Jongste aktiwiteit:

SOLANK AS DIE RIETJIE

SOLANK AS DIE RIETJIE

 

Geskryf deur Fanus Strydom

1473 woorde

 

 

 

“Wat maak jy, my kind?” vra ma toe sy by die kombuis instap.

“Ek skil ʼn pynappel…” antwoord ek sonder om op te kyk. Die mes was te skerp vir my om die kans te waag om een, of dalk twéé vingers af te sny as ek nie mooi kyk wat ek doen nie. En die pynappeldorings het soos nete geklou aan die ding se dik, growwe skil.

“Waar kry jy die ding?” wil ma weet en kom staan agter my skouer.

“Ek het hom gekoop by oom Porra se winkel.”

“Wanneer?”

“Netnou…?”

“Met watse geld?”

Sy trek my liggies aan die oor om haar in die oë te kyk. Ek sit die mes versigtig langs my halfverminkte pynappel neer en kyk op na haar.

“Met my spaargeld.”

“Nou hoekom dan?”

“Want juffrou Jordaan het gesê ons moet pynappel eet voor ons gaan sing vanaand.”

“O…?” wil ma meer weet.

“Sy sê dit help om mens se stem helder te maak en om die hoë note makliker by te kom.”

“Okey…?” sê-vra ma en draai om wasbak toe: “Moet ek jou help?”

“Nee dankie, mamma. Ek’s oraait.”

“Pasop net vir jou vingers, asseblief! Daai mes is baie skerp.”

“Ja mamma…”

 

Juffrou Jordaan het gesê ons moet die pynappel so uur voor ons gaan sing eet, so ek loer elke nou en dan gou by die kombuis in om te kyk waar staan die horlosie bo die stoof se uurwyser. Die kunswedstryd begin sewe-uur, so presies vyf minute voor ses glip ek skelm om die hoek van die huis met my bak gesnyde pynappelstukke. Ek het dit in die yskas gesit vroeër en dis nou lekker yskoud en sappig op my tong. Ek stop gretig die stukke by my kieste in en kou toe-oog aan die suur, ysigheid op my tande. Dan skud ek versigtig die taai sap van my hande af om nie op my skooluniform te mors nie. Ma sal my doodmaak! Tessa lek die laaste paar druppels taaiigheid tussen my vingers uit en ek gee vir haar ook ʼn lekker groot stuk:

“Nou gaan jy mooi kan blaf!” vryf ek my hande droog op haar kop en sy waai haar stert opgewonde.

 

“Fanus, kom eet gou-gou ʼn broodjie voor ons ry…!” roep ma van die agterdeur af.

“Nee dankie, mamma.” antwoord ek toe ek by die kombuisdeur instap.

“Is jy nie honger nie?”

“Nee mamma.”

“Maar jy kan mos nie op ʼn leë maag sing nie, my kind.”

“Eks oraait, dankie mamma.” sê ek en stap by haar verby kamer toe.

“Noumaar borsel gou jou tande en kam jou hare. Pappa wil amper ry.”

“Ja mamma.”

 

Toe ek my tande borsel verbeel ek my dat die tandepasta nie so erg brand as gewoonlik nie, maar ek steur my nie te veel daaraan nie. “Dis seker maar van die pynappel…” dink ek, terwyl ek op my tone staan om my hare glad gekam te kry in die spieël bo die wasbak.

Juffrou Jordaan het ons die dood voor die oë gesweer as ons nie netjies lyk nie! Maar dit was gladnie nodig nie, want sy ken nie my ma nie! Sy sal nooit in der ewigheid ʼn kind van haar by die huis laat uitgaan as hy nie netjies lyk nie. Veral nie vir ʼn groot geleentheid soos sy eerste koor-kunswedstryd nie!

 

“Is jy opgewonde?” vra pa toe ons in Pretoriusstraat afry oppad Stadsaal toe.

“Uh-huh….” antwoord ek en vryf oor my lippe.

“Wat’s fout…?” kyk pa na my in sy truspieëltjie.

“Niks.” sê ek en druk my dooie lippe teenmekaar.

“Niks wie…?” vra ma kwaaierig en kyk om na my.

“Nuks phôppha …” antwoord ek benoud en kyk vaagweg terug na ma deur  dikgeswelde oë.

“O, my genade!” sê ma en staar geskok na my met haar hand voor haar mond. Dink ek, want ek kan nie meer so lekker sien deur my toegeswelde oë nie!

“Wat nou?” wil pa weet en soek weer na my in die spieëltjie.

“Die kind…!” gil ma benoud. “Kyk hoe lyk hy!”

Pa vat ʼn kans en draai vinnig om in sy sitplek om my onder oë te kry.

“O my magtag, ma…wat’s fout met die kind?!”

“Ek weet nie…!” antwoord ma bekommerd en leuen agteroor om met haar hand teen my voorkop te voel.

“Het hy koors?” wil pa weet en begin wonder of hy moet omdraai dokter toe.

“Nee…?” sê ma en kyk indringend na my.

“Ek dink dith die pynapphel…” sê ek tranerig deur dikgeswelde lippe.

“Hoeveel het jy geëet?!” wil ma weet.

“ʼn Hele een…” antwoord ek dikbek.

 

“Diksie is van uiterste belang!” het Juffrou Jordaan ons vir oulaas gister gemaan. “Dit kan die verskil maak aan wen, of verloor…”

“Wat is “diksie”, juffrou?” wou Susantjie Vermaak grootoog weet.

“Dit is die manier waarop mens jou lippe gebruik om die woorde te vorm wanneer jy sing.” het juffrou Jordaan verduidelik. “Sang is baie meer as net geluide maak!”

Sy het reg voor ons kom staan en met haar vinger na haar eie mond beduie:

“Kyk: jy moet die wóórde só met…jou…lippe…vorm, tewyl jy sing.”

Sy het haar lippe rubberagtig uitgerol en agter haar kakebeen aan laat trek, “anders klink en lyk julle soos ʼn klomp platbekpaddas!”

Ons het almal ons monde begin tuit en dikterend agter haar aangesê:

“Soo….lánk as die ríétjie in die wááter staan….in die wááter staan…!”

“En gebruik julle kakebene, kinders. Julle kakebene!” het sy tussen ons deurgestap en hier en daar na iemand se kop gedreig met haar liniaal.

“Julle doen dit mos alewig in die klas as ek my rug op julle draai, so moet nie more-aand skielik skaam wees om dit te doen nie.”

“Jôô juffrou…” het ons rondebek en oop-kakebeen belowe.

 

Nou staan ons netjies in gelid op die verhoog van die Stadsaal voor al die ma’s en pa’s en boeties en sussies en oupas en oumas van al die skole in ons kontrei. Gereed en oorgehaal om ons liedjie vir die kunswedstryd te sing. En voor die onvriendelike beoordelaars in die voorste ry…

 

Ma het by juffrou Jordaan gaan pleit om my asseblief tog nie te diskwalifiseer van deelname, as gevolg van my opgeswelde toestand nie.

“Hy’t so hard geoefen aan die ou liedjie…” het sy verduidelik.  “En ek het hom self gehelp op die klavier.” Sy het gehoop om Juffrou Jordaan vir oulaas te beïndruk met ons familie se diepgewortelde, musikale talent. Maar, juffrou het onwrikbaar vas bly steek:

“Die kind kan skaars ʼn geluid uitkry…!” het sy hoogdrawend voor almal teenoor ma geprotesteer. “En kyk hoe lyk hy!”  Sy sou nie toelaat dat een kind haar kanse op sukses, en die van die ganse skool, op die spel plaas nie.

Dis toe dat pa besluit dis tyd om op te tree. Hy kom staan vierkantig voor haar:

“Die kínd…” sê hy en trek my onder sy elmboog in, “kan nie ʼn geluid uitkry nie, want die júffrou…”

Hy tik dreigend met sy vinger teen haar bors, “het gesê hy moet pynappel eet om sy stem te verbeter!”

“Maar ek het nie bedoel ʼn hele pynappel nie!” probeer sy verbete keer en gee verskrik een tree terug.

“Dan moes jy so gesê het…!” gee pa een tree vorentoe.

Agter ons begin ʼn paar ma’s en pa’s instemmend hande klap.

 

Gelukkig vir my was ek nie skaam vir Susantjie Vermaak nie, want ons was boesemvriende en het ek nie omgegee dat sy my hand vashou en my by die verhoog oplei agter haar aan nie. Alhoewel ek nie veel kon sien nie en hoegenaamd geen geluid kon uitkry nie, het ek op my beste gedikteer, terwyl die res van die koor hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het met kristalhelder stemmetjies, rubberkakebene en rollende oë:

 

“Solánk as die rrríétjie in die wwwáter staan….in die wwwáter staan, in die wwáter staan..!”

 

Toe ons terugstap kar toe, kom een beoordelaartannie na ma toe en vat haar liggies aan die elmboog.

“Verskoon my, mevrou…” sê sy en wys na my. “Is dit jou seuntjie?”

“Ja.” Sê ma trots.

“Haai weet jy,” koer die tannie. “As dit nie vir sy prágtige diksie daar in die heel voorste ry was nie, sou die ou koortjie nooit die goue medalje gewen het nie. Ons kon behoorlik elke wóordjie op sy gesiggie sien!”

Ek voel hoe pa my oor my kop vryf.

Dan hoor ek die tannie sê:

“Ekskuus tog dat ek vra, maar is hy al van geboorte af blind…?”

Ma kyk vir pa en begin hardop lag:

“Nee, net van omtrent sesuur vanmiddag af!”

Pa sit sy arm om my skouer en sê:

“Kom ons gaan huis toe.”

 

Agter ons lig die tannie haar vinger, asof sy nog iets wil vra, maar laat sak dit dan weer, want sy is skielik nie heeltemal seker wat nie…

 

 ©Fanus Strydom

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak