My grootste verleentheid
My mens, was dit nou vir jou ‘n gedoente? Ek het altyd geweet hierdie koorsingery is nie vir my nie, maar nee, ek laat my mos deur ander ompraat. Nooit sal ek weer my gesig in die openbaar kan wys nie.
Dit alles het met ‘n weddenskap begin. Piet ken my en hy weet hoe vinnig ek op my senuwees kan raak tussen mense wat ek nie ken nie, en wanneer ek op my senuwees raak, gaan ek mos aan die sing. Dis nou nie gewone sing nie, opera sing, daardie sing wat die hoogste moontlike noot gaan haal en dan word daardie noot mos aangehou tot my asem uit is. Al moet ek dit nou self sê, ek het nogal ‘n lang asem en ek kan ‘n hoë noot vat. Per geleentheid het ek in my senuweeagtigheid ‘n glas laat bars. Miskien is dit die rede hoekom Piet gedink het die singery sal my goed doen.
Maar laat ek terugkeer na die begin. Toe juffrou De Jager mos aan die begin van die jaar vra wie wil koorsing, daag Piet my uit om vir die oudisie te gaan. Eers wou ek nie, maar ek ken tog die juffrou goed en nie een van die kinders is aan my onbekend nie. Juffrou De Jager is ook een van die juffrouens in wie se geselskap ‘n mens gemaklik voel. Dus het ek niks gehad om te vrees nie, senuweeagtig sou ek darem seker nie raak in haar teenwoordigheid nie. Geduldig, maar met sweterige hande, wag ek my beurt af. Ek was nie in die minste op my senuwees nie en slaag toe die oudisie loshande. Daarna het ek elke dag getrou gaan oefen, want ek wou seker maak dat ek elke noot op die regte plek inval. Ek het selfs saans voor myself in die spieë geoudisie. Hoe meer seker ek van myself geword het, hoe minder was die kans om senuweeagtig te raak.
Die eerste lied in ons repertoire was toe DIE STEM, van Nkosi Sikele tot by “ons vir jou Suid-Afrika”. Baie gou het ek dit baasgeraak en ek was baie seker van my saak met die sing en die uitvoering van die lied. Ons het nog ‘n paar ander goete, meer ligsinnige goed, ook geoefen, maar ons het die meeste klem gelê op die sing van die Stem. Hoe verder die oefeninge gevorder het, hoe meer op my gemak het ek gevoel. Om een of ander rede moes juffrou De Jager gedink het my stem is iets besonders, want sy het my eendag na afloop van ons oefensessie gevra of ek dit nie sou wou oorweeg om die laaste strofe van die Stem tydens ons optrede in die skoolsaal met die oueraand solo te doen nie. Ek het eers nie kans gesien nie en baie hard protesteer, en gerebelleer, maar sy het my verseker dat dit baie goed gaan sou gaan. Ek moes net op my woorde fokus en haar stip in die oë kyk tydens die uitvoering. Sodoende sou ek nie deur ander ontsenu kon word nie. Juffrou het gesê sy vertrou niemand anders met die sing van die solo nie. Dit het my nogal goed laat voel en dit het my geinspireer om die aanbod te aanvaar. So begin daar toe ‘n baie spesiale en persoonlike oefensessie saam met Juffrou. Sy kon aanvoel wanneer ek gespanne raak en dan het sy geweet hoe om na my te kyk en hoe om haar gesig te trek om my fokus terug te kry. En so breek die groot oomblik toe aan. Van die onderwerpe onder bespreking tydens die oueraand het ek nie veel ingeneem nie, want die hele tyd was die optrede en my solo in my agterkop. Dit sou na afloop van die oueraand gebeur. Toe die ouers ons, en veral vir my, na die tyd ‘n staande ovasie gegee het, het ek geweet die ys is gebreek. Alles het beter as verwag afgeloop en my selfbeeld het ‘n goeie hupstootjie gekry. Oornag het ek ‘n sangsensasie geword en ek kon Piet nie genoeg bedank dat hy my aangemoedig en uitgedaag het om koor te begin sing nie.
Toe gebeur twee weke gelede. Ons, en spesifiek my vertolking, van die Stem, het soveel opslae gemaak dat die dorp se kunsvereniging ons uitgenooi het om tydens die jaarlikse munisipale dinee in die stadsaal te gaan sing. Natuurlik kon dit net gebeur as ek die solis sou wees. Ek was baie opgewonde. Na my sukses van die afgelope tyd en die aandag wat ek veral van die meisies in my klas gekry het, sou niks my kon keer nie. Buitendien was ek en juffrou De Jager ‘n gedugte span. Die stadsaal was die aand volgepak met bekendes en onbekendes en dit het my baie senuweeagtig gemaak. Ek is badkamers toe om my senuweeagtigheid weg te sing en later by die groep aangesluit. Ek het besluit om net voor my te kyk en nie notisie te neem van almal in die stadsaal nie. Dit het nogal gehelp.
Uiteindelik het die tyd aangebreek en die koor is vorentoe geroep. Maar waar is juffrou De Jager? Ek het soos ‘n besetene rondgekyk, maar kon haar nêrens gewaar nie. Sonder haar sou ek dit nie maak nie. Ek moes in haar oë kyk terwyl ek sing. Toe kom die aankondiging van die seremoniemeester wat die res van die aand, en my toekoms, in ‘n nagmerrie laat ontaard het.
“Die afrigter en begeleier van die koor, mevrou De Jager, moes ongelukkig verskoning aanteken, aangesien sy laatmiddag ‘n redelike ernstige maagvirus opgedoen het. Ons verwelkom meneer Klaasens wat haar vanaand hier verteenwoordig.”
Ek het gevoel hoe ek in die grond wegsink, maar wat kon ek doen? Almal se oë was op my. Ek moes net deurdruk. Ek het my oë probeer toeknyp om niks te sien nie, maar dit het niks gehelp nie. Wel, wonder bo wonder het alles redelik goed afgeloop, maar toe ek daardie laaste paar woorde sing begin my stem al hoër gaan en toe haak my stem vas op die -ka van Afrika, seker dertig sekondes lank… en al die ruite in die stadsaal breek. Nooit ooit weer waag ek my aan enige lied nie, nie eens in die stort nie.
©HENNIE
1040 woorde
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2023 BLOU projek