Jongste aktiwiteit:

Uncle en sy Blue Bird of Happiness

Uncle en sy Blue Bird of Happiness

Uncle se beentjies waggel. Die jare van eensaamheid het kom bed maak in sy gemoed. Al die
mooi en sleg het kom dans in sy kop – en soms raak die wysie asook die passies so bietjie
deurmekaar.
So slaap hy deesdae al meer. Oral waar hy plek staan.
Uncle is ongeduldig met homself en ander. Op sy eie manier is hy besig om vir Auntie
“sterwens-begeleiding” te doen.
“Don’t worry my dear, when I a no longer here, there will be someone looking after you”.
Die afgelope naweek was die katkos op. Uncle het boonop ‘n “boskat” “mak” gemaak. Die
gemmerkat slaap buite die huis, in die boom, speel vir ure met duisendpote – oefen vir wanneer
die slange gaan kom. Die katkos hou dus nie meer deur die maand nie.
Katte is Uncle se “sanity”. Sy lewe. Die nuwe kat se naam is Amy. Toe ek hom vra waarom
juis dit, toe sê hy dat Auntie met ‘n “a” begin. Dat ek ‘n “angel” is (?) en dat Amy beteken dat
sy “Creator” vir hom ‘n laaste geskenk gegee het.
“She is my last waltz out of life.”
Verduidelik hy so: “You see Engela, God gave me a last present. It is “A cat for me” from
heaven. It just doesn’t sound right when I use the name differently, hence “my cat………. but it
needs an “a” before it………….I’ve turned it around a little bit.”. He smiles.
Met die dat die kos weer op is, pak ek toe die pad aan dorp toe. ‘n Hele drie kilometers (soontoe) in die
verskriklike warm bosveld son.
‘n Inkopie-sak onder die arm, ‘n bottel koeldrank, tekkies en ‘n sonhoed. Meen ek mos dat die
sak genoeg sal wees. Ek gaan mos net katkos koop.
Toe is dit ‘n heel ander storie en ek kom soos ‘n pakesel terug. Nog ‘n stoorsak onder die ander
arm ek ek moet die balanseer-aksie goed beplan.
Gisteraand het ek vir hom ‘n vleisie en groente gegee. Slaai en vrugtesap. Hy het kompleet ‘n huppel in die stap gekry.
Hy het met groot afwagting buite gestaan en wag vir die katkos wat kom. Dit is natuurlik nádat hy ‘n blik vis uit die kosrak gedêps het en skaam erken het dat hy dit nie oor sy hart kon kry dat die twee katte hom so verlore aankyk nie.
Hoe ontneem mens iemand sy laaste vreugdes?
Vanoggend het hy weer laat geslaap. Heel in kontras met sy gewoonte. Ek het gaan loer en
gehoor hoe hy “sag” met Gerry praat.
“My boy, I have made provision for you. When I die, Shirley (Uncle se broerskind) will have
you cremated and I’ve already bought you a tiny little copper plaque behind which your asses
will be kept.”
Uncle se gesprekke met Gerry neem toe. Nie net in getalle nie. Of intensiteit nie. Dit ook ja.
En natuurlik oor “reminiscing”.
Die gesprekke is so totaal ánders as die met Auntie en Amy – asof ek nie ook soms tel nie.
Uncle praat oor manne-dinge. Bos-dinge. Privaat-dinge.
Dikwels druk ek maar ore toe.
Uncle dink Gerry is so doof soos hy. Praat hard al is dit volgens hom “stil” – sóms, nét sóms, ság
Die selfoon se radio se gehoorstukke met my hande daaroor gedruk help nie altyd om te hoor wat ek nie veronderstel is om te hoor, of dan wíl hoor nie.
Dan is Uncle sommer “difficult” ook. Ek oordeel nie want ek wil wraggies nie weet hoe ék op
daardie ouderdom sal wees nie. Behoede die arme persoon / mense wat na my gaan moet
omsien…….
Praat ek hard dan skreeu ek op hom. Praat ek sag dan hoor hy my nie. Of dínk hy hoor iets wat
ek nie eers oor dekades lank gelede aan gedink het nie.
So kom die gesprek oor blou.
Ek sê ek vertroú sy ou karretjie sal teen dié naweek reg wees. (Soms praat ek aspris Afrikaans
wat sy ou mater is ‘n ware boer van die noorde. Daar van Ellisras se wêreld. Die Ingelse inval amper nog net so relevant as destyds, behalwe dat die ouderdom hul nou hier saamsnoer.)
Uncle “hoor” dat ek praat van John Peerce. Iewers het “reg”, “week”, “wees” by hom die begrip gebring.
Die aantal jare tussen ons is iets wat nie bestaan nie. Hoe is dit dat ek nie die musiek en
vermoëns van dié sanger ken nie.
Uncle onthou, maar hy onthou nie. Noem die woorde van die lied………… iets van happiness.
Ek neem aan dit is wat in sy gemoed aangaan. Hoe “happy” hy sal wees wanneer die grys ou
karretjie hier stop.
Net daar slaan ek my rekenaar op. Google die naam van John Peerce.
So lees ek vir hom álles wat beskikbaar is oor die man.
Hy sit vooroor. Sy bolyf wat amper van die stoel af beur – te bang hy gaan iets mis.
Sekere paragrawe moet ek oor en oor lees.
“I didn’t know thát….”… Hy sit terug, rus teen die rugstuk, kyk op na die lig en luister.
Val my in die rede en vra ek moet weer die vorige stuk lees.
So gaan ons stuk vir stuk aan.
“I didn’t knów that…..” so al asof hy homself kwalik neem oor wat hy nie weet of dan geweet
het nie.
Die klem val telkens op ‘n nuwe woord, “I”, “didn’t”, “know” en dan “that”. Dit word
afgewissel van sin tot sin, elke iedere versoek om die paragraaf te herhaal.
Uncle is in geskokte verbasing dat die stukkie elektronika hom soveel kan leer wat hy in 85
jaar nié geweet het nie.
Hy staan op en wil dat ek hom wys hoe die rekenaar werk.
My moed sak tot my skoensole.
Ek voel na selfmoord deur van my tekkies af te spring.
Op 85 van ‘n rekenaar te wil leer – dit wanneer mens ontken dat jy nie eers behoorlik kan sien
nie, wel, net wanneer dit jou pas.
Maar wie is ek nou om vir Uncle nee te sê?
Dapper maak ek vir hom plek langs my op die bank.
Hy sit. Draai sy liggaam amper asof ‘n stuk sening-biltong.
Sy benerige hande met die vingers wat soos droë wingerdlote daaraan hang, maak omtrent die
skerm toe.
Genade, o genade, ek kry kleintjies. Hy druk met sy vingers op die skerm!
Was dit ‘n kind het ek daardie vingers geraps. Ook nie effens nie. Hard!
Ek sluk ‘n wind. Haal asem, diep. Gaan haal dit daaronder uit waar mens nie van in oordentlike
geselskap oor praat nie.
Ek sien my Indoblok op die kabinet staan en voel hoe die angsaanval begin.
Moord. Selfmoord.
“Can this machine give us the word of the song? I forgot it. It is such a beautiful song and one of the most beautiful songs of “my” years”. (Hy lê klem om “my”, asof hy nou onthou dat ek
nog ‘n kind is teenoor hom.)
Yes Uncle, it can.
“Show me.”
‘n Oomblik van stilte, “I can’t believe it. Such a small little thing that can do so much. It is like going to school again. It just gives so much more. I doub’t it if any of my teachers at Kingswood College would ever have been able to teach us só much.”
Ek vind die lirieke. Wil dit vir hom op die skerm wys.
“No my child. Read it for me. I want to picture it as I did in my youth when he sang it.” Hy rus
met sy kop teen die leuning. Sy gesig opwaarts gedraai en ek wonder of die “light-saving bulb”
vir hom so helder skyn, asof die son.
Sy gesig word sag en met elke woord wat ek lees sing hy stukkies saam.
Hy moes ‘n wonderlike stem gehad het. Iets laat my inmiddels na my pa verlang.
Elke woord lees ek met ‘n opwoelende traan wat ek dapper probeer wegsluk.
Vier mense van my kinderjare se koor is reeds weg. Pa, Ma, Frans en Japie. Die twee ander
oorblewenes se lied het vals geword.
Ook Uncle het ‘n broer wie se lied ‘n ander wysie ingeslaan het. Die tenoor en bas se harmonie bestaan ook nie juis meer nie.
Een van ouderdom. Van pyn en swak gesondheid.
Een van verliese en weerloosheid.
Mens bid dat die ouderdom wysheid bring. Eenheid. Begrip en en aanvaarding.
Soos Peerce se lied……….
The beggar man and his mighty king are only diff’rent in name,
For they are treated just the same by fate.
Today a smile and tomorrow tears,
We’re never sure what’s in store,
So learn your lesson before too late……………………..
Vervolgens die skakel na die lied.
http://www.allthelyrics.com/lyrics/art_moony/bluebird_of_happiness-lyrics-
450656.html#ixzz3wJSDJS




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed