit het aanleiding gegee tot Steven Johnson sindroom – en ek
was die heks wat daarna gereeld die medikasie moes gaan wegvat wanneer die sere weer begin het.
Uncle is toe weggeneem, in een of ander “oord” naby Rayton, Cullinan, geplaas waar daar
voortgegaan is met die medikasie.
Uncle is uiteindelik in ‘n staatshospitaal dood vanweë dehidrasie – sy niere het gaan staan.
Maar, ek kyk terug en sê dankie vir die voorreg wat ek gehad het om hom vir ‘n tydperk te versorg.
Vir die geleentheid om te leer van eensaamheid. Van die belangrikheid van verhoudings.
Van liefde – of dan, die afwesigheid daarvan.
Ek sal oor ‘n tydperk ‘n aantal van die “bloggs” plaas wat ek oor hom geskryf het.
Die hoofdoel – om begrip te vorm vir wat mense nie begryp van eensaamheid nie. Van “trots”, té trots
om te vra. Te smeek. Te bid – vir begrip.
En ek dank my Drie-enige God vir die begrip wat ek aangeleer het.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak