Die geheim van die woud
Eendag was daar ‘n arm man en sy vrou wat in die woud gebly het met twee kinders, die een kind se naam was Klaas en die ander een Hermien. Een aand besluit die man om sy kinders in die woud in te vat en hulle daar te los, dis te moeilik om vir almal te sorg. Hy sal dit doen sonder dat sy vrou daarvan weet, hy sal wag tot sy slaap.
Hy was hulle stiefpa, en het nie baie van die kinders gehou nie, hulle was vir hom net ‘n oorlas en ‘n ekstra uitgawe. Laat daardie nag maak hy die kinders wakker, hy jok vir hulle, en se hulle gaan ‘n ent stap. Toe hulle verby die kombuis loop gryp Klaas ‘n stuk brood en druk dit skelm in sy sak, sonder dat sy stiefpa dit sien. Klein Hermien, huil sy wil nie uitgaan in die donker nie sy is bang.
“Moenie bang wees sussie, ek sal jou hand styf vashou.Ek het ‘n briefie geskryf vir mammie en dit in haar rok se sak gesit, sy sal weet waar ons is.”
Tot diep in die woud het hulle geloop, hier en daar het Klaas ‘n stukkie brood afgebreek en dit in die paadjie gegooi, hy vertrou nie sy stiefpa nie. Hy sal dan die stukkies brood volg en so sal hy en sy sussie dan nie verdwaal nie. Hy ken nie die woud so baie goed nie, en om die huis te kry gaan moeilik wees veral in die donker. Hermien het kort-kort gesnik.
“Sjuut! Bly stil jy gaan dat die wilde diere ons hoor, en ons vang en opvreet!” skree die stiefpa vir haar.
Sy klou haar boetjie se hand styf vas, haar ogies kyk bang rond. In die nag lyk alles anders in die woud, die takke lyk soos lang vingers wat hulle wil gryp. Skielik gil sy weer, en ruk haar handjie los uit haar boetie sin, en hardloop die woud dieper in. Klaas hardloop agterna, hy vergeet skoon van sy stiefpa. Heelwat later kry hy vir Hermien, sy sit onder ‘n groot ou boom en snik verdrietig.
“Toemaar, moenie bang wees nie ek hoop ‘n groot leeu vang daai stiefpa van ons, hy is ‘n nare ou man. Mamma het gesê ek moet altyd mooi na jou kyk, en jou veilig hou.”
Die volgende oomblik hoor hulle ‘n aaklige geskree van iemand, en ‘n leeu wat hard brul. Hulle kyk verskrik na mekaar en klim hoog in die boom op. Hulle sien hoe die leeu hulle stiefpa vang, Klaas druk sy sussie se oë toe, en hy kyk weg. Later toe alles stil word, klim hulle af en hardloop so vinnig soos wat hulle kan. Hulle hardloop vir ure tot dit lig word, uitgeput gaan sit hulle langs ‘n stroompie en drink van die water. Daar is nog ‘n stuk brood in Klaas se broeksak, hulle eet dit vinnig op.
“Ek wil huis toe gaan Klaas, na mamma toe. Ek is honger en moeg, en wil slaap in my bedjie. Waar is ons?”
“Ons sal nou-nou by die huis wees Hermien,” maar Klaas weet hulle het verdwaal.
Twee dae dwaal hulle in die woud, hulle is baie honger. Iewers teen ‘n berg sien hulle ‘n klein huisie, daar kom rook uit die skoorsteen. Hulle hardloop soontoe, en sien ‘n ou tannie met swart klere en ‘n skerppunt hoed op haar kop, sy is besig om buite met ‘n gras besem te vee. Sy het die mooiste huisie wat hulle nog ooit gesien het, die huisie is vol van lekker eetgoed. Oral teen die mure hang lekkers, al die soorte koekies. Hulle lek hulle lippies af, hulle sal wag tot die ou vrou in die huis is dan sal hulle van die sweets gaan steel. Hulle ma het altyd gesê hulle moet oppas vir die ou vrou met die swart klere sy is ‘n heks en vang kinders. Sy gooi hulle in ‘n groot pot en maak sop van hulle.
Stadig kruip hulle nader, daar is so baie lekkers hulle prop hulle sakke vol. Min weet hulle die ou vrou hou hulle dop deur die klein venstertjie, en sy grynslag terwyl sy vir hulle kyk. Die volgende oomblik, vlieg die deur oop en sy gryp vir Hermien aan haar arm, en trek haar die huisie binne. Klaas skrik so groot, hy storm agterna maar die deurtjie is gesluit. Hy hoor hoe gil Hermien binne in die huisie, hy moet haar red en vinnig ook. Hy sal wag tot die heks weer by die deur uitkom dan skelm inglip, sy moet tog een of ander tyd weer uitkom. Hy loer deur die venstertjie se gordyne en sien sy gooi Hermien in ‘n groot kas, en sit ‘n slot aan die deur.
‘n Paar ure later kom die heks uit en Klaas glip in, hy gaan kruip onder ‘n groot tafel weg. Hy sal wag tot sy slaap vanaand, haar dan vasbind en sy suster uit die kas uithaal. Intussen eet hy van al die lekkers in sy sak, en ook van die koekies. Die heks se kat loer vir hom onder die tafel en blaas, Klaas jaag hom gou weg voor die heks terugkom. Die kat skrik so groot hy spring deur die venstertjie en hardloop weg. Toe die heks slaap, kruip hy onder die tafel uit, die groot ou sleutel van die slot is op haar bedkassie. Saggies stap hy nader en vat die sleutel, die heks kreun en snork verder. Klaas wonder waarmee gaan hy haar vasbind, netnou toor sy haarself los en vang hom ook, dink hy. Hy haal haar swartpunt hoed van haar kop af, want sonder dit het hy al gehoor het hekse nie toorkrag nie.
“Hermien, roep Klaas saggies by die kas se deur, ek is hier moenie skree nie ek gaan die slot oopsluit.”
Sy was vreeslik bly toe sy uit daai donker kas kom, sy gryp haar boetie om sy lyf, en lag opgewonde. Met die word die nare ou heks wakker, Klaas en Hermien duik agter die bank in en sien hoe die heks die oond se deur oopmaak. Sy maak ‘n groot vuur en sit ‘n groot swart pot op die stoof se plaat. Sy skil ‘n paar soorte groente, en gooi nog ander aaklige goed daarin, sy roer dit met ‘n groot houtlepel. Daar is geen manier om te ontsnap nie, al die vensters en deure is gesluit. Na ‘n rukkie begin die water kook in die groot pot, die heks loop na Klaas en Hermien en trek hulle agter die bank uit.
“Julle twee gaan nou in daai pot gegooi word, ek gaan lekker sop van julle maak. Ek is al lankal lus vir lekker kinder’sop, dis lekker vars en dit gee my nuwe krag.”
Sy lag uit haar maag, en haar ogies blink van opgewondenheid. Sy gryp Klaas eerste, die oond se deur is wawyd oop. Hy voel hoe warm is die vuur daarin en dink gou ‘n plan uit om die heks te uitoorlê.
“Wag! Skree hy, ek dink daar is te min water in die pot jy wil seker nie verbrande sop eet nie.”
Die heks loop na die pot en loer daarin, die volgende oomblik stamp Klaas haar in die groot oond in, en maar die deur vinnig toe. Die nare heks gil van die pyn toe sy in die vuur verbrand. Haar toorkrag is te min om haarself te bevry, en sy brand dood. Die kinders gryp die sleutel sluit die deur oop en hardloop die woud in. Toe hulle terugkyk sien hulle hoe die hele huisie afbrand, gelukkig sal die nare ou heks nooit weer kinders kan vang om sop mee te maak nie.
Klaas het die paadjie gou gevind waar hy eergister die broodstukkies gegooi het, en nie lank of hulle kry hulle huis. Sy ma was baie bly om hulle te sien, sy het bietjie gehuil toe sy hoor ‘n leeu het hulle stiefpa opgevreet. Maar nadat Klaas haar vertel het van sy nare plan om hulle in die woud iewers alleen te los, was sy ook bly hulle is ontslae van hom. Hermien vertel haar van die heks, sy kon nie glo dat haar seun so dapper was om die heks in die oond in te stamp nie. Sy was baie trots op Klaas. Klaas het ‘n sak vol goud gegryp in die heks se huis toe hulle ontsnap het. Sy ma het vir hulle ‘n mooi huis gebou, en hulle het vir die res van hulle lewe in weelde geleef.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek